Pak slim, reis lig

Argieffoto

Argieffoto

Deur die skryf van hierdie artikel is ek seker besig om ‘n moordkuil van my hart te maak… want net omdat ek hierdie wonderlike raad het hoe om lig te pak, is ek baie skuldig daaraan dat ek dit nie self altyd navolg nie.

My man sal verseker sê: “You don’t practice what you preach…” Hy is altyd die gelukkige wenner om die swaarste tas te moet sleep as ons met vakansie gaan.

Ek moet wel tot my eie verdediging sê my tas se grootte en gewig het al aansienlik begin krimp deur die jare.

Op aanvraag van Maroela Media-lesers het ek besluit om wel my goeie raad, wat ek weet werk wanneer ek dit wel toepas, te deel.

Wat sê die lugredery?

Gelukkig is daar lugdiensgewigsvereistes. Daarsonder mag ek dalk selfs nog meer oorboord gegaan het as wat ek reeds doen. Meeste internasionale lugdienste laat tussen 23 kg en 30 kg toe per persoon (bevestig met die lugredery) en tussen 7 kg en 10 kg vir handbagasie (bevestig weereens met die lugredery). Soos my man egter altyd vir my uitwys: Dis ‘n maksimum, nie ‘n mikpunt nie… Selfs al laat hulle 30 kg toe, moet jy nog steeds self daardie 30 kg-tas rondsleep wanneer jy by jou bestemming aankom. Indien dit jou eerste besoek is aan ‘n land sal jy heel moontlik ook lekker baie aandenkings wil saambring en jy moet ook daarvoor voorsiening maak sodat jy nie die maksimumgewig oorskry wanneer jy op pad terug is nie.

Argieffoto

Argieffoto

Pak vir ‘n week

Selfs al gaan jy vir ‘n maand lank toer, probeer om net genoeg vir ‘n week in te pak. Dis makliker om jou eie klere te was of ‘n klerewassery te kry aan die einde van elke week as om ‘n maand se klerekas saam te sleep. Ons vat ook altyd n klein sakkie waspoeier saam sodat ons nie dit daar hoef aan te koop nie.

Meng-en-pas

Die klere wat jy pak moet so na as moontlik in neutrale kleure wees sodat dit ten minste by twee ander items in jou tas pas. Op dié manier kan jy jou uitrustings meng en pas regdeur jou toer en elke keer nuut lyk.

Argieffoto

Argieffoto

Rol jou klere

Daar is baie verskillende opinies oor watter verskil die manier maak waarop mens jou klere inpak. Dit is egter al meestal bewys dat jy meer plek in jou tas het wanneer jy jou klere oprol. Dit help ook dikwels om kreukels uit jou klere te hou.

Probeer ook om kouse en onderklere in leë skoene te sit om te voorkom dat spasie gemors word.

Laag-op-laag (Layer)

Die weer in ‘n ander land kan mens soms onkant vang. Indien jy weet die weer is dalk in ‘n oorgangstadium by jou eindbestemming, probeer klere vat wat jy laag op laag kan dra. Dit maak dat jy maklik kan uittrek as dit te warm raak en maklik kan aantrek as dit koud raak. Dit kan ook help indien jy verkies om nie ‘n groot dik baadjie saam te vat nie.

Argieffoto

Argieffoto

Gebruik wat die hotel bied

Die streng regulasies wat lughawens deesdae op vloeistowwe en rome toepas wat aan boord geneem mag word, maak dit moeilik om groot hoeveelhede saam met jou te neem. Onthou: ‘n mens kan ‘n groter hoeveelheid (normale buisie of bottel groottes) saamneem in jou check-in bagasie maar verkieslik nie meer as 100 ml per item met handbagasie nie. Indien jy nie spesifieke voorkeure in haar-of-badprodukte het nie, is dit jou keuse, maar ek het al agtergekom dit maak mens se tas baie ligter as jy net die geriewe wat die hotel bied, gebruik. Daar is basies altyd sjampoe en stortgel in ‘n hotelkamer. Jy kan selfs vir hulle vra daarvoor. Dalk kan jy net vir ingeval jou eie klein botteltjie inpak.
Ek probeer ook altyd by die hotelle voor die tyd uitvind of hulle ʼn haardroër het. Dit kan ook ʼn groot verskil maak op die gewig van jou tas.

timthumb (1)Die regte klere

Probeer om net twee pare skoene saam te vat. Een vir gemak wat jy ook kan dra wanneer jy vlieg en een wat mooi sal lyk vir ‘n aandjie uit. Indien jy daarvan hou om te reis soos ek dit doen, gaan jy baie loop en dus is gemaklike stapskoene baie belangrik.

‘n Gewone denim is een van die beste en gemaklikste kledingstukke wat jy kan inpak op ‘n toer. Dit het egter soms ‘n effense gewig. Dra dus enige swaar items verkieslik aan jou persoon wanneer jy vlieg. Dit help om jou tas ligter te hou. Dit geld ook vir ‘n baadjie indien jy een moet saamvat. Gooi dit sommer oor jou arm wanneer jy in die vliegtuig instap en bêre dit in die pakruimte bo die sitplekke.

Ekstras

Ek weet dit is baie moeilik om nie noodwendig volgens jou emosionele gemoedstoestand te kan aantrek op so ‘n vakansie nie maar glo my, los daardie “net-vir-ingeval-goedjies” eerder by die huis. Indien jy dit werklik gaan nodig kry kan jy dit aankoop by jou eindbestemming.

*Marianne onderneem al hierdie ervarings en bring jou reisartikel op haar eie onkoste.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Martie en David Jordaan ·

Sjoe, hoe waar praat jy. Ons het nou 6 weke op ons eie getoer in Europa, maar kyk volgende keer net 4 stelle klere, n baadjie en lankbroek. Dit is waar van die lugrederye, maar die wat 30 kg toelaat kan jou in n penarie laat beland wanneer jy in Europa rond vlieg. KLM moet jy nou vanaf Okt 2014 ekstra betaal vir jou bagasie en dit moet net 23kg wees, so nou moet jy die res in die gewig in jou handbagasie instop, wat n storie.Maar nou ja, dit bly nog steeds die moeite werd.
Ons probeer maar weer volgende keer, lig reis asb.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.