Op reis deur Europa: Nekropolis – Stad van die dooies

Monumente ter ere aan dié wat in die Duitse konsentrasiekampe gesterf het Foto: Thomas Dreyer

Thomas Dreyer en sy vrou, Retha, het (met ʼn baie beperkte begroting) deur Europa gereis. Hulle is oorspronklik van Pretoria.

Deur Thomas Dreyer

In die ou terme was sy net 4 voet 8 duim lank. Haar lewe was net so kort, net 47 jaar. Maar sy het die toon aangegee in die wêreld van kabaretmusiek. Edith Piaf, gebore Gassion, “die Swaeltjie van Parys”.

Ons stap af in Rue Belleville in die Chinese distrik van Parys. Die strate is mooi skoon en die geboue modern. Orals is Chinese winkeltjies wat Chinese kruideniersware, klere en allerhande benodigdhede verkoop.

By Rue de Belleville Nr. 72 is ‘n 30 cm x 40 cm inskripsie teen die muur. Dit lees: EDITH PIAF. Onder langs die deur is ‘n klein blou keramiekteël met die treurige gesiggie van Edith op. Bietjie hoër op ‘n effens groter blou plakkaat met ‘n afdruk van haar gesig.

Voor die deur is ‘n groen plastiekasblik. Ek haal my selfoon uit en speel een van haar mees bekende liedere, “No regrets”. Voetgangers loop verby en kyk na die deur. Een ouerige dame vra ons of ons weet wat daar gebeur het. “Dit is waar Edith Piaf gebly het,” antwoord ons.

“Nee,” verduidelik sy, “dit is waar sy gebore is. Haar ma was op pad hospitaal toe, maar het nie verder as die trappe gekom nie, toe word Edith gebore. Op hierdie trappe. Sy het nie hier gebly nie.”

“Waar is sy begrawe?” wil ek weet. “Net hier naby in die Père Plaichir begraafplaas,” kom die antwoord. Sy haal ‘n metrokaart uit en verduidelik ons hoe om daar te kom. Ons groet haar vriendelik. “Merci beaucoup.”

Edith Piaf Foto: Thomas Dreyer

Nodeloos om te sê, ons is toe reguit na Père Plaichir. Dit is een van Parys se grootste begraafplase en is al in 1804 begin. Dit lê skuins teen ‘n heuwel en kyk uit oor die stad. Dit is soos ‘n voorstad van Parys, met sy eie klipsteenstrate en straatname.

By die ingang is ‘n groot bord met ‘n kaart van die begraafplaas wat die strate en die verskillende “voorstede” aandui. Langsaan is ‘n bord met ‘n lang lys name en “adresse” van belangrike of bekende persone wat daar begrawe is.

Kyk jy deur die lys val ‘n klompie name jou dadelik op: Jim Morrison, musikant; Frederic Chopin, komponis; Honore Balzac, skrywer; en, natuurlik Edith Piaf.

Ons stap deur die boomryke begraafplaas. Dit is stil, al is daar ander besoekers. Ons stap verby die 19de eeuse krematorium wat nou nie meer in gebruik is nie. Ons stap verby oorlogsmonumente ter herinnering aan soldate wat in die Frans-Pruisiese oorlog van 1870-1871 gesterf het. En die grafte van generaals wat in die Franse oorloë geveg het.

Die meeste grafte is familiegrafkelders waar verkillende familielede saam begrawe is. Sommiges het mooi beeldhouwerke op die grafte, van treurende vroue en imposante mans tot gekruisigde Christusfigure.

Ons gaan soek spesiaal Honore Balzac se graf op. Deur beeldhouer Rodin het ‘n imposante standbeeld van hom gemaak waarvan ‘n kopie op een van die metrostasies staan.

Ons gaan soek ook Frederic Chopin se graf op. Klein en eenvoudig met ‘n gesigsrelief van Chopin voorop. Plastiek en vars blomme is voor sy graf deur bewonderaars neergesit. In die Luxemburg-tuine het ons ‘n standbeeld van Chopin raakgeloop. Nou kan ons die verbindingslyne begin trek.

Uiteindelik kom ons by die verste deel van Père Plaichir uit. Dit is hier waar Edith Piaf begrawe is. Hierdie gedeelte van die begraafplaas het verskeie monumente ter ere aan dié wat in die Duitse konsentrasiekampe gesterf het tydens die Tweede Wêreldoorlog.

Die beelde wat dié monumente versier is aangrypend. Kaal, vel-en-been-figure wat met hulle hande in die lug gryp. Of geboë, moeë mense wat struikelend voortbeur. Dachau, Auswitch. Die Europeërs wil nie vergeet nie.

Uiteindelik kry ons die Gassion-Piaf familiegraf. Dit is ‘n gewone graf van swart graniet. ‘n Beeldjie lê bo-op die graf. Die name van die familielede wat hier begrawe is, is in goue letters op die swart graniet uitgekerf. Haar dogtertjie wat op twee jaar dood is. Haar pa. En haar man met wie sy ‘n paar jaar voor haar dood getrou het. En natuurlik die “Swaeltjie van Parys”.

Lees alle vorige berigte oor Thomas en Retha Dreyer op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Eish ·

Weereens word ek meegevoer deur jul aangrypende en meelewende vertelling! Die foto’s bring jul reis sommer hier aan huis. Wat n voorreg om nog begraafplase te kan raakloop met soveel ryke geskiedenis. Jul artikels is elke week kraakvars en voorwaar my hoogtepunt. Groot waardering vir die deel.

Anita ·

Baie dankie dit is lekker om van julle wedervaringe te lees en al die interessante plekke wat jul besoek

Anna ·

Swaeltjie of Mossie, pragtig! Dankie vir die saam reis…altyd lekker om julle ervarings te deel!

alwyn burger ·

Auschwitz? Die Nazi-jagter, Simon Wiesenthal, verklaar op 1993/02/24 : “there were no extermination camps on German soil”. Churchill en Eisenhower maak in hul werke ( 7061 bladsye) geen melding van gaskamers of volksmoord nie. Die Russe het na die oorlog Auschwitz gerekonstrueer dat dit soos ñ gaskamer moes lyk. “Die Geskiedenis is ñ leuenagtige ou dame”. Seg Anatole France : ” Al die Geskiedenisboeke wat nie leuens bevat nie is uiters vevelig”.

Frans C ·

Alwyn jy weet nie waarvan jy praat nie.Dit is jammer dat van die soldate wat die kampe bereik het nie meer lewe nie.’n Program soos ‘Hunting Hitler’ het na 70 jaar ook aan die lig gebring dat die Duitsers reeds ‘n elementêre kernbom laat ontplof het en toe met 600 gevangenis geekspirimenteer het om te sien wat van hulle word.

IN Junie 1941 maak Churchill melding in ‘n radio uitsending van die wandade wat teen die
Jode gepleeg word asook die massa deportasie uit Frankryk.89 van Wesenthal se familielede is in konsentrasiekampe dood. Hyself was ook op die lys.

Saartjie ·

Lekker gelees, dankie, maar was ‘n bietjie verward met die naamsverandering … wanneer het Père Lachaise dan nou Père Plaichir geword?

[email protected] ·

Dankie almal wat ons stories so deeglik lees! Daar glip maar so hier en daar ‘n foutjie deur al gaan ons dit deeglik na. Ons waardeer elkeen se kommentaar!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.