Op reis deur Europa: Napoli, stad van Konings

Ou Napels Foto: Thomas Dreyer

Thomas Dreyer en sy vrou, Retha, is besig met ʼn reis (met ʼn baie beperkte begroting) deur Europa. Hulle is oorspronklik van Pretoria.

Deur Thomas Dreyer

Napels is, hoe sal ʼn mens sê, tipies Italiaans. Die beste pizzas en drie deurmekaar metrostelsels. Koningspaleise, museums en duiwehokkies waarin miljoene trotse Napolitane bly. En as die trein- of busdrywers staak omdat hulle vir maande nie betaal is nie, is jy gestrand.

Ons stap deur die Spaanse gedeelte. Nou straatjies waar die son skaars skyn. Winkeltjies orals. Woonstelblokke weerskante opgestapel en wasgoedlyne vol wasgoed wat verdiepings bo jou in die wind wapper.

Ons is op soek na die Nannell-restaurant, dié eetplek van gewone Napolitane, volgens ons gasheer, Alessio. Almal weet waar dit is en tussen die nou straatjies kry ons dit maklik. Mense sit volgepak by rooi geruite tafeltjies en eet en gesels luid in Italiaans.

ʼn Kelner vat ons deur drie vertrekke tot heel agter waar ʼn tafel vir twee oop is. Die spyskaart is eenvoudig. ʼn Voorgereg gevolg deur ʼn pastagereg, gevolg deur ʼn pastagereg, gevolg deur ʼn pastagereg, gevolg deur nagereg en vrugte. Als vir R200 en ʼn bottel sodawater ingesluit. ʼn Italianer kom sing vir ʼn fooitjie.

Toe ons uitstap is daar ‘n lawaai by die ingang. Dit is die kassier wat mense se name hardop uitroep. Buite staan seker 30 mense saamgedrom en wag vir hulle beurt.

Ons stap verder deur die nou straatjies. Op amper elke tweede hoek is ‘n katedraal. Binne is dit pragtig versier met beelde en grafte en skilderye en beelde van die gekruisigde Jesus. Ek wonder so by myself: Wat van die opgestane Christus?

‘n Paar blokke verder drom ‘n groep mense saam. Iemand speel op ‘n saksofoon. Dit lyk heel gesellig, en dit is. Dit is die Sorbilla-pizzarestaurant, een van die bekendes in Napels. Jy gee jou naam op en wag totdat dit uitgeroep word. Vir van die beste Margherita-pizzas in die wêreld.

In die Koninklike Paleis loop ons koningin Margaretha raak, een van die vorste in die lang geskiedenis van Napels. Die Margherita-pizza is na haar vernoem nadat dit op haar versoek in 1889 gemaak is in die kleure van die Italiaanse vlag, rooi, wit en groen, en nou verewig is op die pizzapalet van mense wêreldwyd.

Naby Sorbillo is die Saraveno-kapelmuseum. Lang toue mense wag om in te gaan. Ons besluit om die volgende oggend vroeg terug te kom en is toe eerste in die tou. Binne is ‘n versameling van die mooiste marmerbeelde.

Die bekendste is die “Gesluierde Christus”. ‘n Beeld van die gekruisigde Jesus is met ‘n papierdun marmerdoek toegegooi. Deur die marmerdoek sien jy sy gelaatstrekke, die spykermerke in sy hande en voete, die wond aan sy sy. Hoe die beeldhouer, Giuseppe Sanmartino dit in 1753 reggekry het, weet nugter.

Al die ander beelde is net so ongelooflik afgewerk. Jy sien hoe die wind die lang marmerrokke van die vroue waai en die gevlegde marmernet wat die man in die beeld “Ontnugtering” vasknoop. En wanneer jy uitstap, kom jy in ‘n kelder af op ‘n man en vrou wie se liggame in 1763 so behandel is dat die skelet en elke aar en aartjie nog steeds behoue en te sien is. Tot vandag toe weet niemand hoe dit gedoen is nie.

By die fontein van Neptunus op die Piazza del Municipio loop ek Antonio raak. Hy is in sy middeljare en is besig om die marmerfontein te was – ‘n beeld van Neptunus met sy driepuntvurk waaruit die water spuit. Mense wat uit hul duiwehokkies gevlug het, sit en kuier in die son reg rondom die fontein.

Antonio vra, beduie, waar kom ons vandaan. Toe hy hoor, “Suid-Afrika”, skiet sy oë vol trane. Sy pa, so beduie-vertel hy, was in Suid-Afrika as krygsgevange gedurende die Tweede Wêreldoorlog. Hy is in Libië gevang waar hy vir die Italiaanse magte saam met die Duitsers teen die Engelse geveg het. Skielik het ons iets in gemeen en ons groet mekaar vriendelik.

Ná ‘n week besef ons dat ons nog maande hier sou kon bly om in die ryk geskiedenis van hierdie stad, wat 4 000 jaar gelede deur die Grieke gestig is, te kan delf.

Lees alle vorige rubrieke oor Thomas en Retha Dreyer op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Stella ·

Thomas en sy vrou is SOOO bevooreg om soiets te kan doen,,wonderlik,,n mens kry net eenkeer so n kans..wow geniet elke oomblik daarvan

Therese van Schalkwyk ·

Pragtige beskrywings van Napels, voel of ‘n mens self daar is. Die lus vir ‘n Regte, Egte Italiaanse Margherita-pizza laat die mond nou water. Beslis die Koning(in) onder pizza’s!

Die vorige stuk oor Enrico Caruso se interessante lewe ook ‘n hoogtepunt.
Geniet julle benydenswaardige reis deur Europa!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.