Reis visumvry

Ontspan op die strand by Zanzibar Foto: Marianne Styan

Ontspan op die strand by Zanzibar Foto: Marianne Styan

Een van die grootste frustrasies wat met reis gepaardgaan, is die visumaansoek. Dis nie net ʼn ekstra koste nie, dis dikwels ook ʼn enorme frustrasie.

ʼn Visum is net ʼn klein stukkie papier of stempel in jou paspoort, maar dis ʼn sleutel wat die hek na ʼn ander land kan oopmaak of toehou.

Om egter die stempel in die hande te kry, is seker een van die mees tydrowende prosesse van jou reisvoorbereiding. Die aansoek behels gewoonlik ʼn intensiewe ondersoek, amper soos ʼn CIA-ondersoek na elke moontlike klein persoonlike detail van jou lewe. Dinge wat jyself nie eens weet nie!

Baie Suid-Afrikaners wat hulleself al deur hierdie uitmergelende proses moes sit, het al gewens hulle kon sonder hierdie kopseer ʼn reis aandurf. Dis in baie gevalle ononderhandelbaar, maar daar is goeie nuus: nie alle lande het die behoefte om jou as Suid-Afrikaner  se hele geslagsregister te ontleed nie.

ʼn Hele paar lande is Suid-Afrika oor die algemeen goedgesind en verwelkom besoekers van ons land met ope arms.

Kom ons kyk na ʼn paar plekke waar jy maklik ʼn draai kan gaan maak sonder die ekstra visumbagasie.

Lande in Afrika:

Ons begin naaste aan die huis. Omdat ons deel is van die SAOG (Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap) beteken dit dat ons met gemak na lande soos onder andere Lesotho, Swaziland, Namibië, Mosambiek, Zimbabwe, Zambië en Botswana kan reis sonder ʼn visum.

Dan is daar die pragtige eilande van die Seychelle, Mauritius en Zanzibar (Tanzanië).

Lande in Asië:

Thailand is ʼn goedkoop en heerlike bestemming wat sonder ʼn visum besoek kan word. Vir ʼn groter inkopiehemel kan jy selfs ʼn draai gaan maak in Singapoer en Hongkong of gaan ontspan op die strande van Maleisië. Die Filippyne met al sy klein eilandjies kan ook visumvry besoek word.

Suid- en Sentraal-Amerika:

Hier is geen einde aan geleenthede om sonder ʼn visum te gaan reis nie. Noem maar op van Chili, Argentinië, Brasilië, Peru, Panama… die lysie gaan aan. Jy kan gaan ski, ruïnes bekyk, berge klim of op strande gaan lê. Die oorgrote meerderheid van lande in dié vasteland vra nie visums nie.

In die Karibiese Eilande is daar ʼn verskeidenheid eilande om van te kies, onder meer die Bahamas en Jamaika.

Op ander kontinente:

Twee van die kleinste landjies ver van ons af wat Suid-Afrikaners sonder visums verwelkom, is Nieu-Seeland en Ierland. Dan is ons ook welkom om sonder visums na Israel, die Maledive en Fidji te reis.

Dikwels gee lande wel visums, maar slegs as jy in die land aankom, wat die voorbereiding vir jou reis soveel meer moeiteloos maak. In die geval is plekke soos Ethiopië, Napels, Indonesië, Oman en Uganda ʼn besoek werd.

Vertel ons gerus van die lande wat jy al besoek het waarheen jy visumvry kon toer!

Ritsgids:

–          Baie lande verskaf verniet visums of verlang geen visum nie slegs vir ʼn sekere aantal dae. Maak seker jy weet wat die vereistes is. Besoek die webwerwe www.doyouneedvisa.com of http://en.wikipedia.org/wiki/Visa_requirements_for_South_African_citizens  om seker te maak, of vra jou toeragent. Die lande kan ook soms hulle beleid verander en dus is dit maar die beste om eers seker te maak.

–          Jy het altyd jou paspoort en ʼn retoervliegkaartjie nodig selfs al het jy nie ʼn visum nodig nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.