SA’ners in die buiteland: Só vier ons Kersfees in Kanada (Deel 2)

Suzanne Vegreville

Suzanne Vegreville

In Suid-Afrika het ons ons eie, eg Suid-Afrikaanse Kersfees-kultuur: sonskyn, swem, tafels wat kreun onder die kos, Kerssangdienste met Kersfeesliedjies, bedrywige winkelsentrums vol Kersversierings en veral gehaltetyd saam met ons geliefdes. Maar vir baie Suid-Afrikaners in die buiteland het Kersfees ʼn heel ander gedaante. Maroela Media het in samewerking met Wêreldwyd gaan kers opsteek by Suid-Afrikaners wat in ander lande woon om te hoor hoe hulle Kersfees vier, en watter van die Suid-Afrikaanse tradisies en gebruike hulle steeds in die buiteland deel van hul Kersfees maak. Klik hier vir vorige artikels oor Suid-Afrikaners in ander lande se Kersfeesvierings.

Suzanne Vegreville is ons tweede leser vanjaar wat van haar koue Kersfees in Kanada vertel. Klik hier om te lees wat skryf Karen Jordaan oor haar belewenis van Kersfees in Kanada. Die koue speel ʼn rol op die spyskaart, maar verhoed nie die Kanadese om hul huise prettig te versier nie, sê Suzanne. Sommige dorpe het kompetisies om die beste huisversierder te kroon. Dit lok toeriste van ver af om te kom kyk. Die wenner kry dan ʼn geldprys en/of afslag op sy kragrekening. Sy vertel verder:

“Ek dink die grootste verskil in die manier waarop Kersfees in Kanada gevier word, teenoor hoe ons dit in Suid-Afrika doen, is die weer. Hier is dit gewoonlik ʼn wit Kersfees, teenoor die warm Kersseisoen in Suid-Afrika, wat dan ook verseker dat hier nie juis koue vleise en slaaie bedien word nie. Meeste mense eet kalkoen, met al die ‘trimmings’ daarby.

“Hier word baie klem gelê op die versiering van huise, vir verskillende seisoene. Tot onlangs was die Halloween-versierings nog op, maar op 1 November word dit afgehaal om plek te maak vir die Kersversierings. Dit klink dalk vroeg vir Kersversierings, maar om buite liggies op te sit as dit -30°C is, is nie ʼn grap nie. Buiten dat jy bibber, word die elektriese drade binne 2 minute kliphard, en is dit baie moeilik om liggies op te sit met ʼn stywe draad en gevriesde hande. Nie almal versier hulle huise nie, maar meeste mense het darem ʼn liggie of twee buite, en sommiges gaan sommer GROOT, en het ʼn ongelooflike tentoonstelling van liggies en Kersuitbeeldings. Sommige dorpe het kompetisies, en dit sorg dan vir toeriste wat van ver af kom om te kyk. Die wenner kry dan ʼn geldprys en/of afslag op sy kragrekening. Dis dikwels dieselfde mense wat jaar ná jaar wen, en die wengeld nét so gebruik om nóg liggies aan te skaf, vir die volgende jaar. Ons het net een allemintige Kersboom buite, wat hoër as ons (dubbelverdieping) huis is, met 400 liggies in.

“Sommige mense (ek ook) het Kerstyd ʼn magneet Kersuitbeelding op my motor ‘Keep Christ in Christmas’. Hierdie tyd van die jaar is die dorpe ook vol pragtige bessiebome, wat kos verskaf vir die voëltjies in die winter. Hulle vreet die gevriesde bessies. Baie dorpe het ook ʼn ‘hay ride’ vir die kinders op Ou Kersaand. Een of ander boer sorg altyd vir ʼn wa met strooibale, en twee tot vier perde wat met hulle klokke om die nek deur die strate loop met die kinders toegedraai in komberse, en met warmwatersakke agterop. Hier in die Prairies kan ons maklik -30 of -40 grade hê, so mens moet maar warm aantrek en genoeg komberse vat as jy wil lewendig terugkom. Dis pragtig om die statige groot perde met die wa te sien stap, met die stoom wat uit hulle neusgate blaas.

“Die Kersseisoen word ingelei wanneer die Canadian Geese en die Snowgeese, suidwaarts trek agter die somer aan. Hulle vlieg by hulle duisende der duisende elke dag hier oor ons huis, al singende – dis te pragtig.

“Geseënde Kersfees vir julle almal en dankie dat julle so onverpoosd werk om ons klomp expats ingelig te hou. Ek waardeer dit geweldig en geniet die nuusbriewe, al stuur ek nie gereeld bydraes nie. My Afrika wortels sal nooit kan uitgetrek word nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

charmaine ·

Aan my kinders wat in Kanada woon , n baie geseende Kersfees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.