Reisartikel: Bekostigbare trekpleisters in PTA waaraan jy nog nooit gedink het nie

Oudpresident Paul Kruger se standbeeld op Kerkplein in Pretoria (Foto verskaf aan Marianne Styan)

Oudpresident Paul Kruger se standbeeld op Kerkplein in Pretoria (Foto verskaf aan Marianne Styan)

Nog foto’s volg onderaan die berig. Ons glo so maklik ons moet ver reis om interessanthede te ontdek in vreemde lande. As jy egter ‘n Jakarandastad-bewoner is of dalk in daardie rigting reis, verander bietjie jou pas en besoek hierdie ongewone besienswaardighede.

Ditsong Nasionale Museum van Natuurgeskiedenis (Transvaal-museum)
Dié pragtige sandsteengebou word amper oorskadu deur die groot walvis-geraamte wat op die grasperk voor die museum uitgestal is. Dit is egter net n voorsmakie van wat jy binne kan verwag. Van dinosourus-geraamtes tot by Mev Ples – ‘n bewys van een van die sogenaamde evolusieteorieë van die mens. Sale vol waardevolle opgrawingsfossiele gee vir jou ‘n heerlike oorsig van die ontwikkeling van mens, dier en plant deur die jare.

Die museum bied ook ‘n ontdekkingsentrum (op bespreking) waar kinders die geskiedenis van ons ontwikkeling self kan “ontdek”. Die “One night in the Museum” gevoel laat jou amper glo die uitstallings word werlikheid in die aand as die toeriste weg is.

Kruger-huis
Die huis (gebou in 1884) is so na aan die ware Jakob gerestoureer om die oorspronklike huis waarin die destydse Suid-Afrikaanse president, Paul Kruger en sy vrou, Gezina, gebly het, weer te gee. Dis gebou met ‘n sement- en melkmengel in plaas van water, omdat die destydse sement blykbaar nie goeie gehalte was nie.

Baie van die memorabilia is selfs nog te sien in hulle oorspronklike vorm soos byvoorbeeld die twee steen-leeus op die stoep, huisorrel en die olieverfskildery van Kruger. Selfs die tapyt in die onthaalvertrek is in 1974 weer deur dieselfde Londense maatskappy geweef om die oorspronklike 1933-voorganger te vervang.

Die huis se ambiaans is só delikaat herskep dat jy letterlik verwag die oud-President gaan enige oomblik deur die Franse-stoepdeure stap.

Kerkplein
As die historiese middelpunt van Pretoria, is hierdie plein nog net so mooi soos 160 jaar gelede. Dis oorspronklik uitgelê om mark-en kerkgangdoeleindes aan te help in 1855. Dis selfs in 1883 as sportveld gebruik waartydens die verspring-atleet, Izak Prinsloo, die eerste wêreldrekord deur ‘n Suid-Afrikaner opgestel het.

Pragtige argitektoniese geboue wat jy vandag nog hier kan besoek sluit onder andere in: die Paleis van Justisie, die Ou Reserwebank, Ons Eerste Volksbank, die Ou Capitol-teater, die Tudor-kamers, die Ou Raadsaal, Standardbank, die Ou Nederlandsche Bank, die Hoofposkantoor en die baie gewilde Café Riche. Die bekendste landmerk hier is natuurlik die standbeeld van oudpresident Paul Kruger.

Die Heldeakker
Dit klink dalk vreemd om begraafplase te besoek, maar dis glad nie so ongewoon om die laaste rusplek van bekendes te gaan opsoek in ander lande nie. Hoekom nie ons eie helde so vereer nie?

Hierdie kerkhof, ontwikkel in 1867 in ‘n gedeelte van die Kerkstraat-kerkhof, is ‘n historiese diamant van ons land se bekende figure se grafte. ‘n Paar bekendes wat hier begrawe lê, is Andries Pretorius, Paul Kruger, Eugène Marais en Hendrik Verwoerd.

Suid-Afrikaanse Lugmagmuseum
Die Zwartkop-lugmagbasis is in 1921 geopen en geleë in Centurion. Alhoewel die basis die Suid-Afrikaanse Lugmag (SALM)-museum huisves, is dit nog steeds ‘n aktiewe lugmagbasis. Dit was ook SA se eerste lugmagbasis.

As die militêre geskiedenis van Suid-Afrika jou interesseer of enigiets te doen met vliegtuie, is hierdie die plek vir jou. Klim in die stuurkajuit van ‘n Boeing 707 en bekyk van nader die onderdele van die eerste SALM-vliegtuig, wat deel was van die Tweede Wêreldoorlog. Hier is oudhede uitgestal wat jy nie eens gedroom het ons land het nie.

Daar is nog baie meer sulke interessanthede in Pretoria weggesteek, begin net soek en speel toeris in ‘n plek waar jy elke dag leef, met heel moontlik korter toue as die alledaagse plekke.

Ritsgids:
Die Museum van Natuurgeskiedenis is sewe dae per week oop tussen 08:00 – 16:00. Die koste beloop R30 per volwassene en R15 vir kinders en pensioenarisse. Klik hier vir meer inligting.

Kruger-huis kos R35 per volwassene en kinders en pensioenarisse betaal slegs R15. Op weeksdae is hulle oop van 08:30 – 16:30 en oor naweke van 09:00 – 16:30. Klik hier vir meer inligting.

Toegang na die Lugmagmuseum by Zwartkop-lugmagbasis is verniet. Die museum is tussen 10:00 – 15:00 van Maandag tot Saterdag oop. Dis gesluit op vakansiedae. Kontaknommer: 012 351 2290

As gevolg van vandalisme moet hulle die Heldeakker toegesluit hou en kan jy net inkom as jy met die stadsraad ‘n reëling tref. Hulle reël dan met die opsigter om vir jou oop te maak. Stuur gerus vir hulle ‘n e-pos indien jy die Heldeakker wil besoek: Marius Dicks by [email protected] of Lorraine Maudi by [email protected].

Lugmagmuseum Foto: Alex Drennan, Gauteng Tourism

Lugmagmuseum Foto: Alex Drennan, Gauteng Tourism

Die walvisgeraamte voor die Museum van Natuurgeskiedenis in Pretoria Foto met vergunning van Ditsong

Die walvisgeraamte voor die Museum van Natuurgeskiedenis in Pretoria Foto met vergunning van Ditsong

Kruger-huis in Pretoria Foto met vergunning van Ditsong

Kruger-huis in Pretoria Foto met vergunning van Ditsong

Oudpresident Paul Kruger se standbeeld op Kerkplein in Pretoria (Foto verskaf aan Marianne Styan)

Oudpresident Paul Kruger se standbeeld op Kerkplein in Pretoria (Foto verskaf aan Marianne Styan)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jaco Smit ·

Ek probeer al vir jare by die heldeakker inkom, enige idee hoe mens dit doen en wanneer dit oop is?

Marianne Styan ·

Hello Jaco

Agv vandalisme moet hulle die plek toegesluit hou en kan jy net inkom as jy met die stadsraad n reling tref. Hulle reel dan met die opsigter om vir jou oop te maak, Hulle is vriendelike en jy kan net vir hulle n email stuur en vra of jy asb die plek kan besoek.

Die twee mense wat jy kan kontak is: Marius Dicks by [email protected]
of Lorraine Maudi by [email protected].

Vriendelike groete
Marianne Styan

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.