Safari in die Kaap – Die Wes-Kaap wys haar wilde kant

As jy al ooit voet aan wal in die Wes-Kaap gesit het, of net met ’n Kapenaar gesels het, sal jy weet dat daar sekere dinge is waaroor ons met trots spog. Van die wêreldbekende wynlande, natuurskoon en kuste, Kaap-Hollandse gewels, die familie se vakansiehuis in Stilbaai, Hartenbos of Waenhuiskrans, die eeueoue kasteel, tot die ikoniese Tafelberg. ’n Mens hoor selde dat ’n Kapenaar van ’n wildrit in sy geweste praat, maar dit mag dalk binnekort iets van die verlede wees, want die Wes-Kaap begin al hoe meer haar wilde kant wys. Van glasiesklink in Stellenbosch tot perdry in Plettenbergbaai, hier is vyf plase in die Wes-Kaap waar jy jou Kaapse safariinspuiting kan kry!

Villiera

(Foto verskaf deur Villiera)

Elke plaas het iets wat eie aan hom is. Villiera bied die beste van beide wêrelde met hulle wyntoer-wildrit in die buitewyke van Stellenbosch! Gaste word met ’n glasie van die plaas se eie Method Cap Classique verwelkom, waarna hulle ’n twee uur lange wildrit deur die plaas se 240 hektaar-wildkamp geniet. Villiera se wildritte is nog redelik nuut en so te sê ’n versteekte juweel in die wynland. Op dié toer kan kameelperde, springbokke, gemsbokke, sebras, grysbokke en selfs ’n skilpad of twee gewaar word. Die wildrit word met ’n wynproe-sessie afgesluit waar ses wyne van jou eie keuse geproe word, hetsy wit, rooi of vonkel.
Prys: R250 per persoon (sluit wynproe in)

Kwetu Guest Farm

(Foto verskaf deur LekkeSlaap)

Net duskant Swellendam, 11 kilometer om presies te wees, lê Kwetu Guest Farm. Dié plaas kyk op die Langeberge uit en buiten perdry, visvang en piekniek, bied Kwetu Guest Farm ook wildritte aan. Gaste kan self bestuur of deur ’n gids rondgery word. Hier kan gaste springbokke, bontebokke, kameelperde, elande, wildebeeste, koedoes, waterbokke en reebokke sien, om nie eers van die ontelbare voëls en ander kleiner soogdiere te praat nie!
Prys:   R250 (selfry)
R160 (met ’n gids)
’n Piekniekmandjie vir 2 is teen R175 beskikbaar

Aquila Private Game Reserve

(Foto verskaf deur LekkeSlaap)

Aquila Private Game Reserve is ’n 4-ster-lodge in die Klein Karoo, tussen die Langeberge en die Outeniekwaberge, en het meer as genoeg rede om koning te kraai wanneer dit by Wes-Kaapse safari’s kom. Gaste kan kies tussen halfdag-, heeldag-, oornag-, vierwielmotorfiets-, perdry- en vlieg-safari’s, of ’n kombinasie van ’n drie uur lange wildrit en ’n perdry- of vierwielmotorfiets-safari! Elke wildrit word deur ’n gesoute gids wat interessante feite deel en staaltjies vertel, aangebied en verversings word voorsien. Gaste is meer as welkom om langer te kuier en die ander geriewe van die lodge, soos die spa en swembad, te benut.
Prys: Vanaf R1270 en verskil van wildrit-soort en seisoen.

Plettenberg Bay Game Reserve

(Foto verskaf deur LekkeSlaap)

Plettenberg Bay Game Reserve skuil aan die voet van die Tsitsikammaberge op ’n 2 200 hektaar-reservaat. Dié reservaat spog met die Groot Vyf en as gaste gelukkig is, sal hulle olifante, renosters, luiperds en leeus tydens hulle wildrit sien. Perdry-safari’s word ook aangebied as jy eerder die leisels wil oorvat en ’n meer intieme ervaring met die natuur wil geniet. Gedurende beide safari’s word gaste deur ervare en ingeligte gidse begelei.
Prys:   R750 vir volwassenes
R375 vir kinders tussen 4 en 18 jaar
Gratis vir kinders jonger as 3 jaar
Perdry-wildrit: R750 per persoon (geen kinders onder 13 jaar)

Buffelsdrift Game Lodge

(Foto verskaf deur LekkeSlaap)

Net vyf ure se ry vanaf Kaapstad, in die land van volstruise en die Klein Karoo Nasionale Kunstefees, sal jy Buffelsdrift Game Lodge vind. Dié luukse lodge bied verskeie safari’s en diere-ervarings aan gaste en dagbesoekers. Die wildritte duur ongeveer twee uur, waartydens gaste die beste van die Karoo kan sien: Karoo-plantegroei, seekoeie, olifante, springbokke, renosters, kameelperde en nog vele meer! Verversings word halfpad by ’n uitkykpunt, wat op die Swartberge uitkyk, bedien.
Prys: R585 per persoon

Waai die Suidooster jou na die bosveld? Hunker jou hart na die rustigheid van die natuur? Waarvoor wag jy? Beplan nou jou Kaapse safari en beleef die allerbeste natuurskoon van die Wes-Kaap en haar wilde kant.

Hierdie artikel is verskaf deur Lekkeslaap.co.za en is opgestel deur is Jeanne Carstens.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.