[Foto’s] “Praag” en praal

Tyn-kerk op die besige Stare Mesto-plein Foto: Marianne Styan

Tyn-kerk op die besige Stare Mesto-plein Foto: Marianne Styan

Wat kry jy as jy ʼn land binnegaan wat amper in kommunisme en oorlog verdrink het…? Vriendelike, akkommoderende mense? Argitektuur wat jou asem wegslaan? Oudhede wat jou nostalgies maak? ‘Dis onmoontlik,’ hoor ek jou sê? Maar in Praag is dit waar.

Ek dink nie ek het al ooit iemand raakgeloop wat gesê het hulle was nie mal oor Praag nie. Ja, almal gebruik ʼn oorgedramatiseerde beskrywing. Hulle hou nie net van Praag nie. Hulle is mal daaroor. Hulle is gek daaroor. Hulle het hulle hart daar verloor.

Nou weet ek uiteindelik hoekom.

Hierdie stad het ʼn kultuur wat jou aan die hart gryp en dit nooit weer laat gaan nie. As jou oë eers op die sjarmante argitektuur geval het, is jy vir ewig verlore. Die geskiedenis laat jou huil asof dit jou eie stad is. Die manier waarop hulle hul koppe weer opgetel het, maak jou patrioties.

Wat aan hierdie stad laat jou so voel, vra jy?

Kom stap saam met my deur die strate van die geliefde stad in die rigting van die ou stad.

Ons begin sommer deur te kyk na wat jou eerste opval en my fassineer in elke stad waar ek kom – die stad se argitektuur.

Behalwe vir die groot strate is meeste strate eintlik geplaveide stegies, veral rondom die ou stad, asof daar nog perdekarre moet rondry en daar doen, in die somer.

Versierde vuurhoutjieboks-geboue in die kronkelende strate van Praag Foto: Marianne Styan

Versierde vuurhoutjieboks-geboue in die kronkelende strate van Praag Foto: Marianne Styan

Die geboue wat hierdie stegies belyn herinner aan Engeland en Amsterdam se opmekaargeboude vuurhoutjieboksgeboue, maar verskil op die manier dat dit lyk of hulle met mekaar meeding om die mooiste of kleurvolste voorkoms te hê. Met kontrasterende kleure van een gebou tot die volgende of neutraal gekleur met handgeverf en -gekerfde versierings streel dit die oog. Die stegies kronkel en dus skep dit die gevoel of dit vir ewig aanhou. Maar dan ewe skielik maak dit oop op ʼn groot plein, Stare Mesto. Asemrowend. Ons het dit die eerste keer in die aand beleef.

Die verligte ou kerke en kloktoring wat waghou oor die plein asof soos trotse ouers wat dit geniet om te sien hoe toeriste hulle “kinders” waardeer. Die ou stadsplein is ʼn heerlike plek om die gemeenskaplike kultuur van Praag te kom beleef. Dis belyn met kafeetjie, restaurante, kunsgalerye en besienswaardighede. Hier vind jy ook een van ons gunsteling eetplekkies – die permanente kosmarkie wat in permanente houthuisies aan die kant van die plein geleë is. Hier kan jy weglê aan eg Tsjeggiese kosse soos Praagse ham op rogbrood, Tsjeggiese chilliwors en ʼn aartappel en hamgereg. (Wat eintlik bietjie te duur is, maar dit maak dit die moeite werd as jy dit in die atmosfeer van die plein geniet.) Vir nagereg kan jy heerlike crêpes geniet of ʼn kaneelsuiker Trdelnik (ʼn heerlike geroosterde sagtedeegkoek wat lyk soos ʼn skoorsteentjie.)

Daar is ʼn verskeidenheid toere van Praag waarvan jy kan kies wat meestal op die Staro Mesto begin en die toergidse staan op die plein rond, wagtend vir kliënte, indien jy daarvan gebruik wil maak om die stad te verken. (Die Hop-on/Hop-off- rooi busse se toere begin ook hier. Dit begin met ʼn 20 minute staproete deur die ou stad tot by die eerste bushalte.)

Stare Mesto-plein Foto: Marianne Styan

Stare Mesto-plein Foto: Marianne Styan

Die besienswaardige geboue wat jy op die plein sal vind is die Tyn-kerk (ook bekend as Church of our Lady) met sy pragtige twee torings wat in 14de eeu gebou is. Reg oorkant haar is die bekende Astronomiese Kloktoring (gebou rondom 1410) van waar jy ʼn pragtige 360 grade uitsig oor Praag kan kry. Dit is die moeite werd om dalk in die tou te gaan staan en te betaal om op te gaan. Die kenmerkende rooi dakkies van die geboue van Praag kom tot hulle volle reg van hier af. Daar is ʼn hysbak, so jy hoef nie noodwendig op te stap nie, alhoewel dit nie te hoog is nie en die trappe in ʼn stadium ʼn gemaklike oploopvlak word waarlangs hulle jou baie interessante inligting gee oor die ontwerp en geskiedenis van die kloktoring.

Indien jy op die uur op die plein is, kan jy na ʼn baie kort klokkespel, die “Loop van die 12 Apostels”, kyk. Die hoeveelheid mense wat saamdrom sal vir jou aandui waar jy moet staan om dit te sien.

Nou baan ons ons weg deur die stegies na die Vltava-rivier se kant toe. As jy dié rivier ontdek maak dit vir jou ʼn pragtige uitsig oop op twee van die stad se bekendste toeriste-aantreklikhede. Die Gotiese Charles-Brug met die bekende horisonlyn van die kasteel van Praag op die heuwel agter dit. Daar is verskeie brûe in Praag, maar die Charles-Brug is spesiaal want dit was die enigste brug oor die Vltava-rivier, wat die ou stad met die kasteel verbind het, tot 1841. Die twee kenmerkende kloktorings aan weerskante staan wag oor die groot verskeidenheid standbeelde wat die brug versier. Dit is die moeite werd om oor die brug te stap en al die beelde van nader te bekyk. Ek glo die mooiste foto’s kan van die brug geneem word vroeg in die oggend wanneer dit nie oorloop van toeriste nie en jy dit nog soms in die omhelsing van oggendmis kan vasvang.

Van hier af kan jy jou pad opwaarts kry na die kasteel op die heuwel indien jy nie gebruik maak van een van die toerbusse nie, wat jou daar af en op kan laai. Indien jy die verandering van die wagte by die kasteel wil sien, moet jy 12 uur die middag daar wees. Dis baie gewild en dus moet jy ʼn bietjie vroeër daar wees om ʼn behoorlike staanplek te kry. (Alhoewel daar dele van die ritueel voor die groot hekke plaasvind, glo ek die grootste deel vind binne plaas en daarom sal ek voorstel dat jou staanplek binne is of waar jy ʼn uitsig op albei het.)

Uitsit oor die rooi dakkies van Praag Foto: Marianne Styan

Uitsit oor die rooi dakkies van Praag Foto: Marianne Styan

Die kasteel is nie regtig ʼn kasteel in die ware sin van die woord nie. Dit is ʼn klein dorpie, geskep met ʼn pragtige en indrukwekkende (nog werkende en dus gesluit vir die publiek op sekere dae) Katolieke katedraal. Dit is die moeite werd om deur die klein straatjies te dwaal en die pragtige versierings buite en die loodglasvensters binne-in die katedraal van nader te gaan bekyk.

Nog ʼn baie gewilde aantreklikheid in die stad is die ou Joodse kwartiere, wat nou weer nader aan die ou stad geleë is. Weereens is dit ʼn verskeidenheid van geboue, sinagoges en selfs ʼn begraafplaas wat in ʼn spesifieke area geleë is wat die Joodse kwartiere vorm. Dit is ook die moeite werd om ʼn toer te doen deur dié area. Die ou bekende legende van die Golem van Praag is gebore uit dié era en area en is ʼn bekende gesig in verskeie winkelvensters en aandenkings.

ʼn Laaste bekende besienswaardigheid in Praag is die Namesti Republiky – die statige Munisipale gebou in sy indrukwekkende Art Deco-styl, wat ʼn groot invloed in Praag het en baie van die argitektuur beïnvloed het. Indien jy nog altyd gefassineer was deur die Art Deco-era kan jy ʼn lieflik bewaarde voorstelling hiervan kom besigtig. Daar is ook verskeie restaurante en kafees in die gebou waar jy eg Tsjeggiese kos kan kom geniet.

Om die prag en praal van Praag te probeer vasvang in woorde is moeilik. Dit, wat elke persoon wat al hulle hart in die stad verloor het se hart gesteel het, is nie iets wat mens kan verduidelik nie. Dis die deel word van die klop van hierdie stad se hart wat veroorsaak dat jou hart in ritme daarmee begin klop en jou, selfs nadat jou voete al die plek verlaat het, vir ewig terugroep daarheen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.