Op reis deur Europa: Vincent

Foto: Thomas Dreyer

Thomas Dreyer en sy vrou, Retha, het (met ʼn baie beperkte begroting) deur Europa gereis. Hulle is oorspronklik van Pretoria.

Deur Thomas Dreyer

Hy was eens onbekend en onbemind. In sy lewe het hy net een kunswerk verkoop. Op die jong ouderdom van 37 sterf hy en word sonder kerklike seremonie in ‘n eenvoudige graf begrawe.

Vandag is Vincent van Gogh se kunswerke onbetaalbaar en word hy gereken as die grootste Nederlandse kunstenaar sedert Rembrandt van Rijn en een van die grootste skilders van alle tye. In die net 10 jaar waarin hy gewerk het, het hy 850 skilderye en meer as ‘n duisend sketse gemaak.

Pelgrims volg sy kunsroete deur Europa met ‘n handleiding in die hand. Hulle kom van oral, van Amerika tot uit die Verre Ooste. Hulle gaan soek sy geboortedorp op en sy blyplekke in Nederland, België en Frankryk.

Ons ry met die trein van Parys na Auver sur Oise, sy laaste woonplek. Hier het hy die laaste 70 dae van sy lewe deurgebring en 80 skilderye voltooi.

Vincent Willem Van Gogh is op 30 Maart 1853 in Zundert, Nederland, gebore as oudste seun van ‘n Nederduits-Gereformeerde predikant. Van al sy broers en susters was sy jonger broer Theo meer as net ‘n broer – ‘n lewenslange vriend, ondersteuner en raadgewer.

Na sy skoolopleiding wou Vincent predikant word, maar hy word nie gekeur nie. In 1879 vertrek hy na die Borinage in die suide van België waar hy as evangelis onder die arm Katolieke steenkoolwerkers gaan werk. Hy gaan bly tussen hulle en voel aan sy eie lyf die ellende wat hulle deurmaak. Al manier hoe hy aan sy gevoelens uitdrukking kon gee, behalwe om briewe te skryf, was om dit te begin skets. Geboë, donker, swaar figure.

Hy verloor sy werk as evangelis en Theo raai hom aan om hom toe te lê op sy kuns. Hy ontvang kunsklasse in Amsterdam en later in Antwerpen, maar voltooi nie een kursus nie. Sy kuns was te “onkonvensioneel” vir sy tyd.

Foto: Thomas Dreyer

Op uitnodiging van Theo gaan hy Parys toe. Hy en Theo bly in Montmartre waar Vincent in aanraking kom met die impressionistiese skilders. Hier verander sy donker sombere kuns na werke vol lig en helder kleure. Hy vertrek na die dorpie Arles in die suide van Frankryk waar hy ‘n eenvoudige kamertjie deel met die kunstenaar Paul Gaugin.

Intussen skryf hy en Theo gereeld vir mekaar. Theo stuur vir hom geld, want Vincent het geen inkomste nie. Nie hy of Theo, ‘n kunshandelaar in Parys, kry een van sy skilderye verkoop nie.

In die “Geel Huis” in Arles het hy en die skilder Paul Gaugin ‘n uitval en Vincent sny sy eie oor af – die populêre weergawe wat Vincent graag voorhou as geestelik versteurd. ‘n Ander weergawe is dat Gaugin Vincent se oor afgesny het en dat Vincent die skuld daarvoor op homself geneem het om Gaugin te beskerm.

In dié tyd verlaat Gaugin hom (hulle sou mekaar nooit weer sien nie) en sy broer Theo kondig sy verlowing aan. Eensaamheid en depressie oorval ‘n ondervoede Vincent.

Hy en Theo, wat vir hom kom kuier, besluit dat hy vir behandeling moet gaan en hy laat hom opneem in ‘n inrigting. In dié tyd skilder hy sy bekende “Sterrenag” wat wys hoe onstuimig sy gemoed is. Nadat hy uit die hospitaal ontslaan word, vertrek hy noordwaarts na Auvers sur Oise naby Parys.

Hy bly in die herberg Auberge Ravoux in ‘n klein solderkamertjie. In Auvers werk hy elke dag van sonop tot sononder en, volgens sy briewe aan Theo, is hy baie positief oor die toekoms en sy eie werk.

Foto: Thomas Dreyer

Op 27 Julie 1890 skiet hy homself – weereens die populêre weergawe wat Vincent graag voorhou as geestelik versteurd. ‘n Ander weergawe vertel dat twee tieners hom per ongeluk geskiet het en dat Vincent, wetende dat hy gaan sterf, die skuld hiervoor op homself geneem het en hulle beskerm het. Hy is in die maag geskiet (nie waar iemand wat selfmoord wil pleeg homself skiet nie) en hy het gewond huis toe geloop (en nie homself wéér geskiet nie) waar hy eers die volgende dag dood is. Die vuurwapen is nooit gekry nie.

Die Katolieke kerk weier om hom te begrawe omdat hy selfmoord gepleeg het en hy word deur Theo en ‘n paar vriende in ‘n armmoedige graf tussen die koringlande aan die bokant van die dorp begrawe.

Ses maande later sterf Theo in Nederland in ‘n psigiatriese hospitaal, oorwerk en oorkom deur smart en rou. In 1914 word Theo herbegrawe in Auvers sur Oise langs sy geliefde broer.

Ons stap deur Auvers sur Oise op ‘n roete waar hy van sy bekende werke voltooi het. In die parkie is ‘n standbeeld van ‘n maer, uitgeteerde, Van Gogh met sy esel op sy rug.

In Auberge Ravoux besoek ons sy klein eenvoudige kamertjie. ‘n Staalraam enkelbed, tafel en stoel.

Langs die Van Gogh-roete is afbeeldings van die werke wat hy dáár gedoen het. Die trappe wat hy geskilder het, die werkershuise met hulle grasdakke, die bekende kerkie. Bo op die bult op pad na die begraafplaas staan sy bekende “Kraaie” in die middel van ‘n koringland presies waar Van Gogh dit geskilder het.

By die begraafplaas staan toeriste rond. En teen die buitekant van die begraafplaas is ‘n dubbele graf. Vincent en Theo.

Lees alle vorige berigte oor Thomas en Retha Dreyer op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

7 Kommentare

Eish ·

Dit was maar n troostelose, depressiewe figuur. Kuns is nie my sterkpunt nie. Ek sal eerder n Rembrant met sy volmaakte verhoudings, balans en lewensgetrouheid as kuns beskou. Van Gogh se skilderye lyk vir my te veel na iets uit n kinderboek.
Dankie vir die deel.

Tess ·

‘n baie hartseer verhaal van ‘n baie talentvolle en sensitiewe kunstenaar.

Justice ·

Baie dankie Thomas – dit was nou insiggewend en uitstekend geskryf!

alwyn burger ·

Van Gogh se werk was nie bedoel om lewensgetrou te wees nie. Hy was ñ impressionis : hy het iets geskilder soos hy dit gesien (of soos hy op daardie oomblik gevoel het) Sy broer Cor het tydens die ABO aan die Republieke se kant geveg. Hy het in 1900 selfmoord gepleeg ( familiekwaal?)

Eish ·

Dankie vir die verduideliking. Genadiglik kan ek nou ook die kloutjie by die oor bring.

Eish ·

Genadiglik leef hy nie tans in die helhool as blanke Afrikaansprekende nie. Ek dink hy sou dan nie eers een skildery verkoop het nie. Al sy kwassies, esels en verf sou lankal voete gekry het.
Om nie eens te praat van hoe die skilderye sou lyk nie! Pikdonker strepe van afwisselende dikte dalk?

Chrisel ·

Soos gewoonlik ‘n heerlike stuk om te lees, baie dankie vir alles wat jul deel. Wat ‘n voorreg om daar te kon stap en sien! Wonderlike skilder, kyk hoe perfek is die kerk, die intense gebruik van kleur. My gunsteling is Café Terrace at Night. Sy skilderye lewe, defnitief nie kinderkuns nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.