Reisartikel: Jacobsbaai, die besbewaarde geheim van die Weskus

Jacobsbaai Foto: Marianne Styan

Jacobsbaai Foto: Marianne Styan

Nog foto’s volg onderaan die berig. Een van die besbewaarde geheime van die Weskus, is ‘n plek waar jy net branders hoor breek teen die rotse. Die ongewoon deftige huise langs ongeteerde strate is meestal witgewas en aards. Dít is die seekus-gemeenskap met die ongewone naam, Jacobsbaai.

Op die R27 roete langs die Weskus, net ‘n uur en ‘n half se ry vanuit Kaapstad, is dit bereikbaar vir ‘n vininge naweekwegbreek.

Dis ook wat dit is: ‘n wegbreek van alles.

‘n Sosiale herlewing of die naglewe van die stad gaan jy nie hier kry nie. Die weggesteekte plekkie is ideaal as jy op soek is na absolute rus en vrede, weg van die ritmiese stadsgejaag. Miskien op reis na herontdekking van jouself of om opnuut met die natuur in aanraking te kom.

Waar Jacobsbaai sy naam gekry het, is onseker. Dit is gebore as ‘n klien dorpie op ‘n plaas met dieselfde naam. Een storie word vertel dat dit vernoem is na die Fransman, Jacues Titius wat ‘n koloniale handelaar aan die Weskus was (een van die straat is na hom vernoem).

‘n Ander verduideliking lui dat ‘n Engelse koning die stuk grond aan ‘n plaaslike bewoner met die naam “Jacob” geskenk het.

Hoe dit ook al sy naam gekry het, dit het nog steeds die landelike gevoel wat dit gehad het toe dit ontstaan het.

Die belangrikste aktiwiteite waarna jy kan uitsien, is staproetes kuslangs, braai en ontspan op die stoep. Net die reuk van braaivleisvure, waar iemand êrens ‘n tjoppie op die vuur gooi, bewys jy is nie alleen wanneer jy deur die verlate stofstrate stap nie. Met omtrent 150 huise en ongeveer 60% permanente inwoners, voel dit onmoontlik om nie in ‘n ander lewende siel vas te loop nie, maar dit is meestal die geval.

Verrassend vir so ‘n klein dorpie is daar ‘n groot verskeidenheid gastehuise en selfvoorsienende akkommodasie.

Indien jy nie in die bui is om te braai nie, kan jy die verskeidenheid disse van die enigste restaurant in die dorp, die Weskusplek, gaan opsoek. Hulle is bekend vir hulle pizzas. Die interieur van die restaurant is lig en deur die see geïnspireer. Die Weskusplek bied ook ‘n pragtige uitsig op die strandmeer. In wintermaande kan jy voor die kaggel ontspan. Dit is verbasend besig gedurende naweke vir so ‘n klein dorpie en is soms gesluit vir die publiek as gevolg van ‘n troue.

Danksy die groot Weskus-winkelsentrum in Vredenburg, net 15 minute weg, is alles bekombaar.

Club Mykonos (Langebaan) en die Santorini-geïnspireerde Paternoster, is albei 30 minute se ry in teenoorgestelde rigtings ver, waar ‘n groot verskeidenheid restaurante geleenthede bied om te sosialiseer.

Club Mykanos bied die bekende “Lekka by die see” en “Boesmanland Plaaskombuis”.

In Paternoster kan jy kies en keur tussen onder andere Noisy Oyster, Saffron en die Paternoster Hotel-restaurant. Gaatjie-restaurant wat in MasterChef Suid-Afrika gebruik is, is ook `n kuier werd.

Jy kom egter nie Jacobsbaai toe vir glans en glorie nie. Hier kan jy jouself oorgee aan absolute onspanning sonder om skuldig te voel. Vergeet daar is iets soos internet of selfone… die ontvangs is in elk geval swak.

Jacobsbaai is ‘n rusplek vir liggaam en siel, ‘n vredevolle hawe in ‘n besige wêreld en dít maak van Jacobsbaai.‘n stukkie naby die hemel… Dit is ʼn onbekende vir ons in moderne tye en om daardie rede, ongewoon… net soos sy naam.

Jacobsbaai Foto: Marianne Styan

Jacobsbaai Foto: Marianne Styan

Uitsig op die see uit die Weskusplek Foto: Marianne Styan

Uitsig op die see uit die Weskusplek Foto: Marianne Styan

Jacobsbaai Foto: Marianne Styan

Jacobsbaai Foto: Marianne Styan

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Marina van Zyl ·

Jacobsbaai is die plek waar jou liggaam en siel mekaar na presies 24 uur weer vind…… Vir ons Gautengers ‘n paradys !

Dan is die Oppiwa fees ‘n ervaring op sy eie….. Dis karnaval tyd in Jacobsbaai !

Die kinders mag maar eendag my assies daar gaan strooi……. Dit voel in my aardse lewe al naby aan die hemel !

Groetnis van ‘n koue Meyerton,
Marina

Elsabe Basson ·

Ons het die voorreg gehad om vir twee en ‘n half jaar Jacobsbaai ons huis te noem. Jacobsbaai is salf vir mens se siel. Die see, die mooi sonsondergang, wandelpaadjies en veral die Weskus gasvryheid het ons lang trane laat huil toe ons getrek het. Doen moeite en ry die paar kilometer vanaf die hoofpad en gaan kyk die mooi ongerepte dorpie. Jy sal dalk net wil bly en nie weer wil weggaan nie.

Sanet Verster ·

Al die inligting is sover reg, maar wat van al ons heerlike vars seekos? Hier het gaste en onsself nog die voorreg om vars kreef (natuurlik in seisoen), te proe. Gebraaide snoek en patat, of gebraaide harders, staan ook nie terug vir al die heerlikhede nie.
Ons probeer om aan ons gaste ‘n werklike Weskus ondervinding te bied.

Elna ·

Ek kan nie wag om vir die eerstekeer sielelafenis in Jacobsbaai te gaan geniet nie. Baie dankie!

Annelize ·

Ons het net laas week toevallig deur Jacobsbaai gery en ek het my hart absoluut daar verloor. Ons was ongelukkig reeds oppad terug na ‘n lekker Kaap-vakansie, maar ek het my voorgeneem om nog op Jacobsbaai te gaan vakansie hou. Dit is die mooiste, stilste, wonderlikste plekkie wat ek nog gesien het. Eintlik hoop ek die “geheim” word nog langer bewaar, want ek sal nie graag wil sien dat die dorpie net nog ‘n gekommersialiseerde vakansiedorp vir die massas word nie.

Sollie ·

Die spelling van Club Mykonos is soos ek dit gedoen het – dis nie MykAnos nie maar MykOnos!

Sune van Heerden ·

Dagsê Sollie

Dit was inderdaad ‘n vingerfout, ons het dit reggestel.

Baie dankie
Groetnis
Suné van Heerden
nms Maroela Media

Sollie ·

Als reg Sune – enige vroutjie maak ‘n foutjie -of is dit froutjie en voutjie?? – net ‘n grappie, bly dis reggemaak!

Arie Lombard ·

Die rustigheid van Jacobsbaai en die vriendelikheid van sy mense was nog elke keer wat ek daar gekuier het heerlik.
Mens herlaai die ou batterye daar.

Sanet Lindeque ·

Net die plekkie waar ek vir ‘n jaar of drie wil gaan rus na my aftrede.

Lizl ·

Soos Annelise se, mens wil so plekkie jaloers bewaar voordat dit deurtrap word met toeriste. Eerste wat altyd toesak op sulke plekkies is die jappies, dan kom die quad fietse, dan kom die smouse met hulle plastiek sjinese ware en voor jy jou oë uitvee is alles daarmee heen. Altans dit is wat hier by ons in mpumalanga (laeveld) gebeur met ons pragtige ou dorpies.

Ken Moore ·

Ek het so klein ” SHACK” waar my siel rus in Jacobsbaai. Die huise mag net witgewas wees en net een en ‘n half verdiepings hoog, geen hoe mure of elektriese heinings nie. MAAR wat nog nie genoem is nie is die blommeprag in Aug/Sept. jou eie stukkie Namakwa.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.