Op vlerke: Nostalgie en die Nyamundwadam

Op-vlerke-olifante-01

Dagbreek in Olifantskamp. Foto: Verskaf.

André Christof

Later jare, wanneer ons ná ʼn paar dae se oorbly in die Krugerwildtuin terug keer huis toe, het ons ondervind dat ons daardie laaste dag, soos ons nader aan die uitgangshek kom, al stiller raak. Dit was asof die besef ʼn mens al klaar weer laat verlang.

Ons woon wel nie ver van die Krugerwildtuin af nie en is ook nogal dikwels vir ʼn dagbesoek daar, maar dit is egter nie dieselfde as wat ʼn mens met die oornagbesoeke ondervind nie.

Dan is ʼn mens rustiger, jy kan op jou tyd die natuur, voëls en diere geniet, of dit nou by die watergate of daar langs die pad is waar jy stilhou.

Die aand- en naggeluide in die onderskeie ruskampe het elkeen sy eie bekoring.

Die braaivleisvure brand, nou en dan trek ʼn vonkie en jy rúík die hardekool.

Wanneer ʼn ligte briesie deur die kamp trek, hoor jy die blaartjies in die bome langs die rondawel ritsel.

ʼn Mens hoor hoe die laatmiddag voëls, die bittereinders, soos die lysters, een-een skemeraand gaan slaap. Nie lank nie, begin hier en daar ʼn naggeluid vroegaand sy opwagting maak, dit sluip so stilweg in.

Die tjirrrrt, tjirrrrt, tjirrrrt, tjirrrrt van ʼn kriekie, nou en dan. ʼn Takkie wat anderkant die kamp se omheining kraak.

Later hoor ʼn mens dalk die sagte prrup-prrrup, prrup-prrrup– roep van die Afrikaanse skopsuiltjie. Of die onverwagse luide háá, háá, háá, háá, háá van ʼn bosnagapie in die bome.

By geleentheid het ons bykans die heel nag deur ʼn piet-my-vrou hoor roep: weet-weet-weeoo, weet-weet-weeoo, nadat ons laatmiddag al van hom bewus geraak het.

Die volgende oggend vroeg is daar ander geluide.

Jy ruik die nuwe dag, daar waar jy die son se eerste strale, tussen die bome, met ʼn koppie koffie op die stoep, sit en beloer.

Wat ons toe begin doen het was om, wanneer ons vir ʼn paar dae of ʼn week in die park bespreek, sommer terselfdertyd ook vir ʼn paar dae die daaropvolgende maand, of vir twee maande vorentoe te bespreek.

Wanneer ons dan die laaste dag op pad huis toe is, sien ons sommer geesdriftig al weer uit na die volgende besoek.

So gaan ons een jaar, nadat ons die vorige maand daar was, aan die begin van Augustus, om en by nege uur die oggend by Phabeni-hek, vir twee nagte se oorslaap in Satarakamp, die Krugerwildtuin binne.

Die lang geelwit grasse waai in die ligte briesie wat daar trek.

Baie bome se takke is kaal en ʼn mens sien sommer tot daar ágter in die veld. Dan verwonder ons ons altyd daaraan, wanneer ons weer oor ʼn maand of twee met ʼn besoek daar is, om te sien dat daardie bome wat nou so dood lyk, se takke vol van die nuwe groenigheid is.

ʼn Ent anderkant die laagwaterbrug oor die Hlulamadvodza-rivier staan drie opgeskote olifantjies in die veld wat stoppel gebrand is aan die droë blare van jong boompies en vreet.

Hulle maak so ʼn paar takke met die slurpe bymekaar, krul dit daarom, knak die takke dat dit so klap, dan sit hulle dit in hul bekke. Terwyl hulle kou strek hulle die slurpe al weer na ʼn volgende klompie takke toe uit en loer so met die half-toe oë onder die wimpers deur.

Daar sien ʼn mens sulke paadjies wat in alle rigtings, soos dit deur die diere uitgetrap is, kronkel, en is die blare aan die onderkant van die struike so roes-bruin geskroei.

Verder die veld in gewaar ons ʼn nog kleiner olifantjie met sulke kort tandjies, dan ook ʼn paar groot lywe verder na agter tussen die ruigtes deur.

'n Olifant staan rustig en vreet. Foto: Verskaf.

‘n Olifant staan rustig en vreet. Foto: Verskaf.

Nie ver daarvandaan nie, waar ʼn groot trop rooibokke links van die pad vir ʼn ent uitgestrek aan bossies staan en vreet, beloer ons vyf koedoes wat die veld in loop.

Tjee-tjákla, tjee-tjákla, tjee-tjákla hoor ons skielik die kletter-roep van twee bospatryse in duet.

Net nadat ons daar weggetrek het om die rit voor te sit, hardloop ʼn bruin dwergmuishondjie ʼn ent voor ons vervaard oor die pad, die stertjie so reguit na agter, waarna dit aan die regterkant in die lang droë geelwit grasse verdwyn.

Om en by kwart voor tien draai ons by ʼn grondpaadjie af en gaan hou so 200 m verder voor ʼn groot boom langs die vol Nyamundwadam stil.

Kate beweeg tussen die voorste sitplekke deur na agter in die kar. Sy slaan die middelste sitplek se rugleuning plat, waarna sy vir ons elkeen ʼn Tupperware-houer met ʼn bruinsaadtoebroodjie met blaarslaai, agurkie en rooi- en geel soetrissie en ʼn stukkie hoender van die vorige aand se ete in, uit die koelhouer in die bagasieruim haal.

Daarna haal sy die Stanley-fles en koffiebekers uit die drasak en skink vir ons koffie. Dan sit en smul ons terwyl ons die omgewing verder bespied.

Die oppervlak van die dam is spieëlglad, die bome en droë geelwit grasse, wat uitgestrek aan die anderkant oor die lengte van die dam staan, weerkaats in die water.

ʼn Enkele waterbokkoei staan daar in die middel, reg oorkant ons, op die wal en wei in die groenigheid wat sy daar raakgeloop het.

Dan merk ons ʼn ent agter haar en verder na links, tussen die bome en lang grasse deur, nog twee waterbokke wat daar wei.

Nou en dan vlieg ʼn mikstertbyvanger uit ʼn boom in die omgewing van die waterbokkoeie oor die grasse, waar dit ʼn vangs maak en dan terug na die boom vlieg om die insek dáár te gaan vreet.

ʼn Ligte briesie trek oor die veld. Ons sien ook af en toe waar insekte op plekke aan die oppervlak van die dam raak en waar dit daar sulke kringetjies maak.

Nyamundwadam. Foto: Verskaf.

Nyamundwadam. Foto: Verskaf.

Op ʼn stadium hou ons twee visarende, wat regs van ons aan die voorkant van ʼn groot boom sit, dop.

Af en toe vlieg hulle so ʼn wye draai oor die dam. Weee-ah kiow-kou-kou, weee-ah kiow-kou-kou roep die wyfie terwyl sy die kop oor die rug gooi. Weee-ah kiow-kou-kou, weee-ah kiow-kou-kou, antwoord die mannetjie bykans onmiddellik, ook met die kop oor die rug, op ʼn hoër noot.

Met die terugkomslag word die roepe nog so ʼn keer herhaal, dan gaan sit hulle weer daar aan die voorkant in die boom.

Later gewaar ons ʼn ent links van ons ʼn beweging in die veld, so tussen die kaal takke aan die onderkant van die kruin van ʼn paar boompies en sulke lang geelbruin grasse wat daar in die voorgrond staan deur. Na ʼn wyle sien ons dit is drie rooibokooitjies wat in so ʼn strook kort groen gras, wat daar groei, wei.

ʼn Mens sien net die lywe, met die nekke wat gebuig is, uitsteek soos die koppe tot teen die grond laat sak is.

Op ʼn stadium lig ʼn ooi die kop, kyk vir ʼn wyle oor die veld uit en lek dan met die tongetjie voor teen die blad.

Nou en dan waai een die stert dat die wit so flits, soos hulle stadig, al vretende, dieper die ruigtes in beweeg.

Tienk tienk tienk, tienk tienk tienk roep ʼn paar bontkiewiete af en toe waar hulle daar in die omgewing van die bokkies insekte in die kort groen gras jag.

Doo-doo-doo-doo, doo-doo-doo-doo borrel ʼn gewone vleiloerie elke nou en dan, daar uit die rigting van die bokkies. Na ʼn tydjie se soek gewaar ons een wat aan die voorkant van een van die boompies waaragter die drie rooibokooitjies gewei het, sit.

Later vlieg die loerie laag oor die grond voor ons verby en gaan sit dan in ʼn bossie ʼn hele ent weg regs op die wal.

Nadat Kate die Tupperware-houers en koffiebekers in die bagasieruim weggepak het, het ons nog ʼn wyle daar vertoef en toe die rit op die Doispane-pad in die rigting van Skukuza voortgesit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae