SA’ners in die buiteland: Só vier ons Kersfees in Nieu-Seeland

Pieter Labuschagne

Pieter Labuschagne

In Suid-Afrika het ons ons eie, eg Suid-Afrikaanse Kersfees-kultuur: sonskyn, swem, tafels wat kreun onder die kos, Kerssangdienste met Kersfeesliedjies, bedrywige winkelsentrums vol Kersversierings en veral gehaltetyd saam met ons geliefdes. Maar vir baie Suid-Afrikaners in die buiteland het Kersfees ʼn heel ander gedaante. Maroela Media het in samewerking met Wêreldwyd gaan kers opsteek by Suid-Afrikaners wat in ander lande woon om te hoor hoe hulle Kersfees vier, en watter van die Suid-Afrikaanse tradisies en gebruike hulle steeds in die buiteland deel van hul Kersfees maak. Ons plaas vandag die vierde van ʼn reeks van vyf stories oor Suid-Afrikaners in ander lande se Kersfeesvierings.

Pieter Labuschagne is nog nuut in Kiwiland (Nieu-Seeland). Hoewel hy nog nie die land se Kerstradisies in volle glorie ervaar het nie, is daar wel talle interessanthede wat hy met lesers deel.

“As ʼn ‘nuwe’ Kiwi kan ek seker nie met groot gesag praat oor Kersfeestradisies onder die Kiwi’s nie, maar ek kan, met my ‘vars oë’, darem van die interessante gewoontes raaksien en dit ook daarom met ʼn opgewondenheid deel.

“Diversiteit is deel van Kiwiland en dit maak dinge baie interessant. Enige Kiwi sal hom aan jou voorstel as So-en-So, en dan die punchline, tweede generasie Ier of soveelste generasie Kanadees. Omtrent almal, selfs die Pasifiese gemeenskap, het ʼn herkoms van êrens anders af. Daarom, tradisies is nie instink (ingebore) nie, maar aangeleer.

“Kersfees, net soos Nuwejaar en Paasfees, was onbekend tot en met die aanwas van Europese setlaars gedurende die 1800’s. Kroeë en eetplekke was oop, koerante was gedruk en versprei en in die NZ Gazette van 25 Desember 1841 was daar nie een enkele woord wat na Kersfees verwys het nie.

“Daar word algemeen aanvaar dat die heel eerste (Christelike) Kersdiens in Nieu-Seeland wel in 1814 deur ene Samuel Marsden van die Church Missionary Society in Oihi Bay gehou is.

Die Pohutukawa-boom

Die Pohutukawa-boom

“Die oorspronklike Kersboom wat gebruik is, is die pragtige Pohutukawaboom met sy rooi blomme en wat natuurlik vir die plaaslike Maori-bevolking ook groot rituele en tradisionele betekenis het. Ons sien egter nie namaaksels van die boom in ons huise nie, maar ruikers met die blom is dikwels ʼn bewys van ons verbintenis met die ‘first people’ in Nieu-Seeland en word graag met Kersfees weer versterk.

“Kerstyd hier by ons is sinoniem met ‘Santa Parades’, maar hoofsaaklik word die kinders onthaal met optogte deur die hoofstrate van ons dorpe en stede. Die gebruik het bekendheid verwerf gedurende die na-oorlogse jare (ná 1945).

“Nieu-Seeland het natuurlik ook vir Kersvader en dié word orals vertoon vanweë sy kommersiële waarde. Die bekendste ‘Santa’ is die yslike animasiebeeld by Whitcoulls (ʼn bekende boekwinkel) in Auckland se Queenstraat. Vanjaar was daar sprake dat hierdie Santa te koop is, maar as gevolg van massiewe verbruikersweerstand en finansiële bydraes is dit weer staangemaak vir ons Kiwi’s om te geniet. Hier is ʼn videogreep tydens die jaarlikse oprigting by Whitcoulls in Auckland.

Die Pohutukawa-boom se ruiker

Die Pohutukawa-boom se ruiker

“In ʼn opname onder Nieu-Seelanders deur die Reader’s Digest, is dit baie duidelik dat die familie baie sterk op die voorgrond tree met Kersdag. Altesaam 73% het aangedui dat hulle Kerstyd saam met familie deurbring. Wat wel baie interessant is, is die feit dat die oorgrote meerderheid Kiwi’s nog steeds die groot Kersete binnenshuis doen. Wat die Kiwi’s ʼn ‘Roast’ noem word deur gemiddeld 12 mense geniet en dikwels deur die bekende ‘Christmas Pudding’ afgesluit.

“Kersgeskenke is nie regtig die in-ding in Nieu-Seeland nie, maar die kinders word baie bederf met lekkernye en uitstappies en baie aandag rondom Kerstyd.

“En dan, laastens, net soos in baie ander lande, het Nieu-Seeland ook sy strate waar bure saamstaan en met wonderlike en kleurvolle Kersversierings verbygangers en besoekers vermaak. Dit neem jaarliks toe en meer en meer Kiwi’s raak nou al hoe meer betrokke daarby. Vandat vuurwerkvertonings ʼn knou toegedien is deur wetgewing, is hierdie straat-Kersversierings werklik ʼn belewenis. Sien hierdie video van ʼn familie wat al vir 35 jaar bou aan hulle Kersversierings in en rondom hulle huis.

http://youtu.be/psyIb6omKFI

“Waar julle ook al Kerstyd vier, maak die beste daarvan en geniet Kerstyd vir die regte redes. Kersgroete uit Nieu-Seeland!

Hou Maroela Media Woensdag dop vir die laaste artikel in dié reeks.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.