Reisartikel: Zanzibar: ʼn deeltjie verlore paradys

Ontspan op die strand by Zanzibar Foto: Marianne Styan

Ontspan op die strand by Zanzibar Foto: Marianne Styan

Aan die ooskus van Afrika, langs Tanzanië, en sowat ses grade suid van die ewenaar, vind ʼn mens ʼn klein stukkie aarde… asof weggebreek van die moederkontinent. Ten spyte van ʼn opspraakwekkende verlede, kan ʼn mens nie van die eiland van Zanzibar vergeet nie, want dit is ʼn deeltjie verlore paradys.

ʼn Eertydse slawekolonie, waar mense nie wou wees nie, is Zanzibar vandag maklik bereikbaar sedert Mango-lugredery ook vlugte van Suid-Afrika hierheen aanbied.

Zanzibar is deel van Tanzanië, soos wat Robbeneiland deel is van Suid-Afrika, maar Zanzibar is baie groter as Robbeneiland, wat maar sowat 5 km in omtrek is. Op Zanzibar sal dit jou meer as twee ure per motor neem om vanaf die suide by Kizimkazi tot by Nungwi in die noorde te ry.

Die armoede van Zanzibar is oral sigbaar. Dis Mauritius, 50 jaar gelede. Maar wees gerus, vandag vind jy van die beste hotelle en vakansieoorde – vergelykbaar met die bestes ter wêreld.

Jy vind ook hier van die heerlikste strande om op uit te span, louwarm seewater (selfs warmer as die swembaddens) en skilderagtige sonsondergange.

Daar is diepseeduik- en snorkelgeleenthede wat jou na jou asem laat snak terwyl jy nog jou snorkel in jou mond het; in die suide van die eiland is daar geleentheid om saam met die dolfyne te baljaar, of soms sommer enige plek as hulle jou kom verras met ʼn besoek langs jou snorkelboot.

Daar is egter baie meer om te doen op hierdie eiland as net die gewone eilandvakansie-aktiwiteite. Jy kan gou deel word van die hartklop van hierdie eiland as jy begin ronddwaal tussen die smal, “nie gebou vir karre nie”-stegies tussen geboue, wat in ʼn eerstewêreld-land enige mens lankal na ʼn verfkwas sou laat gryp het.

Die rowwe, amper vervalle voorkoms van die geboue, in ʼn Islamitiese boustyl, staan in skerp kontras met die pragtige houtgekerfde deure regdeur Stone Town, die hoofstad van Zanzibar. Die bekende deure gee die dorpie sy sjarme. Jy loop en verkyk jou aan elke detail op die deure en jy kan letterlik nie ophou foto’s neem nie – veral saam met die kleurvolle uitrustings van die plaaslike vroue wat hulle daaglikse gang gaan, onbewus dat hulle deel vorm van elke Kodak-oomblik.

In die bekende vlooimark van Zanzibar kan jy kies en keur van alles tussen elke moontlike spesery tot handgemaakte leergoedere tot pragtige kleurvolle materiale. Die mense is vriendelik en laat jou glad nie soos ʼn vreemdeling voel nie. Miskien is dit omdat hierdie mense besef hulle bly in ʼn stukkie paradys: hulle weet hulle het niks meer as dit nodig nie…

Ritsgids:
• Zanzibar se humiditeit is veral in die somermaande erg en dit kan regtig warm word. Gaan eerder in die herfs-en lentemaande. Julie tot Oktober is die beste maande, want min reën kom dan voor. April is reënseisoen. November tot Desember het kort reënvalle, maar dit is al lekker warm tydens hierdie maande. Januarie en Februarie is die warmste tye, maar daar kan nog reën voorkom.
• Zanzibar is hoofsaaklik ʼn Moslem-land en dus moet hulle gebruike gerespekteer word: vrouens moet verkieslik nie te kort rompies dra of met oop skouers rondloop wanneer hulle in die markte of strate rondloop nie. Binne die oorde word mini’s en bikini’s toegelaat, maar jy moet iets behoorlik aantrek wanneer jy na die eetsaal of restaurante gaan. Dra ʼn pashmina of ʼn sarong saam met jou om oor jou skouers te gooi.
• Stry ʼn bietjie oor pryse vir goedere wat jy wil koop… dit kan dalk goedkoper uitwerk as wat jy dink (in die vlooimark kan jy tot 40% afstry). Moenie deur enige toneelspel beïnvloed word van die verkopers se kant af nie.
• Die geldeenheid vir Zanzibar is die Tanzaniese Shilling (THS), aangesien dit eintlik deel is van Tanzanië. By meeste van die oorde word dollar of euro’s ook aanvaar.
• Leer basiese Zanzibar-Swahili-woorde aan wanneer jy Zanzibar besoek. Woorde soos: Asanti sana (dankie); Jambo (hello); Hakuna Matata (geen probleem); Karibu (welcome/you are welcome); Kwaheri (totsiens) is baie handig en sal baie gebruik word tydens jou verblyf.

Vissersbootjies op die see is 'n alledaagse gesig Foto: Marianne Styan

Vissersbootjies op die see is ‘n alledaagse gesig Foto: Marianne Styan

Pragtige houtdeure in Zanzibar Foto: Marianne Styan

Pragtige houtdeure in Zanzibar Foto: Marianne Styan

Kroeg by Diamonds Gemma Dell Est-oord Foto: Marianne Styan

Kroeg by Diamonds Gemma Dell Est-oord Foto: Marianne Styan

Seeuitsig deur Islamitiese argitektuur Foto: Marianne Styan

Seeuitsig deur Islamitiese argitektuur Foto: Marianne Styan

Sonsondergang op die strand by Zanzibar Foto: Marianne Styan

Sonsondergang op die strand by Zanzibar Foto: Marianne Styan

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.