Op reis deur Europa: Herlewingsprediker

Girolamo Savonarola Foto: Thomas Dreyer

Thomas Dreyer en sy vrou, Retha, is besig met ʼn reis (met ʼn baie beperkte begroting) deur Europa. Hulle is oorspronklik van Pretoria.

Deur Thomas Dreyer

Ons stap in Florence tussen die geboue deur saam met strome toeriste en kom onverwags uit op die Piazza del Signoria.

Dit is een van die grootste en belangrikste pleine in Florence. Oral staan standbeelde rond. Reg voor die Palazzo Vecchio staan ‘n kopie van die Dawidbeeld 14 voet hoog, presies waar Michelangelo Bonuoroti hom geplaas het. Toeriste verdring mekaar voor die beeld.

Links van Dawid is die Neptune-fontein, groot en indrukwekkend. Terwyl ons daar was, was hulle besig met restourasiewerk en kon ons maar min sien van hierdie reusagtige beeld. Wat ons wel kon sien, voor die fontein in die klipvloer van die piazza, was ‘n sirkelinsetsel met die bronswoorde: “Girolamo Savonarola is hier saam met sy broers Domenico Buonvicini en Silvestro Maruffi, op 23 Mei 1498, as gevolg van ‘n onregverdige verhoor, gehang en verbrand.”

Die volgende dag besoek ons die San Marco-kloostermuseum. Behalwe vir bekende skilders, soos Fra Frangelica, was die klooster ook die woonplek van die bekende teoloog Thomas van Aquino én die toegewyde Girolama Savonarola.

Savonarola is op 21 September 1452 in Ferrara in Italië gebore as die derde van sewe kinders. Nadat hy sy skoolopleiding voltooi het, sluit hy aan by die Dominikaanse priesterorde. In 1482 sluit hy aan by die San Marco-klooster in Florence. Dit is hier waar hy tot die oortuiging kom dat die Katolieke Kerk vernuwing nodig het.

In die jare wat volg is Savonarola ‘n rondreisende bekeringsprediker in die noorde van Italië. Sy prediking het groot skares gelok. Hy vaar uit teen die rykes, dié wat hulle mag misbruik ten koste van die armes én teen die korrupte priesterskap van die Katolieke Kerk. In antwoord op sy oproep tot bekering verbrand mense op die Piazza di Riogna in Florence hulle toorgoed en boeke. Sy volgelinge is piagnioni genoem – die weeklaers.

San Marco-kloostermuseum Foto: Thomas Dreyer

In 1494 val Koning Charles VIII van Frankryk Italië binne. Savonarola onderhandel met die koning om Florence te spaar, Piero de Medici as heerser af te sit en Savonarola toe te laat om ‘n republiek uit te roep. Hy stig ‘n nuwe politieke party, die Frascheti, wat politieke hervormings in Florence deurvoer. Hy voer regulasies in teen immoraliteit en laat dit afdwing – owerspel, dronkenskap en homoseksualiteit word verban.

Toe Savonarola nie Pous Alexander VI wou steun in sy oorlog teen Frankryk nie, verbied die pous hom om te preek. Hy ignoreer die pous en preek nog erger as voorheen teen sonde, magsmisbruik en geestelike laksheid.

Op 12 Mei 1497 word hy deur die pous verban. Toe hy begin aanspraak maak op die gawe van genesing, word hy deur ander priesters uitgedaag om sy goddelike roeping te bewys deur deur vuur te loop. Vir die eerste keer in 400 jaar word die “vuurtoets” in Florence gereël vir 7 April. Die geleentheid word deur reën in die wiele gery en ‘n teleurgestelde skare sak toe op die San Marco-klooster.

Savonarola en twee van sy medepriesters word in hegtenis geneem en ná ‘n verhoor op 23 Mei 1498 ter dood veroordeel en op die Piazza di Signiora gehang en verbrand.

Van sy medepriesters het sy leringe en gedagtenis lewend probeer hou, maar in 1530 het Giuolio de Medici, wat intussen Pous Clement VII geword het, die piagnioni vervolg, gemartel, verban en uitgeroei.

Savonarola se werk het egter voortgeleef in Martin Luther en die Hugenote in Frankryk. In die 19de en 20ste eeu het sy werke die herlewing in die Italiaanse politiek en die hereniging van Italië sterk beïnvloed.

By die San Marco-klooster besoek ons Savonarola se kloosterkamertjie en lessenaar waar hy gewoon het en gewerk het. Teen die muur pryk die bekende skildery van Girolamo Savonarola. Voor die eenvoudige lessenaar staan sy stoel. In sy slaapkamer hang ‘n afdruk van ‘n skildery wat sy verbranding uitbeeld.

Dit is koel en stil in die kloostermuseum – nie ‘n prioriteit vir die toeriste wat Florence besoek nie.

Lees alle vorige berigte oor Thomas en Retha Dreyer op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Eish ·

Soos altyd, leersaam, goed beskrywend en feitelik, baie dankie.

Sebastiaan ·

‘n Goeie en interessante reisartikel. Ek hou daarvan om tydens ‘n reis meer van ‘n plek se geskiedenis te leer. Was lank gelede ook by daardie plein en Savonarola onthou ek van toe af as ‘n persoon wat my sou kon beindruk. Nou weet ek meer van hom danksy die artikel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.