Pilanesberg se uitgebrande vulkaan

Kwa Maritane-bosbraai Foto: Pilanesberg National Park

Kwa Maritane-bosbraai Foto: Pilanesberg National Park

Wat het die groot vyf, ‘n ou vulkaan en uitstekende kos in gemeen? Een woord: Pilanesberg.

Die Pilanesberg-wildreservaat is net om die draai van Gauteng, skaars twee ure buite Pretoria.

Die wildreservaat lê reg langs die klein, verlore vallei waar die sonkoning Sol Kerzner Sun City gebou het. Dis ‘n kort tien minute se ry van die reservaat se hek tot by die hekke van Sun City as jy die behoefte het aan iets meer eksoties om te doen. Pilanesberg bied egter genoeg om jou besig te hou vir minstens ‘n paar dae.

Die twee gewildste privaat lodges is Kwa Maritane en Bakubung. Die ingang na Kwa Maritane is net voor die afdraai na Sun City en Bakubung net daarna. Pilanesberg is ‘n wildreservaat wat in die voue van ‘n ou vulkaan lê. Dit huisves die Groot Vyf en ‘n groot verskeidenheid ander wild. Die park is aansienlik kleiner as die Krugerwildtuin, dus kan verkeer op die paaie ‘n bietjie meer wees as wat jy dalk verwag vir ‘n wildreservaat. Tog is dit nie lastig nie.

Ons het die een aand oorgebly by Kwa Maritane en die volgende by Bakubung. Beide kampe is luuks en het pragtige geriewe . Vir diegene wat op ‘n strenger begroting vakansie hou, is daar verskillende grootte tyddeel-eenhede, elk met sy eie kombuis en braai-area.

As jy nie in die bui is om sjef te speel nie, bied albei kampe fantastiese restaurante met ‘n groot a la carte- of buffet-opsie. Om bietjie avontuurlustig te wees het ek besluit om die buffet te probeer en moet sê dit was lanklaas wat ek soveel waarde uit ‘n maaltyd gekry het. Die Amerikaanse pannekoek, of plaatkoekies soos ons dit ken, by Bakubung se buffet-ontbyt was ‘n gunsteling.

Dit neem ʼn halfuur om van Kwa Maritane tot by Bakubung te kom, met behulp van die hoofpad buite die park en ongeveer twee ure deur die park terwyl mens wildkyk.

Die hoogtepunt van die kort besoek was ‘n laatmiddag wildsrit met ‘n spesiale bosbraai daarna (waarvoor jy vroegtydig moet bespreek).

Eerstens word elkeen ʼn plek aangewys op een van die Land Rover-bakkies, wat dan die bos gaan ontdek op hulle eie, dus voel dit nie soos ʼn Disney World-pretrit nie. Deurentyd deel die wildbewaarders interessante feite oor alles wat jy sien in die bos om jou. Die wildbewaarders op die verskillende Land Rovers hou die hele tyd kontak met mekaar deur middel van radio’s wat besoekers amper altyd ʼn besigtiging van een van die sku, groot katte verseker tydens die rit. Hulle jaag egter nie soos cowboys om daar te kom nie en dus voel dit nog steeds soos ʼn ware avontuur.

Na ‘n drie uur rit, waartydens jy ‘n pit-stop by ‘n restaurant in die middel van die park maak, kom jy by die boma vir die bosbraai.

Die boma is ‘n groot lapa in die middel van die bosveld en vroegaand steek hulle ‘n groot vuur aan waarom daar verskeie piekniekstyltafels gerangskik is. Vriendelike personeel groet mens met ‘n sjerrie by die ingang en van daar af hou die bederf nie op nie.

Almal eet op hulle eie tyd die buffet wat voorgesit word op tafels wat bewe onder al die kospotte. Hierdie keer is steak en pap en outydse broodpoeding en vla ingesluit. Ek gaan terug vir “seconds”… vier keer!

Ons het probeer om die oomblikke van genot langer te rek deur ons koffie te drink, in blikbekers, by die vuur… Maar moes op die ou end sleepvoet terug na die Land Rover toe vir die ysige, winderige rit terug na die kamp.

Terwyl ons in Kwa Maritane oornag het, het ons ‘n laaste stop gemaak by die ondergrondse skuiling, wat jy net in dié kamp kry. Jy kan net in hierdie skuiling ingaan deur ‘n 180 m lange ondergrondse tonnel wat mens neem tot net bo grondvlak by ʼn watergat. Jy het nog nooit so naby aan die natuur gevoel nie. So kom mens up close and personal met kameelperde, olifante, koedoes en selfs luiperds – perfek in die natuur, soos dit moet wees.

As die wag op diere in die skuiling ‘n bietjie te lank word, is daar ‘n kamera by dié skuiling opgestel wat enige aktiwiteit by die watergat beeldsend op ‘n kanaal, gekoppel aan jou kamer-televisiestel. Dit kan veroorsaak dat mens in die middel van die nag hardloop (in jou nagklere) na die skuiling toe wanneer jy sien iets spesiaals is by die watergat. Vir my persoonlik was die skuiling hemel op aarde.

Ons was net vir twee aande in Pilanesberg en ons het nog nie eens uitgekom by aktiwiteite soos tennis, swem en stap nie, maar dit voel asof ek met vakansie was vir ‘n week. Hierdie slapende vulkaan is verseker ʼn heerlike manier om weg te kom van die stad se geraas.

Ritsgids
– Daar is ses verskillende oorde om van te kies in Pilanesberg. Tariewe by die privaat lodges sluit gewoonlik ontbyt, aandete en een wildsrit per persoon per nag wat bespreek word, in.
– Die bosbraai kos R200 per persoon, maar daar moet ‘n minimum van 15 mense wees wat belangstel.
– Wildsritte, oggend en in die middag, wat ongeveer 2 uur en 30 minute lank duur se koste is R360 per persoon.
– Besoekers moet toegang betaal om in die park in te gaan: hierdie koste beloop R20 per motor en R65 per persoon in die motor.
– Onthou om warm klere saam te neem op wildsritte, selfs al is dit dalk in die middag warm. Die aand en oop vragmotor se koue kruip in jou bene in.
– Pilanesberg is ʼn malariavrye gebied.
– Die bosbraaie in die boma word op Woensdae en Saterdae aangebied.

LET WEL: Marianne onderneem al hierdie reise op haar eie onkoste.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.