Reis: ‘Local is lekker’ vir SA’ners

Argieffoto: Phillip Bruwer

Wanneer Suid-Afrikaners hul jaarlikse vakansie beplan, verkies meer as 80% om plaaslik te reis.

DCMN, ʼn bemarkingsmaatskappy wat navorsing gedoen het oor Suid-Afrikaners se reisgewoontes, het bevind die meeste Suid-Afrikaners neem twee of drie kort blaaskanse per jaar en net sowat 12% doen dit oorsee.

Die navorsing het bevind Suid-Afrikaners staan gemiddeld 18 dae per jaar af aan vakansie terwyl mense tussen 60 en 69 jaar oud ietwat meer met vakansie is met ʼn gemiddeld van 22 dae per jaar.

Die ekonomie speel ook duidelik ʼn rol met tweederdes van Suid-Afrikaners wat slegs bereid is om tussen R5 000 en R20 000 te bestee aan hul korter vakansies per jaar. Slegs 2% is bereid om meer as R100 000 te bestee terwyl sowat 17% minder as R5 000 sal uitgee.

Suid-Afrikaners is ook bereid om aansienlik meer te bestee aan ʼn week lange vakansie oorsee as al hul vakansies plaaslik. Meer as die helfte van Suid-Afrikaners neem een langer vakansie per jaar met 80% wat dit plaaslik doen.

Argieffoto: Pixabay.com

Volgens die navorsing maak nagenoeg 70% van Suid-Afrikaners op familie en vriende staat wanneer hulle voorstelle soek van waar om vakansie te gaan hou. Sowat 57% gaan soek ook vir plekke op die internet.

Daar is ook bevind dat 41% van Suid-Afrikaners van aanlyn platforms gebruik maak om hul vakansies te bespreek. “Dit dui daarop dat die land ʼn ver pad gekom het in die aanvaarding van die internet vir transaksies en dit is baie bemoedigend vir digitale handelsmerke in Suid-Afrika,” het Irina Herf, hoofbestuurder van DCMN, gesê.

Ontspanning en avontuur is boaan Suid-Afrikaners se prioriteitslys met 74% van mense wat ʼn seevakansie verkies en 50% wat op soek is na avontuur. Meer as die helfte van Suid-Afrikaners bespreek hul vakansies tussen drie en 11 maande vooruit.

Ander interessante inligting wat uit die navorsing verkry is:

  • 80% van Suid-Afrikaners wil voel dat hulle hul horisonne verbreed het wanneer hulle terugkeer van vakansie af.
  • 76% het ʼn spesifieke begroting vir hul vakansies en poog om binne die begroting te bly.
  • 77% stem saam dat ʼn vakansie daaroor gaan om van hul daaglikse lewe te ontsnap.
  • 70% wil die natuur beleef wanneer hulle met vakansie gaan.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.