Sit-sit so vanaf Amsterdam

Ek sit in die “letters” op die stasie by die Schiphol-lughawe. Foto: Dalene de Vente.

ʼn Meisie met pienk hare sit oorkant my op die 20:30-treinrit vanaf Amsterdam. Haar oë lyk of die trein oor haar gery het voordat sy daarin geklim het. Móég. Onder haar stoel lê ʼn houtbord met verfspatsels op.

Ek is op pad na Groningen – ʼn treinrit wat nog twee uur duur deur die Nederlandse landskap. Die lekkerste van treine is dat ek net kan sit en kyk: vir al die mense op die trein, en by die venster uit kan tuur. Maande vantevore, toe ek nog in Suid-Afrika was, het ek gedroom van die oomblik wat my voete aan Europese grond sou raak. Op Instagram het ek almal gevolg wat foto’s deel van fietse, kanale en gewelhuisies. En toe ek my oë uitvee, is ek op hierdie trein: deel van die droom. Mens besef dat jy vinnig aangepas het as jy sien dit is 3 °C en jy is bly daaroor, want daar is nie meer ʼn minus voor die getal nie.

Op die stoele aan die anderkant van die paadjie sit ʼn man met oorfone terwyl sy kop heen en weer skud op die maat van die musiek. Ek loer in die refleksie van die treinvenster na hom. Aantreklik. Maar toe hy ná ʼn uur steeds sy kop headbang wens ek die trein wil skielik ruk, sodat hy dit kan stamp en kan stilsit.

Ek verkyk my aan die meisie langs my met allerhande gate in haar broek. Modegier. En ek wonder of sy nie ongelooflik koud kry nie? Ek het tien lae klere aan en sy sit met ‘blote bene’ soos hulle in Nederlands sou sê.

Heel agter in my kompartement sit ʼn man en luister ook musiek – kliphard oor sy foon. Dit moet ʼn toeris wees. Al die mense rondom hom in die trein raak geïrriteerd en ek draai elke nou en dan my kop om die situasie te bekyk.  ʼn Regte Nederlandse “boeretannie” vra in haar beste Engels: “Whill yhou pleas bhe quiett?” Maar hy maak of hy niks hoor nie.

Jy leer die reëls van die openbare vervoerstelsels ken – en die treine word jou vriende. Jy weet dat jy nie in die fietspad moet stap nie – want dan kry jy te doen met ʼn nukkerige Nederlander, “Kijk uit!” Jy leer dat jy in sommige afdelings van die trein moet stil wees. En jy weet dat jy altyd jou treinkaartjie vinnig byderhand moet hê. As ʼn trein stop moet al die mense eers uitklim – voordat jy kan opklim. Ek verstaan die frustrasie van al die mense wat vanaand in die “stil” afdeling van die trein kom sit het…

’n Amerikaanse meisie met cowboy boots loop vorentoe in die trein, op soek na iemand om die man se musiek uit te doof. Sy stap tot voor in die trein en vir ʼn oomblik struikel sy en gryp aan die noodrem. Die trein gaan staan stil en ʼn string Nederlandse vloekwoorde tref my gesig soos yskoue water. “&#@! Ik wil naar huis, yo!”

Sorry, sorry” sê die meisie met die cowboy stewels in haar perfekte Texas-aksent en hou haar hande in die lug.

In die laaste halfuur toe die pret in die trein oor is, druk ek ook maar musiek in my ore. Robbie Wessels en Jak de Priester vermaak my tot in Groningen. Daar is niks wat die heimwee in jou Afrikaanse hart troos soos ʼn Robbie Wessels-liedjie nie: “Iewers in Europa in ʼn gryserige stad, sit ʼn bang Suid-Afrikaner in ʼn dak… Hy mis ʼn mielie en ʼn stroper en sy Jack Russell”

Elfuur die aand stap ek vanaf Zuidhorn se stasie (ʼn dorpie in die provinsie Groningen) tot by my vriende se huis, waar ek kuier. Jak de Priester se stem weergalm in my gedagtes: “mens is eenkeer jonk, mens is eenkeer laf.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Ingrid Bezuidenhout ·

Was heerlik om saam met jou na die mens te kyk, dankie

Linda ·

Ek was vir ‘n paar minute saam met jou in die trein in Nederland. ‘n Stukkie van my hart het daar agtergebly, ek kan nie wag vir die dag wat ek weer my voete daar aan land kan sit nie!

Liza M Roux ·

Love dit!! En nou is Robbie Wessels se liedjie in my kop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.