Reisartikel: V&A Waterfront meer as net ʼn winkelsentrum

Die V&A Waterfront tydens sonsondergang (Foto: V&A Waterfront; word met vergunning hier geplaas)

Die V&A Waterfront tydens sonsondergang (Foto: V&A Waterfront; word met vergunning hier geplaas)

Die gewildste bestemming in die hele Afrika is nie die Piramiedes in Egipte of die Kruger-wildtuin nie. Nee, dis die Victoria & Alfred Waterfront in Kaapstad wat verlede jaar deur sowat 24 miljoen mense besoek is.

Nou wonder jy seker: Dis dan ʼn winkelsentrum? Die V&A Waterfront is heelwat meer as bloot net ʼn winkelsentrum.

Die gewilde ontwikkeling se ligging reg langs Kaapstad se hawe, is een van die redes hoekom dit so ʼn aantrekkingskrag het. Met inkomende oliebore, vissers-, vrag- en passasiersbote, voel dit of daar altyd lewe is. Daar is altyd iets om dop te hou as jy by een van die talle restaurante sit en ʼn drankie of maaltyd geniet.

Natuurlik is dit ook ʼn perfekte plek om op ʼn mooi dag die sonsondergang dop te hou of – soos Jan van Riebeeck destyds – jou oë op te slaan na Tafelberg.

Die Waterfront is ook die vertrekpunt van verskeie bootritte – geleenthede om die Kaap van ʼn ander hoek af te ontdek, pikkewyne en seeleeus van nader te bekyk of Robbeneiland te besoek.

Nog twee lekker aantreklikhede, wat deel vorm van die Waterfront, is die Twee Oseane Akwarium – ʼn wonderlike manier om die kinders mee besig te hou en die SA Rugby-museum, wat ʼn unieke belewenis vir enige rugby-ondersteuner is.

Wat min mense weet is dat daar tussen al die nuut nog ʼn ou hart klop. ʼn Geskiedenis wat amper so oud is soos ons land. Daar is 22 historiese besienswaardighede in die Waterfront wat vandag nog beleef kan word. Historiese staptoere met of sonder die hulp van ʼn kundige toergids kan onderneem word (sien ritsgids onderaan die berig).

Van die oudhede wat gesien kan word sluit oorblyfsels in van Breakwater-tronk wat herinner dat gevangenes die hawe moes bou. Van hulle tekeninge is nog hier sigbaar.

By die Maritimes-museum (dit het ook die grootste Suid-Afrikaanse versameling van modelskepe) kan jy die SAS-Somerset, die enigste oorblywende uitdiensgetrede sperboomvaartuig in die wêreld te siene kry.

Nog landsmerke is die ikoniese Victoriaans-Gotiese kloktoring – vandag in helder geel; die Time Ball-torings – wat skeepskapteine vandag nog gebruik om hulle skeepshorlosies mee te reguleer; en die Chavonnes Battery-museum – een van die oudste Europese strukture in Suid-Afrika. Dis gebou in die vroeë 1700’s en was onder meer gebruik as ʼn hospitaal met die groot masels-epidemie in die 1800’s. Die gebou huisves vandag een van die land se grootste uitstallings van kanonne.

Dan is daar die ou kragstasie – die eerste om elektriese beligting in Suid-Afrika te verskaf wat ook besoek kan word.

ʼn Nuwe toevoeging (einde 2016) tot die historiese herlewing van die ou hawe, is die opgradering van die graansilo’s – gebou in 1912. Dit word tans omskep in Afrika se eerste kontemporêre kunsgalery deur die Britse argitek, Thomas Heatherwick. Definitief ʼn toekomstige trekpleister na ʼn stiller hoek van die Waterfront.

Moenie op jou laat wag nie! Besoek gerus al die wonderlike aantreklikhede wat verstrengel lê tussen die nuwe uitbreidings van hierdie skatkis langs die water.

En raai wat? As die wederhelftes nie belangstel nie, stuur hulle om te gaan inkopies doen.

Ritsgids
• Historiese staptoere vertrek daagliks om 11:00 vanaf die Chavonnes Battery-museum. Kostes is R100 per volwassene en R20 per kind. ʼn Alternatief is om die staproete op jou eie aan te pak deur ʼn kaart by die inligtingstoonbank van die V&A Waterfront te kry en op jou eie tyd die verlede te ontdek. Klik hier vir meer inligting.
• Kaartjies vir die 50 meter hoë Kaapse wiel kos R100 per volwassene, pensioenarisse betaal R60 en R50 vir kinders vir ʼn 20 minuut lange rit (of kies die BBP-kajuit wat vingerhappies & sjampanje insluit!) Klik hier vir meer inligting.
• Toegang na die SA Rugby-museum kos R50 per volwassene en R30 per kind. Die museum is tussen 10:00 en 18:00 oop en laaste persone word om 17:30 toegelaat (vra vir die spesiale prys vir ʼn gesin van vier of meer). Klik hier vir meer inligting.
• Die Robbeneiland-museum is langs die kloktoring geleë en die veerboot vertrek daagliks na die eiland om 09:00, 11:00, 13:00 en 15:00. Die koste beloop R250 per volwassene en R120 per kind. Klik hier vir meer inligting.
• Die Chavonnes Battery-museum is R35 per volwassene en R25 vir pensioenarisse. Openingsure van 09:00 – 16:00. Dis belangrik om voor die tyd die daaglikse toere te bespreek. Klik hier vir meer inligting.
• Twee Oseane Akwarium is 365 dae van die jaar oop tussen 09:30 en 18:00. Dis goedkoper om deur die internet toegangskaartjies te koop. ʼn Jaarlikse toegangspermit is ook beskikbaar en is ʼn baie goeie idee as jy in die Kaap bly. Klik hier vir meer inligting.
• Die eerste besigheid wat in 1989 in die Waterfront oopgemaak het, is vandag nog daar: dit is die kroeg Ferrymans Tavern en Mitchell’s-brouery. Besoek dit gerus vir lekker bier en pizza. Klik hier vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.