Op reis deur Europa: Wêreldreisiger Christopher Columbus

Christopher Columbus (Foto: Thomas Dreyer)

Thomas Dreyer en sy vrou, Retha, is besig met ʼn reis (met ʼn baie beperkte begroting) deur Europa. Hulle is oorspronklik van Pretoria.

Deur Thomas Dreyer

Ons stap deur die nou Middeleeuse straatjies van Genoa op soek na ‘n Margarita-pizza. Ons draai bult op in ‘n breër straat en stap deur een van Genoa se Middeleeuse poorte, die Porta Soprano.

‘n Entjie verder aan die linkerkant is ‘n klein ou huisie, toegegroei met heldergroen rankplante. Twee vlae wapper voor die huis en ons stap nader. “Casa Columbo” – huis van Christopher Columbus. Ons stap binne. ‘n Eenvoudige dubbelverdiepinghuisie.

Christopher Columbus is in Oktober 1451 hier gebore en het hier gebly tot op 15-jarige ouderdom. Hy was ‘n ywerige leerder en het homself Latyn, Portugees en Spaans geleer. Hy het op sy eie geskiedenis, aardrykskunde, sterrekunde en die Bybel bestudeer en was baie godsdienstig.

Columbus is bekend as die persoon wat die Amerikas ontdek het. Op soek na ‘n weswaartse speseryroete na Indië het hy die Karibiese eilande ontdek en dit Indië genoem – vandag die Wes-Indiese Eilande.

Columbus het hom deur niks laat stuit nie. Hy het by die konings van Portugal, Engeland en Spanje ondersteuning vir sy beplande ekspedisie gesoek. Hulle was egter meer geïnteresseerd in Bartolomeus Diaz se ontdekking van die Kaapse seeroete in 1488.

Ná sewe jaar het hy uiteindelik in 1492 Spanje se ondersteuning gekry en het hy op sy eerste ekspedisie vertrek. Tussen 1492 en 1503 sou hy vier ontdekkingstogte onderneem, elke keer met meer skepe en setlaars vir die nuwe gebiede.

Die Spaanse koning het Columbus aangestel as goewerneur van enige gebiede wat hy sou ontdek. Hy was egter ‘n wrede veroweraar en goewerneur. Hy het inwoners gedwing om vir hom goud te bring anders het hy hulle hande afgekap en laat doodbloei. Sy soldate het gesteel, verkrag, vermink en vermoor in hulle soeke na mitiese goudskatte.

Opstande het hy onderdruk deur inwoners te vermink en die verminkte liggaamsdele deur die strate te laat dra as afskrikmiddel. Hy en sy mede-besetters het Europese siektes na die eilande gebring sodat inwoners én besetters in hulle duisendtalle gesterf het.

Hy het op ‘n ongekende skaal met slawe handel gedryf. Van dié slawe het slegs 40% Europa bereik. Dit, saam met al die ander gruwels, het tot grootskaalse sterftes onder die inheemse bevolkings gelei – selfs tot die totale uitwissing van die Taino-bevolking.

Christopher Columbus (Foto: Thomas Dreyer)

Ná ‘n opstand deur die Spaanse koloniste teen Columbus se wrede regering is hy in 1500 gevange geneem, na Spanje teruggestuur en deur die Spaanse koning onthef as goewerneur.

Columbus het sy ontdekkingstogte gesien as die verspreiding van die Katolieke godsdiens. Hy het die plekke wat hy ontdek het na Katolieke heiliges vernoem en homself gesien as die vervulling van Bybelse profesieë.

Sy eie gesondheid het egter onder sy ekspedisies gely en hy het gebuk gegaan onder seksueel oordraagbare siektes, wanvoeding en longkwale. Hy sterf op 20 Mei 1506 op 54-jarige leeftyd en word in Valladolid, Spanje, begrawe.

Soos met sy lewe, so was dit ook met sy dood – hy het ‘n wêreldreisiger gebly. Hy is herbegrawe in Seville, daarna in die Dominikaanse Republiek, daarna in Kuba en uiteindelik in die katedraal in Seville, Spanje.

Die Amerikas is nooit na Columbus vernoem nie, maar na ‘n Floraanse kartograaf Amerigo Verspucci. Hy het ná Columbus se eerste reis korrek beweer dat Columbus nie Indië ontdek het nie, maar ‘n nuwe onbekende kontinent.

Vandag nog is lande, strate, pleine, dorpe en vakansiedae wêreldwyd na hom vernoem. Die pous het selfs in ‘n stadium oorweeg om hom as heilige te verklaar.

Langs die treinstasie in Genoa is ‘n “Tabacchi”-winkel waar ek ons weeklikse kaartjie vir die trein, metro en busse by ‘n vriendelik stokou Italiaanse “mamma” gekoop het. Langs die winkeltjie is ‘n parkie met ‘n enorme monument van Christopher Columbus.

Spierwit marmerpanele reg rondom vertel sy verhaal. Van hoe hy die koning van Spanje oortuig het om sy ekspedisies te finansier, sy oorloë teen die inboorlinge en sy verspreiding van die Katolieke godsdiens.

‘n Bloedige veroweraar in die naam van godsdiens. ‘n Gevierde held.

Met erkenning aan Wikipedia

Lees alle vorige berigte oor Thomas en Retha Dreyer op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Eish ·

Keurige artikel en soos altyd goed nagevors. Moet sê, ek het vandag n kant van Columbus gesien waarvan ek totaal onbewus was. Baie dankie vir die artikel!

Paul ·

Iets wat mens sou kon byvoeg is dat die rede waarom niemand aanvanklik vir hom wou finansiering gee vir sy reis nie, is omdat hy heeltemal verkeerd was oor talle feite, en ander mense het dit geweet.

Mense het (reeds minstens sedert die antieke Grieke) geweet dat die aarde rond is, en (korrek) in 300 v.C. uitgewerk met die hoeke van skaduwees dat die omtrek van die aardbol sowat 40 000 kilometer is. Colombus het egter verkeerdelik gesê dat dit slegs sowat 30 000 kilometer is. Colombus het ook verkeerdelik gereken dat die Asiatiese kontinent baie groter is en verder oos strek as wat ander mense (korrek) geweet het dat dit strek. Dit het Colombus verkeerdelik tot die gevolgtrekking laat kom dat Japan (destyds as deel van “Indië” geklassifiseer deur Europeërs) skaars meer as 4000 kilometer van Spanje af is. Hy was totaal verkeerd – Japan is meer as 20 000 km van Spanje af.

Hy het bloot ‘n groot gelukskoot getref, want as die Amerikaanse kontinent (en eilande) nie in sy pad was nie, sou hy en sy hele ekspedisie gesterf het op die oop see.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.