Op reis deur Europa: Enrico Caruso, goue stem uit Napels

Musiekuitstalling Foto: Thomas Dreyer

Thomas Dreyer en sy vrou, Retha, is besig met ʼn reis (met ʼn baie beperkte begroting) deur Europa. Hulle is oorspronklik van Pretoria.

Deur Thomas Dreyer

Nadat ons ‘n week by Torre del Greco aan die voet van Vesuvius gebly het, verhuis ons Napels toe. Hier bly ons by Alesso en sy meisie. Hy is ʼn fisioterapeut en sy woonstel is ruim en netjies.

Ons slaap op twee baie smal enkelbedjies. Die eerste nag hoor ek ʼn slag en toe ek kyk, het Retha, toe sy wou omdraai, van die bed afgeval! Die volgende nag gebeur dieselfde met my en toe kon sy weer lag!

Alesso se meisie gee ons die eerste dag ʼn saamrygeleentheid tot by die promenade. Ons stap al langs die baai van Napels. Dit is ʼn pragtige laatwintersoggend. Ons stap tot by die Castello del Ovo, ʼn Middeleeuse kasteel wat in die see gebou is om seerowers uit die Middellandse See weg te hou.

Die kasteel is ʼn pragtige, stewige, dikmuur struktuur. Ons stap tot bo vir ʼn pragtige uitsig oor Napels. Toe ons afstap, loer ons by ʼn kamertjie in waar ʼn uitstalling is van Napolitaanse musiek. Een van die kunstenaars wat dadelik ons oog vang, is Enrico Caruso.

Ons het geweet van Caruso, die operasanger van lank gelede met die krapperige plaatopnames. Maar nie veel meer nie. En toe loop ons hom hier in Napels, sy geboortestad, raak.

Kasteel del Ovo Foto: Thomas Dreyer

Ek het as kind sy musiek by my ouers leer ken. Hy was een van hulle gunstelingsangers. Behalwe vir sy operastukke, ook lekker saamsingmusiek met ʼn nostalgiese ondertoon: “Santa Lucia”, “Funiculi funicula”, “Return to Sorrento”…

Napels het elke jaar ʼn musiekkompetisie aangebied en hierdie en ander Napolitaanse liedere het daar ontstaan. “Funiculi funicula” is geskryf vir die opening van die Vesuvius funicular – ʼn trein wat tot by Vesuvius se kruin gery het.

Terug na Enrico Caruso. Hy is in Napels op 25 Februarie 1873 gebore as die derde van sewe kinders. Sy pa was ʼn werktuigkundige en Enrico het op 11-jarige leeftyd as werktuigkundige begin werk.

Om te help om geld te verdien vir die gesin begin hy in die strate en by kafees sing. Toe hy 18 was, koop hy sy eerste paar skoene met die geld wat hy só verdien het en in 1894 begin hy met sanglesse.

Op 25 Maart 1895 tree hy in sy eerste operarol op en nog rolle volg. Vergoeding was maar skraps. Hy het net een hemp gehad en op ʼn foto wat in 1896 van hom in Sicilië geneem is, het hy ʼn deken om hom gedraai terwyl sy hemp gewas is.

Sy optredes in Napels is nie goed ontvang nie en die konsertgangers het hom uitgejou toe hy hulle nie wou betaal vir hulle applous nie. Hy het besluit om nooit weer in Napels op te tree nie, en het daarby gehou.

In 1900 het hy ʼn kontrak gekry om in La Scala in Milaan te sing. Vandaar het optredes oor die hele wêreld gevolg… Monte Carlo, Warskou, Buenos Aires, Moskou, Milaan, Londen. Van 1904 tot met sy dood in 1921 tree hy deurlopend by die Metropolitan Operahuis in New York op.

In April 1906 tree hy op in San Francisco en bevind hom midde in die 1906-aardbewing wat die grootste deel van die stad verwoes het. Hy kom ongedeerd daarvan af, maar beloof om nooit weer terug te keer nie, en het daarby gehou.

Caruso was een van die eerste sangers wat plaatopnames gemaak het en behalwe vir die fortuin wat hy daaruit verdien het, het dit bygedra tot sy bekendheid reg oor die wêreld. In eie reg was hy nie net een van die grootste operatenore nie, hy was ook ʼn vindingryke besigheidsman en ʼn baie ryk man met sy dood in 1921.

Van toe af luister ons elke aand na YouTube-opnames van Enrico Caruso terwyl ons Italiaanse pasta vir aandete maak. Want in Italië eet jy pasta en luister jy Napolitaanse musiek!

(Met krediet aan Wikipedia)

Lees alle vorige rubrieke oor Thomas en Retha Dreyer op Maroela Media.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

JOHAN BRONKHORST ·

Wat ‘n wonderlike voorreg was dit nie vir my om O SOLO MIA van Enrico te luister nie. baie jaare gelede wat ek homself die lied hoor sing het . Dit was vanaf ‘n 78 plaat. Dankie julle

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.