Reis soveel as moontlik

Reis-soveel-as-moontlik

Foto: Adéle Changuion

Ek onthou nog my eerste ervaring van ʼn lughawe. Ons het my broer gaan wegsien wat op pad was Ierland toe. Die energie en vloei van mense wat kom en gaan was vir my ongelooflik: vlieëniers in deftige pakke, lugwaardinne in die mooiste uitrustings, elkeen uniek tot die redery vir wie sy werk. Ek het my verkyk aan die mense wat beslis nie van Suid-Afrika afkomstig was nie. Daar was vroue met serpe oor hul koppe en wat in die vreemdste taal met hul kinders praat.

Vir my was dit liefde met die eerste oogopslag want die lughawe was so anders as my eenvoudige bestaan, en ek het geweet dat dit die sleutel tot ʼn ander wêreld is. Dis híér waar ʼn mens se avontuur begin, het ek geweet.  Ek is daardie dag huis toe met ʼn swaar hart. Nie net omdat ek my broer moes afsien nie, maar omdat ek eers weer oor ʼn jaar die lughawe sou sien. Ek het myself belowe dat ek eendag, wanneer ek groot is, soveel as moontlik sou reis sodat ek ook, soos die mense op die lughawe, op ʼn avontuur kon gaan. Nou, jare later, het ek daardie belofte nagekom en probeer steeds soveel as moontlik reis.

Dit is ʼn voorreg om oorsee te kan reis, veral saam met vriende en familie, maar die tye wat ek alleen gereis het, was die tyd wat ek die meeste van myself geleer het. Baie mense reis nie graag alleen nie, en dit is ook reg so, en meeste ouers is bekommerd wanneer hul kinders, veral dogters, alleen die wêreld gaan verken. Maar as jy slim beplan kan reis ʼn ongelooflike en leersame ondervinding wees.

Jy leer om te spaar

As jy wil reis, moet jy spaar, want reis is duur. Toe ek my eerste vliegtuigkaartjie self gekoop het, het daar ʼn gevoel van tevredenheid oor my gekom. Ek het gewérk vir dié kaartjie.

Jy leer om ʼn plan te maak

Wanneer jy in ʼn vreemde land verdwaal, maak jy ʼn plan. ʼn Mens kan amper nie glo hoe kreatief jy raak om net weer by jou blyplek uit te kom nie. En jy maak daardie fout net een keer – daarna kry jy vir jouself bakens, en jy leer hoe om jou adres in die land se taal te sê, en jy leer ken die openbare vervoerstelsel.

Jy leer om alleen te wees

Jy leer om dinge alleen te doen. As jy nie die land se taal praat nie, is jy redelik op jou eie. Jy word gedwing om stil te raak en jy wag nie vir ander mense om jou op ʼn avontuur te neem nie. Voor jy jouself kan kry, gaan jy alleen teater toe, jy klim op ʼn trein en oornag in ʼn vreemde stad.

Jy leer om anders oor goed te dink

Wanneer jy iemand ontmoet wat jou taal kan praat, is dit lekker om te sien hoe baie julle van mekaar verskil. Mense wat nie soos jy grootgeword het nie, het ʼn heel ander uitkyk op die wêreld. Dit leer jou om ʼn volwasse gesprek te voer, en nog belangriker, dit verbreed jou verwysingsraamwerk.

Jy leer om aan te pas

Jy leer om in die taal te groet, kos te bestel en aanwysings te vra. Voor jy jouself kan kry, is jy gemaklik met al die vreemde gebare, jy sien uit na die kos waarvan jy die naam steeds nie kan uitspreek nie en jy maak vriende wat baie min van jou taal kan praat.

Ek het baie lesse oorsee geleer, maar die grootste les was dit: As jy jouself toelaat om dinge te beleef wat nie noodwendig in jou gemaksone val nie, sal ʼn nuwe wêreld vir jou oopgaan.

Ek was êrens op ʼn berg in Suid-Korea, besig met ʼn staproete, toe ʼn ou Koreaanse oom my op die skouer tik. Hy het seker gesien ek is moeg, want die roete was styl en dit was maar sukkel bergop. Hy het my vriendelik gegroet en sy kierie vir my gegee. Hoe kon ek vir hom verduidelik dat hy die kierie nodiger as ek het? Ek het die kierie probeer teruggee, maar hy het dit net weer in my hand gedruk en verder gestap. Ek was stomgeslaan oor die goedheid van dié man, en later die aand, toe ek met ‘n seer lyf in my bed lê, verbaas oor hoe fiks hy was, want selfs met sy kierie, kon ek hom nie inhaal nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Reinhardt ·

Stem met alles saam. Was onlangs in Amsterdam en dit het my lewe verander. My hele uitkyk op taal, kultuur en fietsry as vervoermiddel (nie resies nie) het verander.

Arno ·

Dis wonderlik! Ek onthou nou nog die twee keer wat ek saam met my ouers oorsee was, al was dit nie eers ver nie en al was ek baie jonk. Die grootste fout wat ek kon maak, was om ‘n nuwe kar te koop toe ek begin werk het, eerder as om oorsese reise te beplan.. Maar gelukkig is ek nou wyser en vlieg ek volgende jaar op my eerste (van hopelik vele) reis as volwassene.

Eliza-beth ·

Sommer net ‘n vinnige wenkie vir enigeen wat oorsee reis – verasl ‘n eerste keer of in ‘n land waar weinig Engels gepraat word. Sodra jy by jou blyplek kom, vra vir ‘n besigehidskaartjie/brosjure oor jou blyplek sodat jy t eenige tyd iemand kan vra om jou te help om daar uit te kom sou jy verdwaal. As hul nie oor so-iets beskik vra iemand by ontvangs om vir jou mooi die adres in hul taal neer te skryf. Om te reis maak die wêreld vir mens oop. Die vlieg self is en was nog altyd vir my aaklig want ek kan glad nie slaap op die lang vlugte nie. Maar as mens eers daar is is dit wonderlik.

Adriaan ·

Was my nou nie regtig beskore om fisies te kon reis nie, maar ek deel die lughawe ervaring in die eerste keer wat ek ‘n boek in ‘n ander taal self kon lees. My reis word gekenmerk nie deur besoeke aan vreemde plekke alleen nie, maar veral die landskappe van ander se denkwêrelde. Dikwels self ‘n onvergeetlike ervaring en, ja, dikwels ook ‘n alleenreis (selde eensaam).

Salome Smith ·

Sjoe, ek het geskrik toe ek die gruwelike fout “saam vriende en familie” raaksien – in plaas van “saam met” !!!

Nico Strydom ·

Dagsê Salome
Baie dankie die berig is gewysig.
Vriendelike groete
Nico Strydom nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.