Ses Haaie in ʼn hok vol Jaguares

Sharks teen die Jaguares by Estadio Vélez Sársfield Foto: Marianne Styan

Ons toer was haarfyn beplan: middagete en tango-danse in La Boca; Evita Perón se graf in Rigoletto en die pragtige Roos-huis vanwaar sy haar bekende toespraak gemaak het; Palermo se restaurante; Metropolitan Cathedral waar pous Franciscus ʼn kardinaal was. Selfs ʼn daguitstappie, per veerboot, na die pragtige dorpie Colonia del Sacramento in Uruguay.

Ek het selfs die bekende Diego Armando Maradona-sokkerstadion waar Diego Maradona sy eerste sokkerwedstryd in 1976 gespeel het, bygevoeg om my sportgeoriënteerde Manlief ook gelukkig te maak.

Alles het goed gegaan. Ons was al by dag twee van ons vier dae in Buenos Aires toe ʼn Brit (van alle mense) ʼn stok in die wiel steek… in die ry van die veerboot na Uruguay.

Ons het nogal die gewoonte om met vreemde mense te begin praat in enige ry waar ons staan.. Terwyl ons wag vir ons paspoorte om nagegaan te word, begin ek gesels met ʼn meisie van Hongkong voor ons, en my man met die Britse paartjie agter ons. Dis hoekom ek nie presies kan sê hoe hulle oor Super 14-rugby begin gesels het nie…

Die eerste wat ek hoor is:
“Die Sharks speel Saterdagmiddag teen die Jaguares in Buenos Aires! Ons móét gaan!”
“Maar wat van alles wat ons nog moet sien…?” wil ek weet.
“Ons sal alles doen voor Saterdagmiddag…”
“Maar ons is Blou Bulle…?” Probeer ek nog ʼn laaste keer walgooi. Ek het nie beplan vir ʼn rugbytoer nie…
“Dit maak nie saak nie! Saterdag skree ons vir die Sharks!”

Só gebeur dit toe. Aangesien Engels nie baie gepraat word in Argentinië nie, sukkel ons om die kaartjies oor die internet te koop maar dit sit egter nie vir Manlief af nie. Ons sal die kaartjies sommer daar koop. Hy glo nie dit gaan uitverkoop wees nie, want die Argentyne hou meer van sokker.

Sharks teen die Jaguares by Estadio Vélez Sársfield Foto: Marianne Styan

In die proses om die kaartjies egter oor die internet in ons hotelontvangs te bespreek, maak ons vriende met nog vier Suid-Afrikaners wat ook in die hotel tuisgaan. Hulle is glad nie rugbyliefhebbers nie, maar Manlief se geesdrif om ʼn Suid-Afrikaanse span te sien speel in Suid-Amerika is so aansteeklik dat hulle dit ook wil mee maak.

Saterdagmiddag, met al die swart klere wat ons in ons tasse kon kry, ry ons die 25 minute busrit na Vélez Sársfield (ook bekend as Estadio Jose Amalfitani). Ek sê ironies klink dit na die Spaanse Loftus Versveld.

Gelukkig is daar ʼn pa en sy seun wat ook op pad is daarheen, en hulle beduie vriendelik, hulle sal vir ons sê wanneer om af te klim.

Ons kon die groot blou stadion egter nie mis nie. Selfs die hoeveelheid toeskouers wat rondom die stadium begin saamdrom, was meer as wat ek verwag het. (Later sou ons hoor dit was ongeveer 10 000.)

Ek het vir Manlief dit baie duidelik gemaak dat ons die goedkoopste kaartjies moet koop – daar is baie beter dinge wat ek kan koop met ons waardevolle rand in die vreemde as rugbykaartjies.

Ons betaal dus toe A$200 pp, vir kaartjies agter die pale, wat nie te sleg is nie.

Ons het die opbou, wat verbasend groot was, in die Jaquares Fan Fest-area gaan geniet terwyl ons wag vir die wedstryd om te begin.

Net ná vier het ons ons weg gebaan na ons “sitplekke”. Wel, ten minste wás daar sitplekke maar dis vasgemaak op trappe en dus kyk mens rugby met jou knieë langs jou ore… en saam met die helfte van die skoolbevolking van Buenos Aires… (Dit sal ons leer om die goedkoopste kaartjies te koop.) Ons het ook gevoel of ons letterlik binne-in ʼn hok sit, aangesien die stadion eintlik ʼn sokkerstadion is en daar massiewe vyf meter hoë heinings agter die pale opgesit is om die sokker-hooligans van die veld af te hou…

Desnieteenstaande was daar ʼn lekker atmosfeer in die hele stadion.

Die fluitjie het geblaas en sommer binne die eerste vyf minute kry een van die Sharks die bal en laat waai na die doellyn wat reg voor ons lê. Soos een man vlieg ek en Manlief op (ons vriende was nie seker wat besig is om te gebeur nie) en skree vir al wat ons werd is…

Sharks teen die Jaguares by Estadio Vélez Sársfield Foto: Marianne Styan

As ek ooit gewonder het hoe dit voel om my eie stem te hoor eggo in ʼn stadion wanneer ek alleen skree, was dit die dag wat ek dit kon ervaar. Ek het nog nooit in my lewe so alleen gevoel nie… Dit was op daardie oomblik wat ons besef het ons is letterlik die enigste Sharks-ondersteuners daar!

Gelukkig was dit ʼn fantastiese drie gewees en ek en Manlief omhels mekaar opgewonde!
Hierna het ek gevoel ek is terug op hoërskool: opgerolde papiere het op ons neergereën van agter af en elke keer as die Sharks ʼn fout maak, is ons (gelukkig gemoedelik) uitgehaal deur die ander ondersteuners. Beledigings klink aansienlik beter in Spaans.

Die taalversperring sit ook nie vir Manlief af om vriende (of vyande) te maak nie en sommer gou-gou is daar ʼn geheen-en-weer pratery. Manlief in Afrikaans of Engels en die res in Spaans.

Dit raak duidelik dat die Sharks vermoedelik die oorhand gaan kry soos die spel ontwikkel en dus raak ons gewoond daaraan om alleen te juig wanneer ʼn bal oorgeskop of ʼn drie gedruk word.

Toe die eindfluitjie blaas, jubel ons ons harte uit. Teen hierdie tyd het ons Suid-Afrikaanse vriende begin verstaan hoe die spel werk, te danke aan Manlief se leerskool, en juig hulle darem al saam met ons.

Soos wat almal hulle pad begin afbaan teen die stadion, groet hulle en wens ons geluk. Duidelik het Manlief meer vriende gemaak as vyande in die proses.

Ons vind ons pad na die Fan Fest vir aandete en terwyl ons smul aan plaaslike b¬¬Bondiola, dink ek by myself ek sal nou altyd ʼn sagte plekkie hê vir die Sharks. Elke keer as ek hulle naam hoor, gaan ek terugverlang na dié dag in Buenos Aires.

Wie sou kon dink hulle sou selfs vir Evita en tango-danse oorskadu… darem net vir 80 minute.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.