Prins Albert: Die kroon van die Groot-Karoo

Foto: Prins Albert Toerisme.

“Dit voel soos ʼn droom!” roep my sesjarige seuntjie toe ons die klipkronkels van Meiringspoort binnery. Hy steek sy kop by die ruit uit, die wind waai deur sy kuifie en hy roep weer: “Ek droom! Ek droom!” Hy is reg, die poort is anderwêrelds – ʼn sandsteenkatedraal in skakerings van roesbruin en geel. Die kurwes van die kranse is ligpers in die laatlig. Die smal Meiringspoort is net 13 km lank, maar 30 keer steek ons die rivier oor. “Geoloë reken die Swartberge was hoër as die Alpe,” vertel Gerrit vir ons van agter die stuurwiel, “meer as 6 000 m hoog, soos die Andes.”

Hy is reg, die poort is anderwêrelds – ʼn sandsteenkatedraal in skakerings van roesbruin en geel

Toe Meiringspoort toeka geopen is, was dit glo ʼn grênd affêre: ʼn konvooi van 50 perdekarre en 300 ruiters het deur die poort gepronk. Vir baie jare was die poort die enigste verbinding tussen die Klein- en Groot-Karoo – soms het tot 60 ossewaens vol skaapwol op ʼn slag gewag om deur te gaan. En met die Anglo-Boereoorlog was ʼn Britse offisier soms die orrelis by die NG kerk!

Die volmaan wys gesig toe ons Prins Albert binnery. Dis voor seweuur die aand, maar reeds so donker dat ons die plek waar ons wou oornag nie kan vind nie en die aanwysings daarheen is boonop foutief! Net toe ons dink dat ons dwarsdeur die dorp gery het, kry Gerrit ʼn gevoelente dat ons moet indraai by ʼn plek met die naam Dennehof. Wat ʼn warm verwelkoming deur Ria Meyer! Sy tref mens dadelik as ʼn stylvolle, sterk vrou en met haar duifgrys hare en ligte linnekleed, verskyn sy soos ʼn engel op die stoep van haar gastehuis met die dikke mure en hoë plafon.

Dennehof.

Ria neem ons na salige slaapkamers met romantiese muskietnette wat van die plafon af hang en stylvolle en suite-badkamers. Die karaktervolle kombuisie van die selfsorgeenheid is die ene Karoo-hartlikheid. Dadelik steel Dennehof my hart met sy retro-sjiek styl en ingeleefde art deco-banke op die stoep. Die rooibostee en growwe beskuit wat Ria reggesit het, red ons van verhongering. Boonop is Dennehof die oudste gebou in Prins Albert, dis in 1835 gebou! Dat ons uit al 50 verblyfopsies in Prins Albert by dié lieflike Kaap-Hollandse plaashuis moes beland, is ʼn wonder. Later, toe die kinders slaap, drink ek en Gerrit ʼn glas wyn op die ruim stoep. Sterre. Naggeluide. Veilig en verlig sak ons weg tussen die sagte wit linne.

Die volgende oggend word ontbyt onder die peperbome van Dennehof voorgesit. Moerkoffie en mieliepannekoek met spek, roomkaas, heuning en kruie vars uit die tuin. Die wolkat se hele gevreetjie word nat toe hy uit die koivisdam probeer drink. ʼn Jong bokserhond kom stertswaaiend nader en wip oor die leivoor. ʼn Man pluk olywe in die vroegdaglig.

Vandag verken ons die dorp wat in 18-toet hier op die vloedvlakte gestig is. Prins Albert spog met 18 nasionale monumente – gewelhuise, modderdakhuisies, stoepe met Victoriaanse broekielace. By die kultuur- en natuurhistoriese Fransie Pienaar Museum verkyk ons ons aan ʼn skildery wat uit visskubbe gemaak is en aan houtmeubels met arendkoppe. Hier is ook ʼn stookketel, fyn porselein, voorlaaiers. Die verhaal van die gedwonge verskuiwings van die plaaslike mense word op ʼn medemenslike manier oorvertel. Die fossielversameling van die museum is die hoogtepunt vir die kinders! Hulle vergaap hulle aan die dinosourus-voetspore, die fossiele van seediere en soogdieragtige reptiele.

Later ry ons 25 km dorp-uit na Weltevrede-vyeplaas. Daar-loop-ʼn-skilpad-in-die-pad. Ons hou stil, bekyk hom. Die landskap is lieflik. Die korsmos teen die kranse is oranje en gloeigroen. Sedert 1853 het hier ses generasies aan die voetheuwels by Weltevrede geboer. Ons koop ingelegde vye vir my sesjarige se gunstelingdis op aarde: vye-en-bloukaas!

Donderweer rammel in die verte toe ons terug is by Dennehof en nadat ʼn paar druppels geval het, gaan stap ons by Boesmanskloof. Die veld is vars ná die namiddagreëntjie. Gerrit en ons negejarige hardloop Oukloofberg uit totdat hulle ʼn uitsig oor Prins Albert het. Halfpad op teen die berg wil ons sesjarige eerder met klippies speel en ek bly by hom. Later drafstap ons saam af met die slingerpad verby klipkoepels en -torings.

Op elke tafel is ʼn lantern en ʼn klassieke geel blikbottel van Prins Albert se eie olyfolie, Karoo Blend

Tien jaar gelede, toe Prins Albert Gallery se eienaar Brent Phillips-White besluit het om sy passie vir kos en kuns te verweef, het hy Gallery Café op die boonste verdieping van sy galery aangebring. Dis ʼn ware fine dining-ervaring. Elegant dog gemaklik. Op elke tafel is ʼn lantern en ʼn klassieke geel blikbottel van Prins Albert se eie olyfolie, Karoo Blend. Dis wonderlik atmosferies om so bo die straat te eet met ʼn wye uitsig oor die berge en die kleindorpse doenighede doer onder. Ons verlustig ons aan die vye (jip, van Weltevrede) in gorgonzola en aan die plaaslike volstruis- en koedoe-carpaccio. Al is die restaurant slegs saans oop, begin die personeel die kos reeds van eenuur die middag voorberei. Soos Brent met ʼn glimlag erken: die voorbereiding van die kos neem langer as die bediening. Daarvan getuig die hoofgereg van eend en geroosterde Karoolam!

Tussendeur gaan besigtig ons die verskillende uitstalruimtes van die galery. Brent huisves van die land se voorste kunstenaars soos beeldhouers Guy du Toit en Marieke Prinsloo-Rowe, gerekende skilders soos Cobus van Bosch en Marjorie Wallace. Nagereg is die kersie op die koek! Smullekker 70% Belgiese sjokolade wat gesmelt is oor vars frambose en tuisgemaakte vanieljeroomys. Amarula crème brûlée (wat ʼn slim samevoeging is van albei geregte) word afgerond met Guernsey-room van die melkplaas verder af in die straat – sonder geurmiddels, hormoonvry en volroom, natuurlik!

Die laaste oggend val ons vroegdag in die pad om Meiringspoort se bekoring in daglig te kan ervaar. Bergstrome sprankel. Klip verwring klip. Tuimelend. Kort-kort hou ons stil om die uitsig te bewonder. Wasem voor die mond klim ons uit. Dis onbeskryflik. Ek sit my pen neer. Verby woorde.

Doendinge

Ria Meyer van Dennehof is ʼn wonderlike gasvrou. Bel haar by 023 5411 227 en besoek dennehof.co.za.
The Gallery Café is ʼn fees van plaaslike smake! Dis elke aand oop vanaf 18:00. Besoek www.princealbertgallery.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Koos ·

Het op Prins Albert Weg gewoon en werk tot en met 1974. Die dokter was op die dorp (Prins Abert) en het vyebrood en neute daar gekoop. Ek onthou die groot rondawel en die versameling vetplante. Sal graag weer eendag n draai wil maak.

Cathy Kotze ·

Ons het in 1995 die pragtige ou Viktorianse huisie regoorkant die indrukwekkende pastorie gekoop. Pastoriestraat 3 was verwaarloos, en dit het lank leeg gestaan. Ons het dit versigtig gerestoureer en selfs ‘n outydse koolstoof in die herd in die kombuis staangemaak.

Ongelukkig het ‘n latere eienaar van die huis besluit om dit binne te moderniseer, en heelwat van die karakter het in die slag gebly.

Wanneer ek aan Prins Albert dink, dan is dit die geur van blomme wat my bybly: die ou en outydse roosbome van die pastorie, frangipani, jasmyn, veldlelies.

Ons lewe daar was ‘n ongelooflike ervaring en ons verlang steeds met heimwee terug na daardie tyd.

Koos ·

Kan nog oom Bothma wat die spoorwegbus bestuur het en ou Kellerman wat die taxidiens vanaf die stasie na die dorp gehad het onthou en ook die springkaanplaag van 1974. Op Prins Albert moet ook die Alberts familie woon. Verlang na die karoo.

Melinda Stander du Plessis ·

Ek stap deur Dennehof…growwe beskuit en rooibostee… “Carina, ek MOET jou komplimenteer!” Dis met genoegdoening wat ek verder stap in jou woorde in, terwyl ek behaaglik teug aan my vroegoggend koppie moerkoffie. Tjá! Ek was dáár. Ek wéét! Meiringspoort self op-en-af gery. Ek wens ek kan onthou hoeveel keer ons omgedraai en teruggery het tot in De Rust en dan weer-en-weer… Ek dink dit was ‘n half dosyn keer heen-en-weer daai eerste keer. Op ‘n ander keer waag ons die Swartbergpas aan en verkyk ons aan die lappieskombers agter ons met Oudtshoorn in die verte… En dan miljuisende proteas vol-in-blom! Aijaijai…tsk! Eish! Té mooi vir woorde! Die afdraai pad na Die Hel… My jimmel! Dis my droom om terug te gaan want daai hel MÓÉT ek gaan sien! Ons ry Prins Albert daai Saterdagmiddag binne, -my eerste keer – die opregtheid straal uit die dorpie en sy huisies. Outentiek! My wêreld verdiep plotseling! My suntuie smeek om kennis te maak met dié plek. My siel ervaar weëmoed dat só iets só ongelooflik behoue kon bly vir só lank! Dis die 20ste eeu en tog gaan ek nou kennis maak met die 18de eeu… Dis ‘n droom! In my geestesoog sien ek voetspore van vergange se mense. Aa jy jou oë sluit in Prins Albert gebeur dit…jy kan jou verbeel jy sit op ‘n perdekar en ry die dorp binne en dis 18-toet.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.