Op reis deur Europa: Pompeii, stad van dooies

Pompeii Foto: Thomas Dreyer

Thomas Dreyer en sy vrou, Retha, is besig met ʼn reis (met ʼn baie beperkte begroting) deur Europa. Hulle is oorspronklik van Pretoria.

Deur Thomas Dreyer

Ons het van Athene af Napels toe gevlieg – ʼn uur en ʼn half se vlug – en met ʼn bus Garabaldi-stasie toe gery. Met ons twee tasse agterna gesleep en ʼn rugsak op die rug. Die strate was besig. By ʼn kebabrestaurant waarsku hulle ons: “Dra jou rugsak voor jou, anders maak hulle hom leeg!”

Met ʼn voorstedelike trein ry ons na die voorstad Torre del Greco (“Die Toring van die Griek”) waar ons sou bly. Ons klim by die verkeerde stasie af, onder by die hawe. Ons blyplek is halfpad berg op. Ons was bly ons het lig gepak, net 13 kg per tas, maar het onmiddellik besluit dit moet nóg ligter.

So ver as wat ons berg op stap, troon Vesuvius bó ons. Ons was onmiddellik beïndruk met Vesuvius, die enigste lewende vulkaan in Europa. Vesuvius was nie dreigend nie, net imposant, soos ʼn reusestandbeeld uit ‘n ou, ou tyd.

Ons het nie beplan om in Torre del Greco te bly nie, dit het maar net so gebeur. Toe kom ons agter ons is net drie stasies van Pompeii af. Retha sê onmiddellik: “Ons móét Pompeii toe.”

Ons ry een oggend vroeg met die trein tot by Pompeii, om voor die gedrang van toeriste by die hek te wees. By die stasie stap jy net oor die straat tot by die ingang. Hier begin die toeriste gou opdam. Nie net buitelanders nie, maar ook Italianers wat lief is vir hulle geskiedenis.

Pompeii Foto: Thomas Dreyer

Pompeii dateer van ongeveer 400 vC en is beïnvloed deur die Griekse en Romeinse ryke. In die Romeinse tyd het Rome ʼn opstand deur Pompeii onderdruk en Pompeii ingelyf as ʼn kolonie en onmiddellik met groot bouprojekte daar begin.

Dit val onmiddellik op dat Pompeii ʼn groot stad was, 66 hektaar waarvan die argeoloë bewus is. Die strate is op tipies Grieks-Romeinse manier reghoekig uitgelê. In sommige gedeeltes was die huisies klein, in ander gedeeltes was daar groot dubbelverdieping villas met binnenshuise tuine.

Die strate is so uitgelê dat dit terselfdertyd stormwater weggevoer het. Op strategiese hoeke is openbare fonteine, soos jy vandag nog oral in Europa kry. Hier het die mense water vir hulle huise kom haal.

Op sommige hoeke was restaurante wat wegneemetes bedien het – die “bay marines” van kleipotte nog duidelik sigbaar. Bakkerye met hul oonde en koringmeulens en wasserye met hul wasbaddens het die bevolking bedien.

Die forum was ʼn groot oop sentrale plein waar mense saamgekuier het, net soos vandag nog op Europese stadspleine. Die inwoners van Pompeii het in groot amfiteaters sportgeleenthede bygewoon en in tempels offers vir hulle afgode gebring. In Pompeii is verskillende amfiteaters waarvan die grootste alreeds in 70 vC gebou is en 20 000 toeskouers kon huisves.

Dit is toe ons uitstap by die hoofingang dat die werklikheid tot ons deurdring. Hier staan twee glas uitstalruimtes waarbinne van die mense wat in Pompeii gesterf het, uitgestal word. Mans, vroue en kinders in verskillende liggaamshoudings net soos hulle gesterf het.

Die uitbarsting van Vesuvius het Pompeii op 24 Augustus 79 nC onder vuurwarm as begrawe. Hierdie as is hoog die lug in geblaas en het op die inwoners gereën. Behalwe vir die skroeiende hitte was dit ook giftig en mense het binne oomblikke gesterf.

Aan die ander kant van Torre del Greco, het Vesuvius se lawa die buurdorp Herkulaneum oorstroom en het die mense daar as gevolge van die geweldige hitte in oomblikke verkool. Opgrawings dáár wys net die oorledenes se beendere, anders as by Pompeii waar die as mense in verskillende sterfposisies versteen het.

Vir honderde jare was Pompeii en naburige dorpe in vergetelheid onder stof en lawa begrawe. Eers in 1748 is met opgrawings begin. Vandag is dit ʼn opelugmuseum waar jy jou verstom aan die inwoners se ontwikkeling. Behalwe vir selfone, TV’s en motors het hulle alles gehad wat ons vandag het!

Lees alle vorige rubrieke oor Thomas en Retha Dreyer op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Dellaq ·

Oeee, verlang ek om weer terug te gaan na Italie met al sy geskiedenis. Ons het in 1 week twee keer Pompeii besoek en kon nog steeds nie by alles uitkom nie. Baie besonders om te sien hoe “beskaafd” hulle daardie tyd was en hoe ongelooflik die argitektuur was

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.