Op vlerke: Nuuskierige renosters en uitlaatgasse

Op-vlerke-renosters-01

Renosters by Afsaal. Foto: Verskaf

André Christof

Verder teen die Sabierivier op, van die plek waar ons die bobbejane sit en beloer het, tot anderkant Skukuza, was die veld baie rustig.

Dit was egter oor die warmste deel van die dag terwyl meeste van die diere nie baie beweeg het nie.

Ook by Klipspringerkoppies, daar by die afdraai na Afsaal se kant toe waar ’n mens gereeld klipspringertjies kan sien wat hoog op ’n rots in die skaduwee van ’n boom se oorhangtakke staan, of op die voorlyfies lê, of dalk daar onder die koppie waar hulle by tye aan blaartjies van jong struike staan en vreet, was daar niks te sien nie.

By Kwaggaspan kom twee kameelperde ritmies met die lang bene anderkant die sementdam uit die veld aangestap. Hulle loop verby die dam, gaan staan ’n ent van die suiping en kyk oor die veld uit.

Later loop een van die kameelperde na die suiping en kyk teen die kant af. Rooibekrenostervoëltjies vlieg van die nek en gaan sit op die wal. Ná ’n wyle plaas die kameelperd sy voorpote wyd, hy laat sy kop sak en teug dan die water.

Die volgende oomblik kom hy regop, swaai sy voorlyf skuins terug dat die water met so ’n boog deur die lug trek.

Daarna stap hy ’n ent weg en staar na agter oor die veld.

Later draai die bul terug en gaan staan weer by die water. Nie lank nie of hy buig weer die voorbene. Hy plaas die pote, laat die voorlyf sak en toé suip hy.

Toe kom die kameelperd-koei wat heeltyd daar eenkant gewag het ook na die water om te suip.

Anderkant Afsaal se uitspanplek gewaar ons twee witrenosters wat ’n ent weg regs van die pad in die veld wei, die een so ’n grote.

Imposant is hulle met die lang gepunte voorste neushorings.

Hulle wei met die koppe laag oor die grond op ’n plek waar daar so ’n strook groenigheid tussen die droë grasse te bespeur is.

Voetjie vir voetjie stap hulle terwyl hulle die kort gras met die breë plat bekke afvreet. Hulle draai die ore, voor, agter, na die kante en luister gedurig na wat die bos vertel.

Ons hoor die vreetgeluide, nou en dan so ’n blaasgeluid. ’n Paar maal gaan staan een ’n oomblik stil, dan loop hy weer stadig vorentoe.

Skielik kom ’n donker skaduwee oor die pad bó ons verby en gaan ’n ent voor ons teen die kant af. Kantelend in die wind sweef die berghaan oor die uitgestrekte vlaktes, die kop na die grond gekeer soos hy soek.

’n Ent weg maak hy ’n wye draai, kom met daardie rooi pote onder die lyf weer bokant ons verby gesweef, die punte van die vlerke wapper in die wind, die nek is gekrom, dan draai die berghaan weg die veld in.

Krraae-krraae-krraae-krraae, krraae-krraae-krraae-krraae, krys een. Ons soek en sien later ’n bosveldfisant wat ’n ent vorentoe in die veld onder ’n bossie staan.

Proewhiet peeleoe, proewhiet peeleoe peeleoe, hoor ons en gewaar ’n groepie Afrikaanse langstertlaksmanne met die pragtige swart-wit verekleed en lang wimpelsterte wat anderkant die pad op die takkies van ’n struik sit.

Nie lank nie, vlieg hulle na ’n struik ’n entjie verder, dan gesels hulle so aanmekaar, proewhiet peeleoe, proewhiet peeleoe peeleoe.

Hier en daar gaan sit een op die grond. Eers hop hulle tussen die gras rond en pik na insekte, dan vlieg hulle agter die ander aan na ’n volgende struik.

Proewhiet peeleoe, proewhiet peeleoe peeleoe, gesels hulle weer.

Ons kom so halfvier die middag in Berg-en-Dalkamp aan en laai die bagasie af in die bungalow met die grasdak wat teen die kant van die kamp geleë is. Die kombuis, ook die stoep met braaiarea, is lekker ruim.

Op-vlerke-renosters-02

Kolganse by Berg-en-Dalkamp se dam. Foto: Verskaf.

Nadat ons ’n vrugtesap geniet het, loop ons na die uitkykpunt by die dam onderkant die winkelkompleks en beloer die omgewing vir ’n wyle.

Onder een van die bome naby die bank waarop ons sit, gewaar ons ’n paar lemoenduifies wat daar op die grond kossies soek.

Een mannetjie pronk daar by die wyfie. Ooo-koo-koo-koo, ooo-koo-koo-koo, gesels hy terwyl hy die pootjies hoog lig en al om die wyfie trap. Hy pof die boborsvere, dan gaan die voorlyf en koppie so op en af.

’n Paar kolganse staan aan die oorkant van die dam voor sulke lang gras in die vlak water. Hulle woel met die bekke tussen die vere, teen die lywe en onder die vlerke. Nou en dan woel dit agter by die kliertjies, dan weer onder die vlerke soos hulle die olie smeer.

Later gewaar ons ’n hele paar skarnierwaterskilpadjies wat daar langs die wal op ’n skuins sementstutmuur aan die onderkant van die dam in die laatmiddagsonnetjie lê.

Regs van die omheining sit ’n groot bloukopkoggelmander op ’n klip in die sonnetjie en bak. Hy stut op die voorpote met die kop gelig soos hy rond kyk.

Trrrp-trrrrrrrr, trrrp-trrrrrrrr, gesels die bosveldvisvangers dat hoor en sien vergaan.

Kok, hoor ons. Na ’n wyle hoor ons die bloukuifloerie weer net so ’n kok-geluid maak. Toe sien ons een wat ’n ent agter ons in ’n boom sit.

Kok-kok-kok-kok-kok, trek hy skielik los, dan wys die pragtige skarlakenrooi-ondervlerke soos hy blitsvinnig in die takke opskarrel. Hy wip na ’n tak hoër op, dan vlieg hy na ’n boom langsaan.

Ook hoor ons ’n visarend roep. Ons soek en sien een wat skuins regs van ons langs die rivier af vlieg.

Weee-ah kiow-kou-kou, weee-ah kiow-kou-kou, roep die wyfie terwyl sy die kop oor die rug gooi.

Weee-ah kiow-kou-kou, weee-ah kiow-kou-kou, antwoord die mannetjie op ’n hoër noot, dan gaan sit die wyfie by hom, oorkant die rivier, in ’n boom.

Elke nou en dan vlieg ’n voëltjie bokant ons in die bome verby, dan hou ons ook op ’n stadium twee rooikophoutkappers dop. ’n Paar maal gaan sit een op die draadomheining, dan kyk hy rond en vlieg weer na die ander een in die boom.

Die volgende oomblik hoor ons ’n skor, krrrr krrrr, toe bars die roep van die houtkappers in ’n harde duet uit wat weerklink oor die kamp. Toe-poédelie toe-poédelie toe-poédelie.

Die houtkappers het nog ’n paar maal die luide duet-roep herhaal, toe in die rigting van die kamp gevlieg.

Op pad terug na die bungalow maak ons ’n draai in die winkel vir skaaptjops, boerewors, ’n pakkie soetmielies, vars tamaties, blaarslaai, agurkies, olywe, ’n Du Toitskloof-pinotage en hout vir die aand se braai.

Om en by halfses steek ek die vuur aan en gaan hou daarna vir Kate in die kombuis geselskap.

Sy het intussen die soetmielies in ’n pot op die stofie gesit. Dié stap rustig aan terwyl sy nou ’n mengelslaai maak.

Toe sy klaar is met die slaai, maak ek vir ons die pinotage oop en sink vir ons elkeen ’n glas.

Op die stoep gaan sit ons en tuur in die vlamme terwyl ons oor die dag se gebeure gesels. Af en toe klap daar ’n houtjie, dan trék die vonkies.

Háá háá, ha háá, skree ’n paar hadidas soos hulle bokant ons verbyvlieg op pad na hul slaapplek.

Later pak ek nog twee stompe op die vuur en skink vir elkeen nog ’n glas.

Die vuur is warm en brand nou éérs lekker. Daar trek so ’n rokie in die ligte briesie tussen die bome deur. Ons ruik die hardekool.

Op-vlerke-renosters-03

Die bungalow by Berg-en-Dalkamp. Foto: Verskaf.

Toe die hout begin kole maak krap ek van die kole eenkant, laat die rooster sak en sit die skaaptjops en boerewors op.

Hô-hô hô, gesels die seekoei daar onder in die dam.

Háá, háá, háá, háá, háá, skree ’n bosnagapie in die bome.

Ná ete was ons die skottelgoed, maak koffie en sit nog ’n paar groot stompe op die kole.

Kate skakel die stoeplig af en kom by my langs die vuur sit.

Tjirrrrt tjirrrrt tjirrrrt tjirrrrt, gesels ’n kriekie in die gras.

Whoooo-hú, whoooo-hú, whoooo-hú, hoor ons ’n hiëna naby die kamp.

So teen halfnege gaan kruip ons in.

Koe-koe koekoe koe-koe, koe-koe koekoe koe-koe, roep ’n grootringduif ons die volgende oggend wakker.

Kek kék-kék-kék, kek kék-kék-kék, krys die Natalse fisantmannetjie.

Kate maak ontbyt: Sy haal die braaipan uit, smeer twee bruin-saadbroodjies weerskante met botter, plaas rugspek met ’n bietjie olie in die pan en braai dit saam met die broodjies.

Later breek sy twee eiers by en maak ook vir elkeen ’n stukkie van die oorblywors van die vorige aand warm.

Nadat ek koffie gemaak het smeer ek van die groot geel romerige botter-avokado uit die yskas ruim op die gebraaide broodjies, toe rasper ek cheddarkaas fyn.

Kate skep die saggebakte eiers op die broodjies. Daarna sit sy die gerasperde kaas bo-op, ook sit sy vir elk ’n wors en van die gebraaide spek by.

Terwyl ons ontbyt op die stoep geniet, luister ons na die oggendgeluide om ons.

Tjietjietjietjietjie, tjietjietjietjietjie, skree twee boomeekhorinkies waar hulle mekaar al sommer vroegoggend oor die grond jaag.

Op ’n stadium gaan sit hulle ’n entjie van ‘n boom af, beloer mekaar terwyl hulle die stertjies pof. Ewe skielik spring hulle met ’n spoed weg, jaag oor die gras en dan in die boom op.

Tjietjietjietjietjie, tjietjietjietjietjie, skree hulle.

Kiep, kiep, kiep, kiep, hoor ons. Nie lank nie, kom ’n Natalse fisant agter die bungalow uitgestap. Hy stap so treetjie vir treetjie op die gras soos hy soek.

Ook gewaar ons ’n eekhorinkie wat aan die onderkant van ’n boom sit. Hy loer versigtig en ná ’n wyle kom hy nader, hy wip-wip die stertjie en snuffel dan langs die stoep.

Later sien ons hy sit op sy agterent, dan knabbel hy aan iets wat hy tussen die voorpootjies vashou, ’n mens sien net bolkiesies.

Ons pak die motor en trek so om en by negeuur by Berg-en-Dal weg. Die plan is om by Skukuza ’n draai te maak voor ons die wildtuin by Phabeni-hek verlaat.

Op die pad na Afsaal sien ons gereeld rooibokkies in die veld, ’n paar maal ’n roofvoël in die lug.

Op-vlerke-renosters-04

Renosters voor Afsaal. Foto: Verskaf.

In die omgewing van Renosterpan se afdraai, so vyf kilometer voor Afsaal, loop daar drie witrenosters agter mekaar aan die regterkant van die pad, die koppe laag oor die grond soos hulle ruik.

Doelgerig is hulle op pad na ’n klomp mis wat ’n ent vorentoe langs die kant van die pad lê.

’n Renoster se sig is baie swak, sy gehoor en reuksin is egter weer uitsonderlik ontwikkel en hy is daarop aangewese om hom te vertel wat in die bos gebeur. Daarom sal hulle ook dikwels met die pote in mis grawe en dit beruik.

Kate beweeg oudergewoonte tussen die voorste sitplekke deur na agter in die motor sodat sy vry is om van enige kant videos te kan neem.

Ek ry stadig langs die renosters verby en hou ’n ent anderkant hulle met die neus van die motor skuins regs oor die pad só stil dat Kate hulle uit die regterkantse venster kan beloer.

Soos hulle nader kom, draai hulle die ore gedurig, voor, na die kante, agter, die neuse bly laag oor die pad. Ongestoord stap hulle op die mis af. Ons hoor die pote soos dit sulke sleepgeluide op die teer maak.

Twee renosters gaan staan naby die mis, ruik ’n tyd lank en dan begin hulle stadig na die anderkant van die pad beweeg. Ons kan sien hulle het ’n ander reuk waargeneem wat hulle nou interesseer.

Die derde renoster stap tot by die mis. Daar staan en ruik hy vir ruk en volg later die ander twee wat op die pad bly ruik soos hulle nou aan die anderkant van die pad naderkom.

Ek ry ’n entjie vorentoe en na die teenoorgestelde kant van die pad, draai dan met die neus van die kar na die linkerkant. Kate skuif ook daar agter oor sodat sy nou vanuit die linkerkantse venster hul bewegings kan volg.

Op-vlerke-renosters-05

Foto: Verskaf.

Ons kom later agter, soos ek heen en weer met die kar oor die pad beweeg, dat hulle presies dieselfde lyn volg en ook heen en weer oor die pad agter die kar aan stap, die een renoster sommer hier naby ons.

Al wat ons toe aan kon dink was dat dit die uitlaatgas was wat die kar afgee wat hul nuuskierigheid geprikkel het.

Ek het nie stilgehou om te kyk wat sou gebeur het as hulle by die kar sou uitkom nie.

Van daar ry ons reguit deur tot by Skukuza, koop vrugtesap by die winkel en geniet dit op ’n bank onder die groot bome langs die rivier.

Daar hou ons vir ’n wyle ’n seekoei dop wat in die rigting van die treinbrug in die riete langs die water staan en vreet, toe vat ons die pad na Phabeni-hek.

Later beloer ons by ’n groot oop stuk veld langs die Doispane-pad, waar nuwe grasspriete ná ’n brand groei, ’n hele paar kameelperde in die veld.

’n Kalfie staan ’n entjie van ons af doodstil en kyk in ons rigting. Sy stertjie krul stadig teen die een boud op, dan hang die stert weer. Nie lank nie, krul dit weer die stert teen die ander boud op.

Toe draai sy om en stap so ’n draai om ’n grote wat ’n entjie weg staan en herkou. Dié skud so ’n slag sy nek dat die maanhare oor die lengte van die hele nek heen en weer gaan.

Later gewaar ons ’n beroering ’n hele ent anderkant die kameelperde en sien ’n hele klomp rooibokramme wat in die veld maal, gedurigdeur aan die beweeg. Van hulle staan en vreet in die kort grasse.

Nou en dan stap ’n rammetjie na ’n ander een, maak sulke blaasgeluide soos hy skoorsoekend agter hom aanloop. As hy by hom kom, laat hy die kop sak, leun so oor terwyl hy die horings wys en dan beweeg die ander een weg.

Hier en daar waai ’n bokkie die stertjie dat die wit so flits.

’n Rooibok kap-kap by ’n bossie waaraan hy staan en vreet so ’n paar maal met ’n agterpoot op die grond. Die volgende oomblik vlieg hy met die kop om en kyk na agter, dan stap hy weg van die bossie en gaan vreet in die gras.

Op-vlerke-renosters-06

‘n Kameelperd en sebra by die Phabenipad. Foto: Verskaf.

’n Entjie verder staan ’n troppie sebras in die kort groen gras op die gebrande veld naby nog ’n paar kameelperde en vreet. Nou en dan stap hulle ’n paar tree vorentoe, dan werk hulle weer die gras met die lippe nader.

Die een sebra skud ’n slag die nek dat die maanhare woes heen en weer gaan.

’n Vlakvarkbeer met sulke groot tande kom haastig uit die veld gedraf, ’n mens sien net die antenna staan, dan draf hy oor die pad en verdwyn in die lang geel-wit gras aan die anderkant in die veld.

Om en by drieuur die middag gaan ons deur die Phabenihek en vat die pad huis toe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae