Op reis deur Europa: Die Verjaarsdag

Rome (Foto: Thomas Dreyer)

Thomas Dreyer en sy vrou, Retha, is besig met ʼn reis (met ʼn baie beperkte begroting) deur Europa. Hulle is oorspronklik van Pretoria.

Deur Thomas Dreyer

Ons is die oggend op pad na die ou Joodse ghetto in Rome en klim af by die Circo Massimo-metrostasie. Op pad na die ghetto moet ons verby die Circus Maximus stap.

Die Circus Maximus was in antieke Rome ‘n lang ovaal renbaan vir strydwaens. Vandag is dit ‘n kaal stuk grond met wilde gras en ‘n gegruisde voetpad in die middel. Weerskante is graswalle waar hedendaagse Romeine sommer net in die son sit en kuier.

Terwyl ons padlangs verby stap, sien ons mense wat uniforms van antieke Romeinse soldate aan het. Ons stap nader. Dit is tyd vir foto’s neem! Nadat ons foto’s geneem het, stap ons verder al langs die Circus Maximus. Aan die oorkant is ruïnes van Keiser Augustus se paleise.

Verder op in die straat is daar nog mense met kostuums van antieke Romeinse soldate aan. Weer stap ons nader. Onder in die arena is Romeinse tente opgeslaan. In ‘n afgesperde area is nog groepe met uniforms van verskillende Romeinse regimente aan.

By die inligtingstent vind ons uit wat aangaan: dit is 21 April, Rome se verjaarsdag. Rome is in 753 v.C. gestig en is vanjaar 2 770 jaar oud. Elke jaar op 21 April vier die inwoners van Rome sy verjaarsdag.

Om die verjaarsdag te vier, beeld die inwoners uniforms en kleredrag uit die verskillende tydperke van Rome se geskiedenis uit. Van die ou antieke tyd tot en met die tyd van keisers Augustus en Nero.

Thomas en Retha Dreyer in Rome

Die toeskouers word sommer gou meer. Op die wal is ‘n luidsprekerstelsel wat (Romeinse?) marsmusiek uitsaai. Binne in die afskorting kom die verskillende groepe met hulle groot verskeidenheid kostuums bymekaar.

Daar is Romeinse soldate met rooi uniforms en blou uniforms, met helms en pluise op, met swaarde en skilde. Daar is vroue met tipiese Romeinse kleredrag en haarstyle en mans wat soos Romeinse senatore aangetrek is. Selfs iemand in ‘n wit kleed wat keiser Augustus voorstel.

Toe al die groepe bymekaar is, begin die prosessie straat af beweeg na die Tiberrivier toe, dan verby die Victor Immanuel-monument na die Kolosseum toe en dan weer terug na die Circus Maximus toe om die sirkelroete te voltooi.

By die Victor Immanuel-monument word ‘n krans gelê. Dit is ‘n kolossale marmermonument in die middel van Rome met pragtige spuitfonteine en is gebou ter ere van Italië se koning Victor Immanuel II. Hy was koning van ‘n verenigde Italië van 1861 tot 1878 en die Italianers noem hom “die Vader van die Vaderland”.

Die viering van Rome se verjaarsdag vind altyd op ‘n Saterdag plaas. Die strate is vol mense en musikante maak oral musiek (en bedel vir ‘n fooitjie) en die moderne Romeine drentel sommer net deur die strate. Ons plan om na die Joodse ghetto te gaan, is vergete.

Rome (Foto: Thomas Dreyer)

Terug by die Circus Maximus gaan die feesvieringe voort. Swaardvegters veg kamtig teen mekaar in die arena. Vroue in lang rokke dans op die maat van klassieke Romeinse musiek.

Dit is ‘n kleurvolle geleentheid met al die verskillende regimente se veelkleurige uniforms en die vroue se lang volkleur rokke. Mense sit op die graswalle en kyk aandagtig na alles.

Teen laatmiddag besluit ons dit is tyd om huiswaarts te keer. Ons is moeg en rooi gebrand deur die son.

Dors en honger haal ons die metro by Circo Massimo, net om weer uit nuuskierigheid by die volgende stasie, die Colosseo, af te klim en na die Kolosseum te kyk terwyl die son sak. Jy stap by die stasie uit en dan skielik troon die Kolosseum reg voor jou.

Rondom die Kolosseum drentel honderde toeskouers en toeriste rond en neem foto’s met die sonsondergang se oranje-geel skynsel op die Kolosseum. Ons drentel saam met die skare en haal uiteindelik die metro en trein om ‘n uur en ‘n half later doodmoeg by die huis te kom.

Lees alle vorige rubrieke oor Thomas en Retha Dreyer op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Annette ·

Dit moet wonderlik gewees het om die voreg tegehad het om dit te aanskou!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.