Passasiersbootreis: Om te vaar of nie..?

Costa Neo Classica in die hawe in Venesië Foto: Marianne Styan

Costa Neo Classica in die hawe in Venesië Foto: Marianne Styan

Wanneer ʼn passasierskip uit ʼn hawe vaar en jy as toeskouer op die kaai staan, kom die verlange na onbekende bestemmings by jou op. Passasiersboot-advertensies se onbekendheidsfaktor na romantiese bestemmings trek mens soos ʼn magneet.

Ek was bevoorreg om onlangs op so ʼn passasiersbootreis op die Mediterreense See te gaan. Ek deel graag die voor- en nadele van ʼn bootreis met jou.

Redes waarom ek weer op ʼn passasierskip-vakansie sal gaan:

  • Die kos: Dis algemeen bekend dat die kos op passasiersbote uitstekend is. Hierdie keer was dit weer só. Ongelooflik lekker en “aanhoudend”. Van ontbyt tot middagete tot aandete!
  • Uitpak: Mens pak net een keer uit, omdat die “hotel” waarin jy tuisgaan, die boot is waarmee jy die hele vakansie reis.
  • Ontspanningsgeriewe: Die geriewe op die skepe is gewoonlik baie goed ingerig. Daar is aktiwiteite om van te kies en te keur.
  • Die gimnasium: Gratis. Net wat nodig is na al die lekker eet. Gewoonlik net gerieflik ingerig met al die nodige apparate.
  • Aërobiese klasse: Gewoonlik op die swembaddek. Groot pret.
  • Swembad: Meer as een swembad is gewoonlik beskikbaar.
  • Borrelbaddens/jacuzzi’s: Heerlike ontspanning ná die aktiwiteite van die dag, meestal met ʼn uitsig op die oseaan. ʼn Goeie alternatief vir ʼn strandvakansie.
  • Speletjies: Gewoonlik goed georganiseerd vir jonk en oud.
  • Casino: Vir die wat hulle geluk op die proef wil stel.
  • Nagklubs en laataandmusiek: Vir die langasems is daar musiek en kuiergeleenthede tot laataand.
  • Spa: Nie gratis nie, maar spesiale behandelings word aangebied
  • Kajuitbemanningslid: ʼn Groot bederf is die voltydse diens van die kajuitbemanningslid.
  • Nuwe vriendskapsbande: Aangesien mens die hele tydperk saam met dieselfde mense aan boord is en baie pret deel, word vriende gemaak wat jare daarna steeds sulke goeie vriende is soos die eerste dag toe jy “voet-aan-skip” gesit het.

Redes waarom ek nie weer op ʼn passasierskip-vakansie sal gaan nie:

  • Besoek te veel lande in ʼn te kort tyd: Die gevaar op ʼn passasierskip is dat die slagspreuk “If it’s Tuesday, it must be Belgium”, waar word. Die baie lande wat besoek gaan word, is baie keer ʼn aantrekkingskrag. Wees bedag daarop dat die tyd wat passasiers in die verskillende lande op die reisplan toegelaat word, regtig te min is om waarlik die nuwe land te beleef. Gemiddeld vyf tot 6 ure per ankerplek word toegelaat. Hierdie passasierskepe is só groot dat hulle meestal buite die hawens voor anker lê. Die passasiers moet dan nog met kleiner bote na die eilande vervoer word en dan, soos ons dit op Santorini getref het, waar drie groot passasiersbote voor anker gelê het, moet die 6 000 toeriste weer van die eiland terug vervoer word. Dit kan dikwels jou tyd by die bestemming aansienlik verminder.
  • Oorskryding van begroting: Wees voorbereid op ekstra onkoste sodat daar nie ʼn onaangename verrassing op jou wag nie. Die reisagentskap wil graag die reispakket verkoop, maar lig jou nie duidelik in oor die ekstra onkostes nie:

– Groot was ons verrassing toe ons op die boot uitvind selfs die drinkwater moet aangekoop word teen ʼn onaardige €3.39 vir één liter water. ʼn Hele week se water op ʼn boot kan mens ʼn aardige bedrag meer laat spandeer aan ʼn lewensbelangrike middel waarvoor jy nie begroot het nie.

– Allesinsluitende pakkette word voor die tyd of op die boot aangebied. Die alternatief is om ʼn spesifieke pakket te koop vir spesifieke drankies bv. vir nie-alkoholiese drankies of alkoholiese drankies. Indien jy nie ʼn pakket neem nie, is die prys vir enige drankie nog duurder as wat dit met die pakket sou kos.

– Dit verg beplanning om te weet hoeveel drankies (water ingesluit) jy vir ʼn week lank op die boot gaan drink, terwyl mens ʼn groot gedeelte van elke dag aan land op ʼn eiland of waar ook al, gaan deurbring. Die geld wat aan die einde van die week oorbly, wat jy nie gebruik het nie, word uitbetaal indien jy op die laaste dag in die ry wil staan om reëlings te tref hoe dit oorbetaal moet word.

– Maak dus baie seker wat ingesluit en wat uitgesluit is as jy vir die vakansie betaal.

  • Betaalde, gereëlde ekskursies: Ervaring het my geleer vasgestelde, betaalde ekskursies kan duur en tydrowend wees. Ek verkies om ʼn plek op my eie te verken, want dan beweeg ʼn mens makliker en sien meer as wanneer mens saam met ʼn groep beweeg. Die voordeel is dat mens op vreemde plekke makliker by besienswaardighede kan uitkom saam met ʼn gids as sonder een. Sekere uitsonderlike ervarings moet mens saam met ʼn ekskursie doen, soos om met perde in die see te swem op ʼn strand in Jamaika, soos wat my te beurt geval het. Doen dus jou huiswerk en kyk watter ervarings jy op jou eie kan doen en watter nie. Dit kan jou geld spaar. Mens hoef dit nie voor die tyd te bespreek nie en kan op die eerste dag op die boot gedoen word.
  • Die taal op die boot: As Suid-Afrikaner sal ek voorstel om ʼn bootagentskap te kies wat Engels as hooftaal op die skip gebruik. Ek het die voorreg gehad om met vyfster Royal Carribean en vierster Costa skepe te vaar. Costa is goedkoper, maar dit is meer op die Italiaanse en Europese mark gerig. Dit beteken dus dat hulle letterlik elke stukkie inligting in ses verskillende tale moet herhaal. Engels was nie hulle eerste taal nie. Dus was baie Engelssprekende passasiers ongelukkig omdat hulle nie geweet het wat aangaan nie. Om in die duister te wees op ʼn vakansie waarvoor jy duur betaal, wil mens juis vermy.
  • Die vermaaklikheidsbestuurder: As die vermaaklikheidsbestuurder ook nie Engels goed magtig is nie, kan dit ʼn vakansie bederf. Musiek is gelukkig universeel en ʼn wonderlike kommunikasiemiddel. Die soliste en orkeste is gewoonlik uitstekend.

Ritsgids:

Wanneer jy ʼn bootvaartpakket by ʼn agentskap bespreek maak seker van die volgende:

  • Is die vervoer vanaf die lughawe, hotel en boot ingesluit of gaan dit jou duurder te staan kom as wat ʼn huurmotor jou sou kos? Maak doodseker die vervoer stem ooreen met die in- en uitboek van die hotel en boot se tye. Anders kan jy vir ʼn paar uur gestrand wees met jou tasse.
  • Hoe lank is die wagtyd op die lughawe voor jou vlug vertrek of hoe lank is die oorstaantyd voor ʼn aansluitingsvlug.
  • Kry ʼn spesifieke naam van ʼn persoon by die agentskap met wie jy alles bespreek. Sekere agentskappe het nie reisagente nie en dus word mens van bakboord na stuurboord gestuur.
  • Vind uit wat presies ingesluit is in spesiale pakkette en hoeveel enigiets ekstra jou dalk uit die sak gaan jag indien dit nie ingesluit is nie. Meeste bote eis ʼn diensfooi per dag en aangesien dit soms ʼn aardige bedraggie kan wees sou ek voorstel jy moet voor die tyd uitvind hoeveel dit kan wees.
  • Maak ook seker met watter boot jy gaan vaar en gaan lees meer oor die boot. Dit kan vir jou ʼn goeie idee gee van hoe oud die boot is, hoeveel balkonkajuite beskikbaar is en wat die aard van jou medepassasiers sal wees.
  • Vind uit of jy jou geld kan terugkry indien jy ʼn passasier se naam wil verander of nie meer kan gaan nie. Imagine Cruising bied ongelukkig geen geldterugwaarborg nie.
  • Baie agentskappe hou voor die prys van die pakket mag verval as jy dit nie tydens die oproep bespreek nie. Probeer dan om soveel as moontlik van bogenoemde vrae uit te klaar tydens die oproep met die verkoopspersoon wat dit aan jou verkoop.

*Marianne onderneem al hierdie ervarings en bring jou reisartikel op haar eie onkoste.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Bielie ·

Na vele bootritte, kan ek bevestig dat wat ook al die pakket jou kos kan jy dit verdubbel. Al die ekstras wat nie genoem word nie betaal jy in Euros of $$$$. ‘n $4 bier is nou R50.

Eliza-beth ·

Die heel, heel, HEEL beste bootrit waarop osn ooit was jare gelede was op die Moselle in Duitsland. Dis op ‘n rivier – dus geen kans vir seesiek word. Dis baie beter as op die Ryn – vegelyk ‘n hoofweg (die Ryn) met ‘n “country road (Moselle) – jy kry die idee. Daar is nou wel nie die aanhoudende kos maar die etes was absoluut uit die boonste rakke. Ons het nooit op betaalde ekskursies gegaan in die dorpies waar mens oorgestop het, maar ook self rondgestap en gedoen. En self oral drinkwater gekoop. Met ons randwaarde moet mens maar dink waar jy kan sente rek. Dis nie die disko/dans/aerobiese klas/groot geraas-en-doen- tipe bootrit nie, maar elke sent werd en baie baie lekkerder as enige seevaartrit wat ek al ooit onderneem het. Ons het in begin Oktober gegaan en was die tyd vir laatoesdruiwe en oral langs die rivier roep die jonges wat druiwe pluk mens toe soos jy verbyvaar en saans kom gee hul ‘n dansvertoning – soooo lekker gewees!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.