Reis: Vlieg met FlySafair

FlySafair B737-4Y0 ZS-JRE (vir Mango) Foto: Bob Adams, Flickr: https://www.flickr.com/photos/satransport/13196984215/

FlySafair B737-4Y0 ZS-JRE (vir Mango) Foto: Bob Adams, Flickr: https://www.flickr.com/photos/satransport/13196984215/

Ek het begin wonder of laekostelugdienste uitgefaseer is in Suid-Afrika. Deesdae kan mens maklik meer betaal vir een van die laekostelugrederye se vliegkaartjies as vir een van die groter lugdienste!

Groot was my verbasing toe ek hoor daar het weer ʼn nuwe laekostelugdiens aangemeld om Suid-Afrikaners ʼn kans te gee om die land te sien sonder dat dit hulle ʼn arm en ʼn been gaan kos.

FlySafair het hulle vlerke gesprei middel Oktober hierdie jaar.

Ek gaan nie jok nie… ek was heel skepties as gevolg van ander lugdienste wat dieselfde drome gevolg het net om later bankrot te speel met slegte nagevolge vir passasiers. Ek was dus maar lugtig om die “enter”-knoppie op my rekenaar te druk toe ek die stap neem om wel vir my ʼn kaartjie op hierdie nuwe lugdiens te bespreek.

Ek het myself daaraan getroos dat hierdie naam al meer as 50 jaar in die bedryf is, al het baie mense nog nie vantevore van hulle gehoor nie. Miskien omdat hulle meestal nie-kommersiële en huurvlugte waargeneem het – uit die publieke oog.

Wat vir my ʼn verfrissende verandering was met FlySafair, was dat hulle dieselfde aanslag volg as meeste plaaslike vlugte in byvoorbeeld Engeland en Amerika. Jy betaal net vir wat jy nodig het. Dus begin jy wel by ʼn laekoste-kaartjie, maar hoe meer ekstras jy neem, hoe meer betaal jy.

Aan die einde is die kaartjie nog steeds nie buitensporig duur nie.

As ʼn besigheidspersoon is, of gelukkig genoeg is om ʼn familie te hê wat al hulle reisbagasie in hulle handbagasie kan pas, betaal jy net vir die basiese vlugkaartjie. Indien jy bagasie het, gaan jou kaartjie duurder wees.

Met die skryf van hierdie artikel was die ekstra koste om ʼn enkele tas van 20 kg saam te neem, R150 per tas een rigting. Dit is dus R300 indien jy weer met jou bagasie wil terugkom. FlySafair is ook baie streng met die gewig van bagasie, ook handbagasie, wat net 7 kg mag weeg. Indien dit oor die bepaalde gewig sou wees, betaal jy net soos by ander lugrederye, per kilogram ekstra.

Soos op ander laekostevlugte betaal jy ook vir jou eie verversings op die vliegtuig indien die honger en dors knaag…

Die dag van my eerste FlySafair vlug het aangebreek met geen kansellasie boodskappe nie. ʼn Mens kan vanaf 24 uur voor die vlug vertrek elektronies inteken, indien jy wou. Die elektroniese stelsel sluit egter vier ure voor die vlug vertrek.

By die lughawe was ek eerstens effens verbaas om min mense in die tou van die spesifieke besprekingshekke te sien, maar mens kla nie daaroor nie. Wat my egter die meeste blydskap verskaf het, was die vriendelike en hulpvaardige diens wat ek van die personeel ontvang het, vandat mens inteken totdat ek by die vliegtuig se deure uitgestap het aan die anderkant. Personeel wat selfs met babatjies speel om die ma tyd te gee om haar veiligheidsgordel aan te sit of personeel wat ʼn algemene afkondiging maak sodat die hele vliegtuig die persoon wat in sitplek 20E sit, kan gelukwens met sy verjaarsdag.

Die enigste slegte ding vir my van hierdie hele ervaring was om te sien dat die vliegtuie telkens nie vol bespreek was nie. Wel, ek sou sê, seker driekwart vol.

Ek weet dis seker moeilik vir mense om weer vertroue te kry in iets wat amper te goed is om waar te wees, veral na vorige slegte ervarings. Maar ek glo hoe meer mense die lugredery ondersteun, hoe groter is die kans wat hulle het op oorlewing en dus laer koste vir mense wat wil vlieg.

Elke mens sal maar sy/haar eie opinie hê, maar wat my betref vlieg ek weer met FlySafair.

Ritsgids

– Natuurlik hang dit af van watter tyd van die jaar ʼn mens vlieg, maar selfs in besige tye soos rondom Kersfees is daar op die oomblik kaartjies vir ± R850 (goedkoopste). Die kompetisie se kaartjies is dikwels tot dubbeld soveel.
– Indien jy op ander tye vlieg wissel die kaartjies gemiddeld tussen R500 – R700 (voor BTW).
– FlySafair vlieg tussen Johannesburg, George, Port Elizabeth en Kaapstad (nog nie Durban nie).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.