Op reis deur Europa: U2 en ‘Sunday Bloody Sunday’

Retha by die paleis Elysees (Foto: Thomas Dreyer)

Thomas Dreyer en sy vrou, Retha, het (met ʼn baie beperkte begroting) deur Europa gereis. Hulle is oorspronklik van Pretoria.

Deur Thomas Dreyer

Dit het ‘n paar keer met ons op ons reis gebeur dat ons net op die regte oomblik op die regte plek is. Onbepland.

Soos dié keer in Rome met Rome se verjaarsdagviering. Of dié keer in Parys met die einde van die Tour de France. ‘n Halfuur voor die fietsryers hulle finale rondtes rondom die Champs Elysees maak, staan ons op die hoek by die La Concordiaplein. Tussen honderde toeskouers sien ons hoe die fietsryers voor ons verbyflits. Alles onbepland en … opwindend.

En dié keer toe ons wil gaan kyk hoe lyk die paleis Elysees waar al Frankryk se presidente gebly het, ook die nuwe president Emmanuel Macron. Ons ry tot by die metrostasie Champs Elysees – Chenaceau en stap daarvandaan twee blokke verder. Die straat aan die voorkant van die paleis is afgesper deur die polisie en ons besluit om om die blok aan die voorkant te stap en aan die ander kant van die paleis uit te kom.

Op hierdie hoek drom ‘n klompie mense saam, party met langlenskameras. Ons besef dadelik hier is iets aan die gebeur. Dalk wag hulle vir die president?

Die sypaadjie op die hoek is baie smal en ons wurm ons tussen die mense deur. Ek vra iemand: “Parlez vous Anglais?” Ja, sê hy, hy praat Engels. Hy verduidelik vir my dat die mense vir Bono wag wat by die president gekuier het.

“Wie is Bono?” vra Retha. Ek verduidelik dis U2 se hoofsanger. “Wie is U2?” vra sy weer. Voor ek kan verduidelik, kom ‘n swart Mercedes-bussie by die paleis se hekke uitgery en draai in die straat af voor ons verby. By ons hou die bussie stil en Bono klim uit. Natuurlik ontlok dit applous onder die aanhangers met uitroepe van “Bono! Bono!” Hy stap vriendelik nader en begin mense se hande skud, met hulle praat en handtekeninge uitdeel. “Kom julle vanaand?” vra hy aan van hulle.

Bono by die paleis Elysees (Foto: Thomas Dreyer)

Tien minute later is die gegroetery oor en stap die aanhangers tevrede weg. “Wie is U2?” vra Retha weer.

U2 is ‘n rockgroep wat in 1976 in Dublin, Ierland, deur ‘n groepie skoolseuns gestig is nadat Larry Mullen Jnr. ‘n nota op die skool se kennisgewingbord gesit het. David Evans, alias “Edge”, en Paul Hewson, “Bono”, was die res van die groep, tot vandag toe.

U2 het deur die jare gegroei van ‘n paar seuns wat skaars musiek kon maak tot een van die mees suksesvolle popgroepe. Hulle het deur groeipyne bymekaar gebly en is vandag die groep wat die grootste inkomste in die geskiedenis uit hul toere verdien.

Hulle musiek? Dit het soos hulle gegroei en deur verskillende fases gegaan.

In ‘n stadium het hulle by ‘n Charismatiese kerk aangesluit. Hulle wou die groep ontbind omdat hulle nie hul geloofsoortuigings met die leefwyse van ‘n rockgroep kon versoen nie. Hulle het gebly en hul lirieke het ‘n duidelike Christelike ondertoon bygekry. “Magnificent” kon net sowel ‘n rock-aanbiddingslied gewees het.

Van hulle liedere het duidelike polities-sosiale boodskappe. ‘n Uitstaande voorbeeld is “Sunday Bloody Sunday”. Dit is geskryf in reaksie op die gebeure van 30 Januarie 1972. Op dié dag het Britse soldate 28 ongewapende betogers in Derry Noord-Ierland geskiet. Veertien is dood. Sommige is geskiet terwyl hulle van die soldate gevlug het, ander terwyl hulle die gewondes gehelp het. Party is bloot omgery. Dié gebeurtenis staan bekend as “Bloody Sunday”.

Toe skryf en sing U2 daaroor (slegs enkele lyne word aangehaal):

“I can’t believe the news today…
Broken bottles under children’s feet
Bodies strewn across the street…
The trench is dug with our hearts
And mothers, children, brothers, sisters
Torn apart…

Wipe the tears from your eyes
Wipe your tears away…
Sunday, Bloody Sunday…

The real battle just begun
To claim the victory Jesus won
On Sunday, Bloody Sunday…”

By die huis vind ons uit dat U2 dié aand in Parys optree in die Stade de France – alle kaartjies is uitverkoop. Daar is nog ‘n paar plekke oop vir die volgende aand met die goedkoopste kaartjies R600.

Ons speel hulle snit “Magnificent” op YouTube en besef ons kan dit net sowel vir Jesus sing.

Lees alle vorige berigte oor Thomas en Retha Dreyer op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Eish ·

Nou daar leer ek n paar nuwe feite en verander sommer ook van opine oor U2.
Synde nie n vreeslike rock aanhanger te wees nie, is my kennis maar skraps oor hierdie onderwerp.
Getrou aan al jul vorige artikels, is hierdie een ook boeiend geskryf en leersaam. Weereens dankie vir die deel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.