Op reis deur Europa: St Petruskatedraal, begraafplaas van die konings

Binne St Petruskatedraal (Foto: Thomas Dreyer)

Thomas Dreyer en sy vrou, Retha, is besig met ʼn reis (met ʼn baie beperkte begroting) deur Europa. Hulle is oorspronklik van Pretoria.

Deur Thomas Dreyer

Dit is die laat 1500’s. Rome is nog vasgevang in die donker Middeleeue. Die pous is in Avignon in Frankryk en die kerk wat Konstantyn in 350 nC oor die graf van die apostel Petrus gebou het, is besig om te verval.

In die welaf Florence, 120 km noord van Rome, het die ontwaking van die Renaissance begin. ‘n Pragtige kerk met ‘n groot koepel versier die stad. Die 23-jarige Michelangelo het sopas sy “Pieta” voltooi, ‘n beeld van ‘n ewig-jeugdige Maria (sy moes toe al 50 jaar oud gewees het) met die lyk van ‘n ouerige gekruisigde Jesus op haar skoot. Maria lewe. Jesus is dood. Lank lewe Maria!

Pous Paulus II besluit om ‘n nuwe kerk te bou in die plek van die vervalle 1200 jarige ou St Petruskerk. Bramante word as die argitek aangewys en die bouwerk begin in 1506.

Halfpad deur die bouwerk kom alles tot stilstand. Die projek is só groot dat die geld opraak en die pous besluit om aflaatbriewe te verkoop. Jy koop só ‘n pouslike kwitansie en al jou sondes is vergewe. Vir ‘n ekstra fooi is jou oorlede familie se sondes ook vergewe. Mense staan tou en die geld stroom in.

In Duitsland verkoop Johann Tetzel soveel aflaatbriewe dat dit onder die ergerlike aandag van vader Martin Luther kom. Vir hom is dit onaanvaarbaar en hy spyker in 1517 sy 95 besware teen die korrupsie in die kerk op die kerkdeur van Wittenberg vas. Die Reformasie, die “regstelling”, het begin.

In Rome word die bouwerk hervat. Vir dekades gaan die werk voort aan die kolossale kerk van 3,3 ha. Bouers, beeldhouers en skilders werk onverpoos. Een van die laaste argitekte is Michelangelo. Hy ontwerp die koepel wat, tot vandag toe, bo alles in Rome uittroon. Sy “Pieta” word in een van die kapelle geplaas.

Petrus se graf (binne) (Foto: Thomas Dreyer)

Oorskotte van pouse en heiliges word in kapelle onder majestueuse beeldhouwerke in marmerkiste herbegrawe. Beelde is ses maal lewensgrootte. Marmerbabas, wat engele voorstel, is 6 voet groot, en nog groter bo teen die plafon, net om die perspektief reg te hou.

In 1620, 120 jaar nadat met die bouwerk begin is, word die kerk ingewy. Behalwe vir argeologiese werk wat in die 1900’s onder die kerk gedoen is en tot die “herontdekking” van Petrus se moontlike graf gelei het, is die kerk vandag nog steeds dieselfde as in 1620.

Voor die kerk bou Giovanni Bernini, beeldhouer en argitek wie se handewerk in die kerk en dwarsdeur Rome gesien kan word, ‘n reuse ovaal plein omarm deur ‘n wandelgang met 480 reuse marmerpilare.

In die middel van die plein staan ‘n obelisk uit die songodaanbidding van antieke Egipte en bo-op die wandelgang beelde van heiliges.

Die plein was oorspronklik die terrein van Nero se resiesbaan waar strydwaens mekaar die stryd aangesê het en hy Christene verbrand en gekruisig het tot vermaak van die skare. Hier is Petrus volgens oorlewering gekruisig en in die begraafplaas langsaan begrawe.

Vandag nog word mense van oor die hele wêreld beïndruk deur die St Petruskerk en die plein. Elke dag staan mense vir ure tou om die indrukwekkende kerk te sien, in die reën onder sambrele en in die hitte met waterbottels.

Petrus op sy stoel (Foto: Thomas Dreyer)

By die bronsbeeld van Petrus vat besoekers aan sy voete en poseer vir ‘n foto. Deur die eeue heen is die voete al glad gevat, die tone omtrent weg. Tussendeur word “mass” bedien, van vroeg tot laat, en gaan die kerklike aktiwiteite voort.

Onder die kerk kan jy antieke grafkelders besoek op ‘n betaalde en begeleide toer. Hier kan jy die “moontlike” graf van Petrus sien en deur die nekropolis, stad van pouslike grafte, loop.

Die St Petruskerk is, soos die ander Roomse Katolieke kerke, ‘n grafkelder vir pouse, heiliges en vername rykes, wat die geld en regte kontakte het. Die dood is pragtig versier met beelde en skildery. Lyke lê in marmerversierde kiste onder kleurvolle skilderye.

Vir die gewone mense is dié lyke die kontakpunt met die lewe na die dood. By dié grafte en beelde bid hulle, brand hulle kersies en gee hulle offerandes. Hier kan hulle aan die pragtige versierde lewe ná die dood raak en hoop die dooies sien hulle raak en doen vir hulle ‘n gebed. En hoop op ‘n eie pragtige lewe na die dood.

Lees alle vorige rubrieke oor Thomas en Retha Dreyer op Maroela Media.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Therese van Schalkwyk ·

Interessante, leersame reisartikels!

Hoewel die katedrale, kerke, kunswerke steeds asemrowend bly, verdof die kindermolestering-skandale deur kerklikes wat in die moderne tyd steeds bly uitpeul die glans tog so effe.

Wat die “aflaatbriewe” betref, dit sou lekker wees as westerlinge ‘n moderne tipe aflaatbrief kon koop wat hulle kwytskeld van hul voorvaders se koloniale verlede wat tans soveel skuldgevoelens en vergelding wêreldwyd veroorsaak. Pragtige standbeelde (en sandsteengeboue) kon só behoue bly vir ons nageslagte.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.