SA’ners in die buiteland: Só vier ons Kersfees in Kanada

Karen Jordaan en haar gesin.

Karen Jordaan en haar gesin.

In Suid-Afrika het ons ons eie, eg Suid-Afrikaanse Kersfees-kultuur: sonskyn, swem, tafels wat kreun onder die kos, Kerssangdienste met Kersfeesliedjies, bedrywige winkelsentrums vol Kersversierings en veral gehaltetyd saam met ons geliefdes. Maar vir baie Suid-Afrikaners in die buiteland het Kersfees ʼn heel ander gedaante. Maroela Media het in samewerking met Wêreldwyd gaan kers opsteek by Suid-Afrikaners wat in ander lande woon om te hoor hoe hulle Kersfees vier, en watter van die Suid-Afrikaanse tradisies en gebruike hulle steeds in die buiteland deel van hul Kersfees maak. Ons plaas vandag die derde van ʼn reeks van vyf stories oor Suid-Afrikaners in ander lande se Kersfeesvierings.

Hoewel Karen Jordaan en haar gesin hul Kersfees in die koue Kanada deurbring, verkies hulle om dit saam ander Suid-Afrikaners te vier en die “tradisionele ding” te doen soos net Suid-Afrikaners kan. Sy skryf:

“Vandat ons in Kanada gekom het, was ons gelukkig om die meeste van ons Kersfeesdae saam met Suid-Afrikaners deur te bring. Dan doen ons die tradisionele ding soos ons Suid-Afrikaners dit ken!

“Omdat dit nou maar koud is hier, maak ons warm tradisionele geregte soos bobotie en geelrys of herderspastei. Vir die soettand maak ons gebakte nagereg soos Hertzogpoeding of souskluitjies.

“Die Kanadese se standaard disse op die spyskaart is gewoonlik kalkoen, kapokaartappels en sous (‘mash and gravy’), soetmielies, perogies (ʼn tipe pasta) en ʼn slaai. Daar is ook af en toe ‘beef roast’.

“Die oorgrote meerderheid van die Kanadese is nie wedergebore Christene nie. Hulle viering van Kersfees is net wêrelds. Jy sukkel baie om Kerskaartjies te koop wat sê “Merry Christmas” – die  gemiddelde kaartjie sê eerder “Happy Holidays”.

“Omdat dit hier by ons wit gesneeu is oor Kerstyd, word daar baie liggies oral om huise, in die tuin en bome opgesit. ʼn Mens sien ook opblaasfigure en draadfigure wat met liggies verfraai is.

“Die foto’s is geneem tydens ons Kersfees in 2012, toe ons pas in Prince George aangekom het. Ons het heerlike kalkoen saam met Kanadese vriende geëet. Die ander foto’s is tydens Kersfees 2011 geneem. Ons gasheer en gasvrou Nic en Valencia Botha van Oxbow het mooi tafel gedek en ons het almal saam kos gemaak en geëet. Ons was seker so 15 of meer Suid-Afrikaners by mekaar.

“Seëninge vir die volgende paar weke, tot ons weer saam kuier!”

  • Hou Maroela Media Vrydag dop vir ons volgende artikel in dié reeks.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Hanno Visagie ·

Te veel kers, fees, viering en kultuur, met te min of geen Christus. Plaas Christus terug in Kersfees, of los dit heeltemal!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.