Op reis deur Europa: Temple le Protestant

Foto: Thomas Dreyer

Thomas Dreyer en sy vrou, Retha, het (met ʼn baie beperkte begroting) deur Europa gereis. Hulle is oorspronklik van Pretoria.

Deur Thomas Dreyer

Dit was ‘n emosionele belewenis.

Ek en my broer is die Sondag vroeg met die trein Chatelet-stasie toe. Ons wou die Protestantse (= Gereformeerde, Calvinistiese) erediens in die Temple le Protestant gaan bywoon.

Binne in die imposante kerkgebou, reg oorkant die Louvre-museum, is stoele in rye gepak, die preekstoel sit hoog teen die symuur en die koster groet ons toe ons instap, in Frans natuurlik. Ons kry ʼn Franse Psalm- en Gesangeboek en kry vir ons sitplekke. Ons is vroeg en daar is nog net twee lidmate.

Die kerk is ‘n groot sandsteengebou. Bouwerk daaraan het in 1621 begin. Dit was die kerk van die Katolieke-gemeente “L’Oratoire”. Hier is priesters opgelei om die reformasie van Luther en Calvyn teë te werk.

In 1623 maak koning Louis XIII dit die koninklike kapel, want dit was net oor die straat vanaf die Louvre-paleis. Uit hierdie kerk is kardinaal Richelieu, koning Louis XIII, sy vrou Anne van Oostenryk en sy latere skoondogter, Marie-Therese, vrou van die sonkoning Louis XIV, begrawe.

Met die Franse Rewolusie word die kerk gestroop en verander in ‘n gemeenskapsaal. In 1811 gee Napoleon die gebou vir die Protestante wat sedert 31 Maart 1811 Sondae daar eredienste hou.

Ons sit en wag vir die diens om te begin. Die kerk word al hoe voller. Daar is naderhand so 70 mense, meesal ouerige mense. Hulle groet mekaar vriendelik. Daar is wit en swart Franse en selfs besoekers uit die Ooste.

Foto: Thomas Dreyer

Toe die diens begin met die orrelspel is dit asof ons terug verplaas is na ‘n gereformeerde erediens in Suid-Afrika. Die predikant dra nog ‘n toga, maar die liturgie van die diens is oorbekend.

Ons ken selfs van die wysies van die Psalms, en alhoewel alles in Frans is, kan ons saam neurie. Die geloofsbelydenis, Skrifvoorlesing, gebede en sang is dieselfde. Van die Franse preek verstaan ons egter niks.

Ek sit toe maar en dink aan die geskiedenis van die kerk in Frankryk. Hier sit ons in die hartjie van Parys tussen ‘n klein handjievol Franse Calviniste wat die eeue oorleef het.

Hierdie gebou was getuie van die bloedige vervolging van Franse Protestante, van hoedat die Franse Calviniste van 10% van die bevolking in 1572 gekrimp het tot ‘n paar duisend aan die einde van Louis XIV se koningskap.

Ek dink aan die Franse Hugenote wat moes vlug en die Calvinistiese godsdiens die wêreld ingedra het, tot in Suid-Afrika. Ek lees teen die muur die vanne van Franse lidmate wat in die Eerste Wêreldoorlog gesterf het. Tussen die name is daar tipies Suid-Afrikaanse vanne.

Terwyl ek daar tussen die klompie Franse Protestante sit, besef ek hoeveel ons van die Franse Hugenote geërf het. En hoeveel ons in gemeen het. Hoe hulle, soos ons, moet leef in ‘n al groterwordende kerklose gemeenskap.

Dit is die Sondag nagmaal, en volgens die Engelse blaadjie wat ons in die voorportaal gekry het, is alle Christene welkom om saam nagmaal te gebruik. Elkeen volgens sy eie gewete.

Met die nagmaal staan die lidmate voor in die kerk in ‘n sirkel en gee vir mekaar die brood en nagmaalsbeker aan. Wanneer hulle klaar is, gaan sit hulle weer terwyl die volgende lidmate hulle plekke inneem in ‘n sirkel voor die preekstoel.

Die predikant spreek die seën uit met sy hande voor hom uitgestrek. Die gemeente sing ‘n afsluitingslied en stap dan by die deure uit. Terug in ‘n 99%+ nie-Evangeliese gemeenskap. Sewentig Franse Protestante in ‘n stad van 3 miljoen inwoners.

Lees alle vorige berigte oor Thomas en Retha Dreyer op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Eish ·

Weereens baie dankie vir die deel van die stukkie geskiedenis. Hoe tragies is die verlooptheid van die Christendom. Dit laat my vreeslik dink aan die verhaal van Noag waar slegs 8 mense uit die hele mensdom gered is, net 8! Dis n groot genade dat die imposante gebou bewaar word.
Ek het self hier in die Vrystaat bietjie op soek gegaan na Joodse sinagoges. Dit bestaan nie meer nie, die mense is of weg, of dood. Op Kroonstad is die eens waardige gebou verkoop en omskep in n Supermark.

Thomas Dreyer ·

Hierdie is nou (vir eers?) die swanesang. Baie dankie aan almal wat saamgereis het, al die wonderlike kommentare, deeglike lees en korreksies. Alle seën julle toegewens!

Frina ·

Baie dankie vir die mooi berig. Ek het dit geniet om te lees en mooi foto’s daarmee saam.
Frina

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.