Pret op Plett

Giraffe View Safari Camp Foto: Carina Stander

Plettenbergbaai is geseën met heerlike, gematigde weer. Maar hoe gemaak as die stormwinde tydens jou langverwagte seevakansie woed of ‘n kouefront kom verby? Want ja, hier kán vier seisoene in een week wees. Mens kán in die winter geskok word deur snikhete bergwinde en soms brand die kaggels op Kersdag! Carina Stander, wat al tien jaar in die kontrei woon, het drie lekker doendinge gelys wat jy in jou knapsak kan hou vir wanneer dit nié prettige strandweer op Plett is nie.

Kliphuise en kameelperd-uitsigte

Ná maande van droogte aan die Suid-Kaap is die bos deurweek van reën. Die geur van nat grond en fynbos vul die lug toe ons Giraffe View Safari Camp binnery. Skaars is ons deur die hek, of ons word begroet deur ‘n trop rooibokke. Ons gasvrou, Vicki, daag op in haar drafklere. Vicki het in Engeland grootgeword en daar B.Com Bemarking studeer, waarna sy vir jare lugwaardin was vir British Airways. Sy is ‘n wêreldreisiger van formaat, sy wéét wat vakansiegangers verlang. Sy neem ons na die ruim kothuis van klip waar ons gaan oornag. Dik mure. Houtrakkies. ‘n Bottel vonkelwyn as verwelkoming. Gesellige rusbanke in die louwarm wintersonnetjie. ‘n Sebra wei tot teenaan die heininglose huis. Onthou om die deur toe te trek as julle uitgaan, lag sy, anders loop die perde in die huis in!

Die bottelborsel voor die huis is in volle blom, die voëls soos klokkies tussen die takke. Ons sit by ‘n lang stoeptafel, drink vieruurtee en eet oondwarm skons met room en bessiekontyt. Neil, ons gasheer, het die tafel gemaak. Hy is vreeslik vlytig met sy hande. Die perdehoefyster-wynrak en takbokhoringkandellaar in die huis is ook sy maaksels. Neil was ‘n speurder en bied soms oorlewingskursusse in die bos aan. Hy maak sy eie pyl en boog, jag daarmee, looi die leer, maak sy eie kamaste, jagbaadjie en wors.

Giraffe View Safari Camp Foto: Carina Stander

Die gesin se oulike elfjarige tweelingseuns gaan wys vir ons die swembad en pragtige boma met braaigeriewe wat gaste kan gebruik. Vandaar kry mens ‘n mooie wye oor die plaas en die troppe wild. Alles gehul in ‘n namiddaggloed.

Terug by die kliphuis is die braaivuur reeds aangesteek en wag daar twee blikbekertjies met sjerrie op ons. Die volmaan maak haar verskying. Die naguiltjie swiep van tak tot tak. ‘n Sebra roep in die donker. Ons oudste kind word een van die dae tien, daarom is die worsbraai sy verantwoordelikheid. Ons sesjarige seuntjie voer die vuur met takkies. Later gaan lê hy in die hangmat en kyk sterre. Ná ete speel ons gesin die kaartspeletjies wat ons saamgebring het. Dis ons een maal ‘n maand se tegno-vrye naweek, daarom pas dit ons perfek dat hier nie televisie of selfoonontvangs is nie.

Die volgende oggend is windstil en helder, maar knypkoud. Beslis nie strandweer nie! Die grasveld wasem. Tarentale skrikroep. Neil neem ons op ‘n wildrit. Ons sit agterop die oop safari-voertuig, snoesig toegewikkel in komberse. Ek het op ‘n Bosveldplaas grootgeword, ek ken wild, maar Neil ken ‘n klomp onbekende veldfeite. Hy verduidelik dat ‘n springbok se maag wit is om die hitte weg te kaats en sy rug sonbruin sodat hy saans tussen die Karooklippe kan kamofleer. Die springbok-migrasie van Suid-Afrika was eens op ‘n tyd groter as die wildebees-migrasies van Oos-Afrika, voordat boerdery, jag en heinings hulle gestuit het. Verbeel jou die donderende hoewe van ‘n miljoen trekbokke deur die Karoo..!

Giraffe View Safari Camp Foto: Carina Stander

‘n Blouwildebees word ook die armmansbuffel genoem. Dit bly maar ‘n komieklike gedierte: die gesig van bidsprinkaan, die bene van ‘n perd en die horings van ‘n buffel! ‘n Waterbokram lê vredig tussen die bosse en kieliekrap homself met sy horing. ‘n Eeu gelede was die bontebok die skaarste boksoort ter wêreld – nou wei dié pragtige diere in vrede. Hier is ook ‘n rooibokram met ‘n pronkende harem. Die Masai kameelperde kom spog met sy swart patrone. Weet julle waarom word dit ‘n kameelperd genoem? vra Neil. Want hy stap soos ‘n kameel (met twee-linkerbene-twee-regterbene) maar hardloop soos ‘n perd (links-regs-links-regs)! En wraggieswaar, op die wildrit kry mens omtrent ‘n kameelperd-uitsig oor die bosse en berge van die plaas.

Giraffe View Safari Camp is slegs 20 minute se ry buite Plettenbergbaai. Die selfsorgverblyf wissel van klip-en-seil-safaritente vir twee tot vier gaste tot ruim kothuise van klip vir tien gaste. Oornaggaste én dagbesoekers is welkom. Tydens sonsondergang-ritte saam met gids Neil word versnapperings bedien. Bespreek by Vicki: 072 271 0788 of 044 535 0085, of besoek die webwerf

“High tea” by The Plettenberg Foto: Carina Stander

Hogere tee teenaan die see

Al is die weer ook hóé strand-onvriendelik, kan jy steeds ‘n wonderlike see-uitsig geniet. ‘n Walvis sproeiblaas in die vlak branders en seemeeue windsweef toe ons aansit vir high tea by The Plettenberg. Vergeet van komkommer-toebrooejies vir high tea – “dining with a difference” noem hulle dié spesiale kosbelewenis. Behalwe vir die verruklike seeuitsig, verlustig mens jou aan die maaksels van ‘n bekroonde koskunstenaar. Terwyl jy knus uitkyk oor die Tsitsikammaberge, word al wat lieflik en loflik is aangedra op houtplankies en leiklip: gerookte salm blinis (Russiese pannekoekies) met koljander-suurroom. Bottergebraaide stokvis en tjips met selderysout. Komyn-naanbrood gevul met vark en tuisgemaakte blatjang. Garnaal-en-kokosneut-rolletjies. Klein biefburgers met songedroogde tamatie-pesto en gesmelte brie. Botterskorsie-en-mozzarella arancini met rypgemaakte cheddar. Speelse brandewynhorinkies gevul met malvalekkers en spookasem. Gekarameliseerde witsjokolande brûlée bedien met brosbeskuitjies. Warm sjokolade met ‘n skeutjie branddewyn. Donkersjokolade truffles, tuisgemaakte nougat en soveel koppies moerkoffie en tee as wat jou lyf begeer. High tea by The Plettenberg sluit meer eetgoedjies in as wat jy kan baasraak, asook bodemlose koffie en tee. Daagliks vanaf 11:00. Bespreek 24 uur voor die tyd: 044 533 2030 of besoek die webwerf

Birds of Eden Foto: Carina Stander

As die wind op die strand waai, sal jy steeds beskut wees onder die woudbome van Birds of Eden Sanctuary. Dis die grootste vryvlug voëlpark ter wêreld. Duisende voëls wat vroeër in aanhouding geleef het, deel dié hemelse habitat met ‘n troppie blouduikers. Daar is geen heinings tussen jou en die voëls nie. Wandel in die inheemse woud met sy watervalle en hangbrug. Dis rolstol-en-stootwaentjie-vriendelik. 044 534 8906 of besoek die webwerf

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.