Op reis deur Europa: Die Rype Ouderdom

Die Rype Ouderdom (Foto: Thomas Dreyer)

Thomas Dreyer en sy vrou, Retha, het (met ʼn baie beperkte begroting) deur Europa gereis. Hulle is oorspronklik van Pretoria.

Deur Thomas Dreyer

Ons maak die eerste keer kennis met Camille in die Orsay-museum in Parys. Eintlik het Auguste Rodin ons aan haar voorgestel. Auguste het ons toe al geken, want wie ken nie vir Auguste nie? Die beroemde Franse beeldhouer en skepper van “Die Denker”.

Rodin het Camille ontmoet toe sy as 20-jarige student in 1884 deur haar mentor, Alfred Boucher, aan Rodin voorgestel is. Sy en Rodin, wat toe al ‘n bekende beeldhouer en 44 jaar oud was, het onmiddellik aangetrokke gevoel tot mekaar en sy het in sy ateljee begin werk as leerling, model en minnares.

Vir die volgende agt jaar het hulle só saamgewerk. Rodin het nog steeds by sy eerste vrou, Rose Beuret, gebly. Hy was al vir 20 jaar in ‘n verhouding met haar. Deel van dié tyd het hy en Camille in die Chateau de L’Islette in die Loirvallei gebly en gewerk.

In 1892, ná ‘n aborsie, het Camille haar verhouding met Auguste beëindig. Hy wou nie van Rose afsien nie, alhoewel hy en Camille mekaar nog gereeld tot in 1898 gesien het.

Camille het as beeldhouer ‘n opdraande stryd gehad. Met die uitsondering van haar pa, het haar gesin haar nie ondersteun nie. Haar ma, ‘n streng Katoliek, het haar leefwyse afgekeur en haar jonger broer en suster was jaloers op haar.

Sy is as vrou nie toegelaat om aan die beste Paryse kunsskool te studeer nie en later moes Rodin haar help om van haar werke verkoop te kry. As vroulike beeldhouer het sy nie baie opdragte gekry nie.

Haar werke het ‘n eie unieke styl gehad met implisiete seksuele ondertone. Gevolglik het sy gesukkel om ‘n lewe as kunstenaar te maak.

In 1898 begin sy werk aan “Die Rype Ouderdom”, die beeld van haar wat nou in die Orsay-museum is. Dit beeld haar, Auguste en Rose uit.

Auguste wat haar, die jonger vrou, verlaat vir Rose, die ouer vrou. Dit beeld haar hunkering na Auguste uit, sy wat uitstrek na hom. Maar die breuk het gekom en die ou man Auguste word deur ‘n ou verrimpelde Rose vasgeklou.

Nadat Rodin die beeld vir die eerste keer in 1899 gesien het, was hy só woedend dat hy alle kontak met Camille verbreek het en haar nooit weer gesien het nie.

Op 3 Maart 1913 sterf haar pa, haar getroue ondersteuner. Die gesin hou dit vir haar stil. Sewe dae later laat haar broer haar opneem in ‘n inrigting vir geestelike versteurdes. Daar sou Camille bly tot haar dood 30 jaar later.

Die Eerste Wêreldoorlog breek uit en Camille word saam met ander pasiënte verskuif na ander hospitale. Verskeie kere verklaar die dokter en die hospitaal haar gesond en versoek haar familie om haar te kom haal. Hulle ignoreer die skrywes.

Van haar studentevriende wat haar besoek het, het verklaar dat sy niks makeer nie. Gedurende die 30 jaar wat sy in die inrigting sou bly, het haar broer haar sewe keer besoek, haar suster een keer en haar ma nooit.

In Februarie 1917 trou Auguste Rodin met Rose Beuret enkele weke voor Rose se dood. Op 17 November 1917 sterf Auguste en word saam met sy vrou op sy plasie by Meudon buite Parys begrawe. Bo-op sy graf staan “Die Denker”.

Camille sterf in die inrigting in die middel van die Tweede Wêreldoorlog op 19 Oktober 1943. Sy word begrawe in Monfavet, maar later word haar graf opgegrawe en word haar oorskot saam met die beendere van armlastiges in ‘n massagraf by die inrigting begrawe.

Ons besoek Rodin se graf wat nou deel van die Rodin Museum is in Meudon. Dit is ‘n gewilde toeristebestemming. Baie moeite is gedoen met die museum wat vanjaar Rodin se 100ste sterfdag herdenk.

Die Rodin Museum huisves ook van Camille se werke in Meudon. In die Orsay-museum is haar beeld “Die Rype Ouderdom” wat ‘n kritiese moment in haar lewe dramaties uitbeeld.

Vir haar is daar nie ‘n graf om te besoek nie …

Lees alle vorige berigte oor Thomas en Retha Dreyer op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Eish ·

So n pragtige en hartseer verhaal. Indien ek ooit die voorreg het om Europa te besoek, wil ek eers al jul wedervarings deurgelees het sodat ek na bekende plekke kan gaan. Ek geniet jul rubriek terdeë. Baie dankie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.