Plaasverblyf vir die hele gesin

Foto: Bigstock

Die kinders is konstant voor die TV of met hul neuse teen ’n selfoonskerm. Die gedruis en dampe van die verkeer maak jou kortasem nog voor jy by die werk uitkom. Saans is daar net kitsmaaltye wat in die oond gedruk word, want niemand het tyd vir regte kos kook nie. Selfs Wagter lê met leepogies op die voordeurmatjie in die hoop dat iemand hom vir ’n stappie sal neem, en jy kan nogal met sy lang gesig simpatiseer. Klink dit bekend?

Wel, dan is dit tyd vir ’n wegbreek, maar nie sommer enige sak-en-pak-affêre sal deug nie. As jy saam met jou gesin die skares wil vryspring, luilekker op ’n stoep wil kuier, en weer na aan die natuur wil voel, is dit plaas toe met julle! So, waarvoor wag jy? Kyk na hierdie pragtige plase met hope doendinge vir die hele gesin en bespreek sommer vandag nog jou vars-lug-vakansie deur LekkeSlaap, want dis mos lekke oppie plaas!

Dassenheuwel Farm Stay

Malmesbury, Wes-Kaap

Dassenheuwel Farm Stay & Cottages (LekkeSlaap)

Wil jy ’n gesinsfoto tussen die kanola hê? Dan is hierdie Swartlandse koring- en veeplaas vir jou beskore! Bespreek dié ouwêreldse opstal vir jou gesin en laat jou hartlike gashere vir julle die daaglikse plaasaktiwiteite wys, of gaan op daguitstappies in die prentjiemooi Riebeekvallei.

Slaapplek: 5 gaste in die plaashuis. Kleiner eenhede is beskikbaar.
Verblyftipe: Selfsorg
Ekstras: DStv, WiFi, buite- en binnebraai, en hout te koop op die perseel.
Doendinge op die plaas: Bergklim, bergfietsroetes, lammertjies in seisoen en kanola in Augustus en September.
Doendinge in die omgewing: Riebeek-Kasteel, Malmesbury, Wellington en die Paarl is net ʼn halfuur se ry ver, die Olyffees in Mei is ’n besoek werd, en valskermspring en warmlugballonvlugte is beskikbaar vir adrenalienvrate.
Let wel: Daar is ’n kort stukkie grondpad van 6,5 km na die plaas.

Dassenheuwel Farm Stay & Cottages (LekkeSlaap)

Enjo Nature Farm

Cederberge, Wes-Kaap

Enjo Nature Farm

Kom hou vakansie tussen die veldblomme in die Biedouwvallei, ’n prentjiemooi deel van die Cederbergstreek. Speel bordspeletjies saam met die kinders voor die kaggel, stap tot by die Enjo Amfiteater waar die plaas se drinkwater vandaan kom, of ontspan in die borrelbad langs die stoep. Jy kan selfs vir Woef saambring om saam met die kinders tussen die blomme te baljaar!

Slaapplek: 2 – 6 gaste in verskillende eenhede. Daar is ook kampeerplek.
Verblyftipe: Selfsorg en kampeerplek.
Ekstras: Kaggel, braai-area, ’n Jacuzzi by die Lazy Leopard House, veilige parkeerplek, gratis WiFi, en ’n speletjieskamer, asook ’n skoonmaakdiens, kinderoppasser en ’n wasgoeddiens op versoek.
Doendinge op die plaas: Veldblomme in seisoen, staproetes na die Enjo Amfiteater waar die plaas se drinkwater vandaan kom, swem in die plaasdam, bergfietsroetes en voëlkyk.
Doendinge in die omgewing: Natuurdoendinge in die Cederberge, die Rooibostee-roete en wynproe in die omtrek.
Let wel: Daar is ’n grondpad wat na die blyplek lei ─ gewone sedanmotors sal steeds op hierdie pad kan ry. Die verblyf is troeteldiervriendelik.

Enjo Nature Farm

The Place

Klein-Karoo, Wes-Kaap

The Place

Vir ’n private plaasvakansie op Roete 62, is die Red Rock Cottage op dié Karoo-plaas nét die ding. Varsgebakte brood, plaaseiers en organiese plaasprodukte is op die perseel te koop en daar is oop vlaktes met interessante vetplante vir die kinders om te ontdek.

Slaapplek: 6 gaste in Red Rock Cottage
Verblyftipe: Selfsorg
Ekstras: Kaggel, braai-area met buitesitplek, vars brood, plaaseiers en ander organiese produkte is te koop indien beskikbaar.
Doendinge op die plaas: Voëlkyk. Verken die droë rivierbeddings, fossiele en vreemde vetplante.
Doendinge in die omgewing: Bergfietsroetes en verskeie doendinge langs Roete 62.
Let wel: Goedgemanierde troeteldiere is welkom, maar R50 word per troeteldier gehef.

The Place

Boesmansdrift Plaashuis

Boland, Wes-Kaap

Boesmansdrift Plaashuis

Kom bestee gehaltetyd met jou gesin in hierdie selfsorgplaashuis wat reg langs die vrugteboorde skuil. Bring ook jou visstok en kano saam om die rivier wat verby die plaas kronkel behoorlik te verken!

Slaapplek: 8 gaste in die plaashuis
Verblyftipe: Selfsorg
Ekstras: DStv-koppelpunt, DVD-speler, ’n groot grasperk en ’n braai-area.
Doendinge op die plaas: Wandel langs die rivier en deur die boorde, vang vis en vaar op jou kano op die rivier, stoot die kinders in die swaaie op die perseel.
Doendinge in die omgewing: Robertson, Stormsvlei en Bonnievale is net ’n entjie se ry.
Let wel: Bring gerus jou eie dekodeerder en slimkaart om DStv te kyk.

Boesmansdrift Plaashuis

Oakhurst Farm Cottages

Wildernis, Wes-Kaap

Oakhurst Farm Cottages

Hierdie prentjiemooi suiwelplaas buite Wildernis het die allerpragtigste kothuise wat elkeen oor die bos of die stroom uitkyk. Die jongspan kan die klimmuur en wandelpaadjies deur die welige bos geniet of kyk hoe die koeie gemelk word, terwyl ma en pa op ’n romantiese wandeling tot by die watervalle gaan of op die houtdek by die braai sit en kuier.

Slaapplek: 2 – 6 gaste in verskeie kothuise
Verblyftipe: Selfsorg
Ekstras: Daar is groot houtdekke met braaigeriewe wat uitkyk oor die bos of stroom by sommige kothuise. ’n Borrelbad is te huur.
Doendinge op die plaas: Visvang, wandelpaaie, bergfietsroetes, voëlkyk, swem in die plaasdam, ’n klimmuur en klimraam vir die kinders, en melkery-demonstrasies (moet vooraf gereël word).
Doendinge in die omgewing: Perdry en verskeie natuurdoendinge op die Tuinroete.
Let wel: Troeteldiere is welkom indien dit vooraf gereël word. Laat asseblief die eienaars weet watter tipe hond jy saambring. Dit is belangrik dat Woef op ’n leiband bly vir die koeie se onthalwe.

Oakhurst Farm Cottages

Numbi Valley Farm

De Rust, Wes-Kaap

Numbi Valley Farm

Geniet rus en vrede en ʼn manjifieke uitsig op die Swartberge by hierdie afgesonderde plaas in die Klein-Karoo. Pluk jou bestanddele in die organiese tuine, koel af in die privaat swembadjie, vang ’n middagslapie in die hangmat en kuier tot vroeg in die oggend rondom die rustieke vuurput. Hiér is alles wat regtig saak maak, en niks wat jou aandag daarvan kan aflei nie.

Slaapplek: 4 gaste in die kothuis
Verblyftipe: Selfsorg
Ekstras: Perkallinne en handdoeke word voorsien, gratis WiFi, privaat swembadjie met fonteinwater, vuurput, hangmat, kaggel, pizza-oond (op versoek), buitelug-kruiebad, vars, organiese vrugte en groente te koop.
Doendinge op die plaas: Joga-klasse en ’n gekwalifiseerde masseuse is beskikbaar per afspraak. Staproetes, fietsroetes, swem, perdry en voëlkyk.
Doendinge in die omgewing: Onderneem die bekende Klein Karoo-sirkelroete deur die Swartbergpas, Prins Albert, Meiringspoort en De Rust, of besoek die Kangogrotte.
Let wel: Die plaas funksioneer op ’n omgewingsvriendelike wyse en elektrisiteit word voorsien deur sonkrag en gas. Die kothuis is troeteldiervriendelik.

Numbi Valley Farm

Redberry Farm

George, Wes-Kaap

Redberry Farm

Hierdie bessieplaas kyk uit op die majestueuse Outeniekwaberge en bied onder meer ’n teetuin en bessiepluk in seisoentyd, stampbootjies én ’n doolhof! Daar is dus oorgenoeg om die jongklomp te vermaak en pragtige daguitstappies langs die Tuinroete is ’n maklike entjie se ry daarvandaan.

Slaapplek: 4 gaste in ’n kothuis
Verblyftipe: Selfsorg
Ekstras: Braaigeriewe in ’n groot skadu-tuin
Doendinge op die plaas: Besoek die padstal met vars en bevrore bessies en ander produkte, kuier by die koffiewinkel, kroeg en teetuin op die perseel, val rond in die borrelballe op die rivier, ry stampbootjies, stampkarre en die treinkarretjie, voer die plaasdiere, wandel in die doolhof, ry op ’n ponie, pluk aarbeie en doen ’n skattejag (moet vooraf gereël word).
Doendinge in die omgewing: Garden Route Mall en natuurdoendinge op die Tuinroete.

Redberry Farm

Ganora Guest Farm and Excursions

Nieu-Bethesda, Oos-Kaap

Ganora Guest Farm and Excursions

Laat die Groot-Karoo se kenmerkende goue namiddae en stil ooptes jou betower by hierdie skaap- en gasteplaas net 7 km buite Nieu-Bethesda. Koel af in die plaasdam, hou piekniek op Kompasberg, of woon ’n skaapskeerdemonstrasie by ─ al lyk Ganora stil en rustig, is daar altyd iets interessant en leersaam aan die gang waarby groot en klein kan baat!

Slaapplek: 6 gaste in die gesinsvriendelike selfsorgkothuis. Kleiner eenhede is ook beskikbaar.
Verblyftipe: Selfsorg of B&B
Ekstras: Maaltye is beskikbaar.
Doendinge op die plaas: Swem in die plaasdam, swembad of opgaardam, pak die 4×4-, bergfiets- en staproetes aan, klim Kompasberg uit, woon fossielwerkswinkels, skaapskeerdemonstrasies, kuns- en kookklasse by (dit moet vooraf bespreek word), en besoek die privaat artefakmuseum.
Doendinge in die omgewing: Nieu-Bethesda en die Uilhuis, Graaff-Reinet se museums en Obesa-kaktuskwekery, die Kamdeboo Nasionale Park, die Vallei van Verlatenheid en die Giant Flag-projek.

Ganora Guest Farm and Excursions

Wyndford Holiday Farm

Oos-Vrystaat

Wyndford Holiday Farm

Dis net doendinge en daguitstappies by dosyne op dié vakansieplaas langs die mooie Malotiroete. Van binnebandry op die Caledonrivier tot perdritte, sneeugevegte en ander plaasplesier, kom los julle sorge nét hier by Wynford!

Slaapplek: 2 – 5 gaste in verskeie eenhede
Verblyftipe: Vakansie-oord
Ekstras: 3 maaltye ingesluit per dag, koffie- en teemaakgeriewe en yskassies in sommige kamers, kaggel in die hooflodge en tradisionele middagete op Sondae.
Doendinge op die plaas: Binnebandry op die Caledonrivier, agaatsoek as die rivier leër is, sneeukyk in die winter, piekniek hou, swem, rolbalspeel, bergfietsry, tennis- en aksiekrieket-speel onder spreiligte, begeleide perdritte en staptogte, Zipline deur die woud, abseil, boomhuis-kuiers in die woud en sewe grotte om te verken.
Doendinge in die omgewing: AfriSki-oord, daguitstappies na die Katsedam en dagbesoeke aan Clarens.

Wyndford Holiday Farm

Amohela ho Spitskop Country Retreat &  Conservancy

Ficksburg, Vrystaat

Amohela ho Spitskop Country Retreat & Conservancy

As jy op soek is na ’n stil toevlugsoord wat steeds hope bied om die kinders mee besig te hou, hoef jy nie verder te kyk as dié bewarea in die Oos-Vrystaatse Hooglande nie. Daar is talle opwindende doendinge op die plaas en in die omtrek, soos swem in die plaasdam, die nabygeleë AfriSki-oord en stoomtreinritte. Na ’n bedrywige dag kan jy die glasdeure oopskuif en die soel aandlug inasem.

Slaapplek: 2 – 7 gaste in verskillende eenhede
Verblyftipe: Selfsorg
Ekstras: Braaigeriewe en gratis WiFi.
Doendinge op die plaas: Staproetes, wandelroetes, bergklim, swem met ’n 360°-uitsig, voëlkyk, fietsroetes en sneeukyk in seisoen.
Doendinge in die omgewing: Clocolan Gholfbaan met sy restaurant en kroeg, die bekoorlike dorpies Ficksburg en Clocolan met ’n rits eetplekke en galerye, AfriSki-oord, stoomtreinritte, oesfeeste,rotskuns, kersiepluk in seisoen, en die enigste kersiewynkelder in die land is alles naby.
Let wel: Troeteldiere is welkom indien dit vooraf gereël word.

Amohela ho Spitskop Country Retreat & Conservancy

Daberas Guest Farm

Kalahari, Noord-Kaap

Daberas Guest Farm

Bring die hele gesin na die Vallei van Edelgesteentes en verken die rooi klipkoppies van die Nama-platorand op hierdie Kalahari-wildplaas. Te danke aan beperkte kragvoorsiening en opvangs sal julle sowaar gehaltetyd saam kan deurbring en daar is só baie om as gesin te doen. Kyk wild, 4×4 tot by asemrowende uitkykpunte of besoek die Augrabieswaterval ─ by Daberas is ontspanning jou voorland.

Slaapplek: 2 – 5 gaste in verskillende eenhede
Verblyftipe: Selfsorg
Ekstras: Veilige parkeerplek, braaigeriewe, ’n skoonmaakdiens, wasgoeddiens en piekniekmandjies en etes op versoek. Sommige eenhede het ’n verkoelingstelsel met lae energieverbruik.
Doendinge op die plaas: Asemrowende uitkykpunte, kunsvlieghengel, begeleide wildritte, voëlkyk, fietsry en swem.
Doendinge in die omgewing: Die Augrabieswaterval Nasionale Park en wynproe.
Let wel: Die ingangshek na die Augrabieswaterval is net 41 km van die plaas af. Selfone en rekenaars moet by ontvangs gelaai word aangesien daar nie kragpunte in die huis is nie. Daar is slegs MTN-ontvangs op die plaas. Doen navraag oor die toestand van die pad voor jy bespreek. 4×4 word aanbeveel.

Daberas Guest Farm

Daar is geen rede om in die verkeer te sit en sug nie. Boender bloot die kinders in die kar en sit voet in die hoek na een van hierdie vakansieplase!

Hierdie artikel is verskaf deur Lekkeslaap.co.za en is opgestel deur Adriëtte le Roux.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.