Ouwêreldse treintoere is weer hoogmode

JB Treintoere (Foto: Facebook)

JB Treintoere (Foto: Facebook)

Een ding is gewis: Sommige dinge wakker die nostalgie meer aan as ander. Só ʼn ouwêreldse bekoring is treintoere – pa en ma sou die koffers pak, maar nie té veel klere nie; een aan die bas, een vir die was, en een vir die kas. Ma sou boetie en sussie vroegoggend wakker maak om met vakansie te vertrek en die gesin sou heelpad op pad na hul bestemming kaart speel en spoorwegkoffie drink.

Hoewel treintoere sedert 2006, toe talle van dié treintoer-ondernemings gesluit het, byna nie meer so bekend was soos destyds nie, is dié metode van vakansie hou nou beslis iets wat weer herleef, meen die eienaar van JB Treintoere, Johan Badenhorst.

Treintoere is immers in dieselfde klas as die inryteater, stoomskepe en die melkman wat vars melk op jou voorstoep kom aflewer het.

Badenhorst meen egter, anders as die inryteater en stoomskepe, het dié ouwêreldse tradisie onlangs van voor af vlamgevat en begin al meer mense weer dié vakansies kies.

Afhangend van die toer, kry vakansiegangers ook etes (Foto: Facebook)

Afhangend van die toer, kry vakansiegangers ook etes (Foto: Facebook)

JB Treintoere, wat sedert 1975 bestaan,  onderneem toere na onder meer Kaapstad, Durban, Bloemfontein, Namibië en Namakwaland.

Hoewel die onderneming nie meer sy eie treine besit nie, maak hy steeds gebruik van sogenaamde geskeduleerde treine om te verseker dat dié treinritte ʼn pretreis is wat vakansiegangers weer en weer sal wil hê.

“Statistieke wys dat die aantal toere jaarliks toeneem. Dit is beslis ʼn vorm van vakansie wat herleef, en al meer mense wil die ou nostalgie daarvan beleef, of die jonger mense wil bloot net nuwe ervarings hê,” verduidelik Badenhorst.

Die toere verskil egter van dié wat destyds onderneem is. “Vakansiegangers klim nou op die trein, en na gelang van die bestemming, ry hulle so 27 of 28 uur. Dan ry hulle met luukse busse en gaan vir ʼn week, of wat ook al die tydperk, in ʼn hotel tuis, en ry dan weer terug met die trein.

“Wat hierdie vakansie so spesiaal maak, is dat gesinne die geleentheid kry om weer met mekaar te gesels sonder ʼn televisie of sulke dinge. Skielik is hulle in ʼn kompartement en hulle speel kaart en drink koffie en kan die omgewing bewonder sonder om bekommerd te wees oor die rit of te konsentreer op die oop pad. Hulle ontmoet ook hulle bure in die kompartement langsaan, en maak byna altyd goeie vriende,” het hy vertel.

Dié toer het ook gʼn spietkops nie, jy kan nie verdwaal nie, jy hoef nie te soek na ʼn restaurant om die hongerpyne te stil nie en jy hoef jou allermins te bekommer oor petrol.

'n Sitkamer maak die treinrit meer gemaklik (Foto: Facebook)

‘n Sitkamer maak die treinrit meer gemaklik (Foto: Facebook)

Na gelang van die spesifieke toer, kry vakansiegangers ook twee etes ʼn dag, en ʼn gids om jou by die spesifieke bestemming rond te wys.

“Ons sien dikwels die vakansiegangers hang aan die lippe van die gidse, veral omdat hulle kenners op daardie spesifieke gebied is wat hulle kan vat na plekke waar hulle nog nie voorheen was of van gehoor het nie.”

Reinard du Plessis, ATKV se hoofbestuurder van bemarking, meen dié organisasie het saam met JB Treintoere kragte gesnoer om Suid-Afrikaners aan te moedig om die land op nuwe maniere te verken.

“Mens kan die nostalgie van ’n treinrit en gesinsvakansies in jou jeug byna in jou geestesoog sien. Daarom het die ATKV saam met JB Toere saamgespan om alle Suid-Afrikaners aan te moedig om hul land op ’n nuwe manier te verken. Die rustige ritme van die trein op sy spoor is die perfekte manier om jou voor te berei vir ’n wegbreek na een van ons sewe spogoorde,” het hy gesê.

Toere word vir die hele jaar geskeduleer en bestaan uit roetes tussen Pretoria en Kaapstad, Johannesburg en Kaapstad, tussen dié dorpe en Bloemfontein, Durban en ook Namakwaland en Namibië.

Jy kan die toere ook onderneem in verskeie klasse, onder meer die toeristeklas en die eersteklas, na gelang van dit wat jou sak pas.

Vir ʼn volledige uiteensetting van die toere wat vir die res van die jaar beplan is, besoek JB Treintoere se webwerf.

Besoek ook hul Facebook-blad vir meer inligting, of stuur ʼn e-pos na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ekke ·

Ek het n Desember rit op die “pers en geel trein” vir my en my dogter geboek. Nogal teleurstellend dat 2 vroulike passasiers verplig word om n kompartement met vreemdelinge te deel. 2-bed kompartemente word blykbaar slegs aan getroude paartjies toegeken. Dit laat my onveilig voel. Ek het myself voorgeneem om nooit weer van hierdie vervoermiddel gebruik te maak nie. Die besprekingsagente het die heeltemal verswyg toe ek die bespreking gemaak het. Baie misleidend en onregverdig in my opinie. (ek vra verskoning as ek n dubbele posting gemaak het, nie seker of my vorige kommentaar deurgegaan het nie – internet het onverwags toegemaak…)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.