Op reis deur Europa: Largo 16 Ottobre 1943

Foto: Thomas Dreyer

Thomas Dreyer en sy vrou, Retha, is besig met ʼn reis (met ʼn baie beperkte begroting) deur Europa. Hulle is oorspronklik van Pretoria.

Deur Thomas Dreyer

Largo 16 Ottobre 1943. Dit is die naam van ʼn baie klein piazza, of plein, langs die Tiberrivier. Op 16 Oktober 1943 het die Duitse magte die Jode wat nog in die oorblyfsels van die Joodse ghetto in Rome gebly het, hier opgelaai en weggevat konsentrasiekampe toe.

Die Duitse magte het vroeër dié jaar van die Jode ʼn losprys geëis: 50 kg goud binne 24 uur óf hulle sou hulle wegvat konsentrasiekampe toe. Die Jode en nie-Joodse inwoners het hulle juwele en ornamente bymekaar gesit en die losprys betaal. Die Duitsers het die goud gevat én op 16 Oktober 1943 ongeveer 2 000 Jode kom wegvat konsentrasiekampe toe.

Ons stap met die Ponte Fabricio oor die Tiberrivier na die ou Joodse gedeelte van Rome. Aan ons linkerkant lê die Isola Tiber, ʼn eiland in die Tiberrivier. Dit is vroeg lente en die bome langs die Tiber is lowergroen.

Links van die Largo la 16 Ottobre 1943 is die Joodse sinagoge. Teen sy muur op marmerpanele is inskripsies wat die martelare van 1943 gedenk. Regs van die plein is ʼn ouerige gebou wat soos ‘n museum lyk. Reg voor is enorme ou Romeinse murasies van die Portico d’Ottavia wat Keiser Augustus vir sy suster Ottavia laat bou het.

Ons stap die museum binne. Toegang is gratis. Binne is herinneringe aan die Duitse besetting tydens die Tweede Wêreldoorlog: propagandaplakkate wat die Jode die skuld vir die oorlog gee, en geel armbande en pette met die Sionistiese ster wat die Jode tydens die oorlog moes dra.

In die museum is pasboeke en paspoorte van Jode wat met ʼn groot rooi hoofletter J gestempel is. Hier gaan niemand vergeet van dit wat die Jode moes deurmaak nie.

Foto: Thomas Dreyer

Nie dat die Jode in Rome onbekend was met vervolgings nie. Die eerste Jode het hulle hier kom vestig in 200 vC en vreedsaam saam met die Romeinse keiserryk gelewe totdat Rome Judea in 70 nC binnegeval en die Jode as krygsgevangenes en slawe weggevoer het. Skielik was die Jode in Rome se vryheid op ʼn einde.

In 327 nC het Konstantyn die Christendom tot amptelike godsdiens verklaar en het die Jode onder die heerskappy van die pous gekom. Verskillende pouse het deur die eeue maatreëls teen die Jode ingestel. Trouery met Jode, die aanneming van die Joodse godsdiens en die bou van sinagoges is verbied.

In 1492 is die Jode in Spanje die keuse gegee: word gedoop of gedeporteer. In 1555 het Pous Paul IV (wat die St Petruskatedraal gebou het) besluit die Jode in Rome moet aan die modderige regterkant van die Tiber gaan bly – 4 000 Jode op 2,8 ha. Die eerste ghetto in Rome met ʼn muur rondom en ʼn aandklokreël.

Die straatjies was smal en die toestande haglik. Die Jode is gedwing om geel armbande en serpe te dra en kon nie eiendom besit of goeie poste beklee nie. Dit sou vir die volgende 300 jaar geld.

Eers in 1848 is die mure afgebreek nadat Napoleon (1805-1814) die strawwe maatreëls teenoor die Jode verslap het. Met die totstandkoming van ʼn verenigde Italiaanse koninkryk in 1870 het Rome die vrotkol van die Joodse ghetto afgebreek en vernuwe en aan die Jode volle Italiaanse burgerskap toegeken. Toe kom die Tweede Wêreldoorlog en 16 Oktober 1943…

Vandag het min oorgebly van die Joodse ghetto. Die klein 2,8 ha is ten volle geïntegreer in die groter Rome. Daar is nog Joodse winkels en restaurante wat kosher-geregte verkoop en die Jode, wat vandag verspreid deur Rome woon, kom sit graag hier by die restaurante en kuier.

En die pous het kom kuier. Pous Johannes Paulus II het in 1986 die eerste pous geword wat ʼn Joodse sinagoge besoek het. ‘n Gebaar van versoening? Of dalk boetedoening?

Erkenning: Rick Steve’s Audio Guide

Lees alle vorige berigte oor Thomas en Retha Dreyer op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.