Padlangs Durban toe

Soms raak die pad na ʼn mens se vakansiebestemming bietjie lank.

ʼn Paar uur in die kar kan egter op wonderbaarlike wyse vinnig verbyflits as jy bietjie rondkyk. Dikwels sien ʼn mens buitengewone dinge en gaan ʼn wêreld voor jou oop wat jy moontlik al vir jare met reis op dieselfde roete, miskyk.

Suid-Afrika is ʼn land met van die mees uiteenlopende landskappe en dus is daar meer as genoeg om te waardeer. Kom ek wys julle waarvan ek praat. Kom saam op ʼn padreis van Pretoria na die groen-groen lande van KwaZulu-Natal.

Net buite Pretoria begroet die sonopkoms tussen die wolke ons Foto: Marianne Styan

Met dagbreek vertrek ons uit Pretoria terwyl die son tussen die wolke deur vir ons loer. Tydens die Boereoorlog rondom die draai van die 19e eeu was die hawe van Durban een van die groot kopsere vir Boere-leiers. Dit is die plek waar menige Britse troepedraers die manne in Khaki afgelaai het. Daardie dae was dit ʼn paar weke se reis ver. Vandag is Pretoria maar sowat 7 ure van Durban af per motor. Net buite Pretoria begroet die sonopkoms tussen die wolke ons Foto: Marianne Styan

Johannesburg se geboue in die verte as ons die N3 neem Foto: Marianne Styan

Net na Pretoria lê Johannesburg met die buitelyne van die stad se mooi geboue op die horison. Ons ry met Johannesburg ver aan ons regterkant soos wat ons die N3 volg wat na Durban lei. Johannesburg, die stad van goud, was natuurlik die hoofteiken vir die Britte wat die ou ZAR republieke ingeval het met die Boereoorlog… die diamante en goud van die boere republieke was vir die Britte een versoeking te veel. Johannesburg se geboue in die verte as ons die N3 neem Foto: Marianne Styan

Heidelberg se koppies Foto: Marianne Styan

Net ʼn halfuur se ry vanaf Johannesburg is die besonderse dorpie Heidelberg. Behalwe vir die mooi ou geboue in die dorp self was ek nog altyd bekoor deur die pragtige koppies met interessante sandklipformasies. Die dorpie eenmaal ook die hoofstad van die ou Transvaal. Daar is ʼn pragtige klipkerk om te sien in die middel van die ou dorp, een van min landelike gebiede in Gauteng. Heidelberg se koppies Foto: Marianne Styan

Een van Eskom se nog werkende kragstasies Foto: Marianne Styan

Ten spyte van die omgewingsimpak van fabrieke soos dié een in die foto, is dit nog steeds deel van ʼn noodsaaklike deel van ons landskap. Hier het ons een van Eskom se kragstasies, een wat vandag minstens gelukkig nog werk. Die groot wolke wat uitgeblaas word is grootliks stoom en rook van steenkool wat verbrand word om elektrisiteit op te wek. Een van Eskom se nog werkende kragstasies Foto: Marianne Styan

Kosmos langs die pad

Dis vroeg in die seisoen en ons is gelukkig om dié pragtige kosmos wildeblomme langs die pad te sien. Gewoonlik is kosmostyd rondom Paasfees maar hierdie blomme wys vir reisigers ʼn mooi gesig met die pad na Durban. Ons stop ʼn oomblik. Dit kos mos niks. Kosmos langs die pad. Foto Marianne Styan

Versierde mieliesilo's Foto: Marianne Styan

Buite die dorpie Villiers kon mens in die verlede altyd by die padstal van tannie Nicky stop, ʼn heerlike tuisnywerheid, maar dié plek is vandag ook nie meer nie daar nie. Daar is wel ʼn nuwe een in haar plek wat ʼn stop werd is. Vandag kom ons af op hierdie kunstig versierde mieliesilo’s in die afstand. Ek’s mal daaroor as iets gebruik word vir meer as een doel. Versierde mieliesilo’s Foto: Marianne Styan

Mini-Tafelberg Foto: Marianne Styan

Van ver af kan mens al die mini-Tafelberg sien, tussen Vrede en Frankfort, aangesien dit nie baie kompetisie het op die oop vlaktes van die Vrystaat nie. Mini-Tafelberg Foto: Marianne Styan

Warden se kerk Foto: Marianne Styan

Êrens moet mens soms van die pad afdraai om petrol in te gooi en bene te rek. In Warden ontdek ons nie net ʼn ongewone groot, maar pragtige sandsteenkerk vir so ʼn klein dorpie nie maar besef opnuut hoe vreedsaam die plattelandse lewe is vir kinders wat die voorreg het om hier te kan groot word. Warden se kerk Foto: Marianne Styan

Dogtertjie op haar fiets in Warden se strate Foto: Marianne Styan

Dogtertjie op haar fiets in Warden se strate Foto: Marianne Styan

Pragtige Vrystaat by Harrismith Foto: Marianne Styan

Asemrowende Vrystaat… oop velde, besonderse wolke en Platberg by Harrismith. Pragtige Vrystaat by Harrismith Foto: Marianne Styan

Blomtuin by Harrismith se One Stop Foto: Marianne Styan

Harrismith se Engen-russtop is nie net een van die besigste rushaltes op die N3 nie, maar dit het ook een van die mooiste blomtuine op hierdie roete. Totaal ongewoon maar besonders. Een van die juwele wat jy ontdek op so ʼn padreis. Blomtuin by Harrismith se One Stop Foto: Marianne Styan

Midmardam

Ons pad neem ons ook verby die bekende Midmardam wat, as jy gelukkig is, soms vir jou ʼn voorskou gee van hoe magtig water kan wees. Vandag is die sluise egter toe. Elke jaar kies duisende mense om hierdie dam deur te swem tydens die gewilde Midmarmyl. Midmardam

Nelson Mandela-standbeeld by Howick

Mens kan nie verby Howick ry sonder om eers af te draai en na die besonderse monument van oud-president Nelson Mandela te gaan kyk nie. Nelson Mandela-standbeeld by Howick

Groen-groen land van Natal oor Vanreenenspas Foto: Marianne Styan

En so ry ons die groen-groen land van Natal binne oor Van Reenens-pas. Groen-groen land van Natal oor Vanreenenspas Foto: Marianne Styan

Vallei van 'n duisend heuwels Foto: Marianne Styan

En dan is dit die laaste stuk pad tussen Pietermaritzburg en Durban… die pad wat menige hardloop tydens die Comrades Marathon elke jaar. Mens kan amper dink dat dit die sweet werd is om die bekende vallei van ʼn duisend heuwels vanuit jou drafskoene te bekyk. Maar net amper. Om die 90 kilometer te draf in minder as 12 ure is maar taai. Ek ry dit liewer in een uur met my motor! Vallei van ‘n duisend heuwels Foto: Marianne Styan

Vrou ontspan op die strand Foto: Marianne Styan


Uiteindelik bereik ons ons bestemming. En alhoewel die weer effens bewolk en mistroostig is, is daar niks soos uitspan en niks doen op die strand na ʼn besige jaar nie… Vrou ontspan op die strand Foto: Marianne Styan

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.