Slaap in ʼn woudhuis, smul by ʼn plaaskombuis

Foto: Carina Stander

Die lug gloei in skemerkleure toe ons by Teniqua Treetops in die woude tussen Knysna en Sedgefield stilhou. ʼn Netjiese plankpad kronkel deur die inheemse bos tot by die voordeur van ʼn huis tussen die takke. Die mure is van tentseil en hout. Buite die badkamer pik-pik ʼn Knysnaloerie vir sy eie weerkaatsing teen die venster. Sagte komberse wag op die beddens. Die slaapkamer ruik na pluksels fynbos – bergbruidjies, suikerbos en heide in ʼn blompot. Alles hier is aards. Aards én silwerskoon.

Die fluitketel fluit en ons gesin gaan sit op die stoep om die laatlig saam met die tee in te drink. Die stoepstoele is gemaak van herwinde motorbande en verbasend gemaklik. Herwinning maak natuurlik sin, want Teniqua Treetops ís ekovriendelik. Die bos is bevry van indringerplante, reënwater word opgevang vir drinkwater en die tanienryke water word uit die rivier gepomp vir waswater.

Dit is ons gesin se maandelikse tegnovrye 48 uur (ʼn tradisie wat ons al jare volhou waarin ons die rekenaars afsit en selfone slegs gebruik vir GPS en foto’s) en ons kuier laat dit klap op die stoep. Later vind ek ʼn pak kaarte in die huis en ons speel ʼn paar potjies Rummy. Die woud is koud, maar ek was verniet bevrees dat ons gaan bibber – die verwarmers in die slaapkamers en die elektriese komberse sorg dat ons snoesig slaap.

Foto: Carina Stander

Die volgende oggend toe my man Gerrit die vensters oopmaak, wag daar ʼn verrassing op hom: twee visarende op ʼn boom hoog bo die mistige kloof! Dis sowaar ʼn verjaarsdaggeskenk so reg uit die hemel. Teen agtuur bring een van Teniqua Treetop se mense ons ontbyt met ʼn bromponie. Geurig en keurig verpak in ʼn rottangmandjie is die oondwarm sjokolade croissants, boerenkaas, parmaham, rogbrood, vyekonfyt, jogurt en eksotiese vrugteslaaitjie met frambose, appelliefies, granaat en pynappel.

Ons vat die pad met die kar. Die Homtini-bergpas is sinkplaatagtig. Die hange is behang met oumansbaard. Anderkant die brug fynkam ʼn bobbejaantrop mekaar vir vlooie. Doer ver is die Outeniekwaberge.

Die Kringe-in-‘n-bos-staproete begin by die eeueoue kalander (Outeniekwageelhout) waar Dalene Matthee se as gestrooi is en waar haar gedenksteen is. Dis die eerste keer dat ek dié toweragtige roete stap en dis die lokprent van die nuwe Fiela se Kind-film wat in September vanjaar begin draai wat my aangespoor het om soontoe te gaan. Hierdie is die ruimte waar Matthee haar stories opgetel het. Storievertellers soos sy is die bewaarders van die samelewing se bewussyn én van die stilswyende natuur.

Ons stap oor ʼn dosyn bruggies al deur ʼn woud van geheimenisse. Die mos is ʼn konstellasie van groen sterre. Mos teen boomstamme. Mosbegroeide klippe. Hangende mos. Dit is sampioenseisoen. Sampioene soos rondaweltjies groei oranje, bruin en melktandwit uit verrottende stompe. Die oerwoud skep haar eie mikroklimaat wat die vogtigheid binne hou. Wanneer sy eers uitgekap is, verander die landskap in ʼn stowwerige boombegraafplaas, daarom is mens diep dankbaar dat dié stuk woud bewaar word. Varings krul oor die voetpad. Boomvarings en ysterhoute gloei in die oggendlig. Die boomwortels is trappe. Die kakelaars kekkellag in die verte. ʼn Loerie loer deur die takke.

Ná die stap is ons lekker honger en gaan maak ʼn draai by Totties Farm Kitchen in Rheenendal. Dié plaaskombuis is vernoem na Florence Eleanor van Reenen wat in 1878 in Nieu-Seeland gebore is en as jong vrou in Suid-Afrika kom werk het as ʼn Florence Nightingale-verpleegster in die Anglo-Boereoorlog. In 1922 het sy ʼn winkeltjie en slaghuis begin om die boswerkers van die omgewing te voed. Sy het haar kleinkinders “little tots” genoem – vandaar haar bynaam, Ouma Tottie. In 2012 was dit ʼn eeu vandat die Van Reenen familie in Rheenendal aangekom het. As deel van die eeufeesviering het haar agterkleinseun, Garth, en sy energieke blouoog vrou, Marian, die eetplek ter herinnering van oumagrootjie Tottie begin. Local is wragtag lekker en plaasliker as dié plaaskombuis kan jy nie kry nie! Dis die ene oudwêreldse sjarme. Gehekelde doilies dien as plekmatjies. Daar is vars rose en proteas in geelkoperpotjies en porseleinvase op die tafels en kraakvars geborduurde servette. Antieke stoele en kandelare is tuis neffens ʼn geroeste fiets. Sink en kant is pasmaats. Stammoeder Tottie pronk op ʼn klomp kiekies, selfs teen die plafon. “Sy lyk soos ʼn oulike stoute oumatjie!” sê ons agtjarige seunskind Ilan.

Hier by Totties kry jy tradisionele huiskos. Die porsies is hartlik en word bedien met ʼn kunstige flair. So kom daar saam met die bobotie-en-tuisgemaakte-blatjang ʼn mooi bont slaaitjie in ʼn blikbeker. Die spek-en-bloukaas-burger met gekaramelliseerde uie en die lamskerrie met salsa is ewe voortreflik. En watter eeu laas kon jy aan rabarber-en-appelpoeding smul? Ons jongste gaan lê sommer uitgevreet in ʼn uitgeholde boomstomp vol kussings. Salig. Ek loop deur die eetplek en ontdek nog verrassings: ʼn boogvenster, gekleurde glasdeur, koivisdam, stokou boeke en vetplantjies in blikkomme.

Foto: Carina Stander

Ons is lekker lui ná ete, maar mens weet nie wanneer jy weer in die kontrei is nie, so jy trek maar sokkies op vir nog ʼn avontuur. Die afstand van 3,6 km van die Drupkelders-staproete klink misleidend kort. Dis deksels steil. Daar is ʼn tou om te keer dat jy jou nie disnis val teen die skuinste nie. Bobbejaangeroep eggo deur die kranse wat weerskante verrys. Jy stap verby aalwyne in blom en aronskelke. Dan is jy by die donker, versteekte, ysige poele van die Homtinirivier. Dis laatmiddag in die middel van die winter en die water is 3°C, maar Gerrit glip in om sy vyf-en-veertigste jaar te vier en daarna volg ons elfjarige Aden. Ilan wip eerder oor die rotse besprinkel met geel en oranje korsmos. Later bid ons ʼn seënwens vir die jaar oor die verjaarsdagman. Ons sal graag langer wil bly – die Drupkelders is ʼn plek waar mens graag wil vertoef – maar dit raak laat en ons stap die steilte weer uit.

Terug by Teniqua Treetops is ons nog versadig van die wonderlike middagete by Totties en ons aandete is sommer net tee en beskuit op die stoep. Die vogeltjies tjirp in die takke. Jan Frederik kom maak kennis. Anderkant die inheemse kloof kom die boerderye tot rus vir die aand. Bo ons verander die pienk wolke in sterre. Ons sit en gesels onder die suiderkruis. Daarna lees ons gesin saam in die bed, elkeen aan ons eie storieboek. Hier kan mens mos wegdommel in drome so reg uit Dalene Matthee se Toorbos.

REISRAAD

Foto: Carina Stander

Teniqua Treetops bied gerieflike, ekovriendelike verblyf in ʼn inheemse woud tussen Knysna en Sedgefield. Die selfsorghuise is ideaal vir gesinne. Daar is ook boomtophuisies vir romantiese paartjies en ʼn rolstoelvriendelike opsie. Die huise is weggesteek in die woud met pragtige uitsigte oor die kloof. Die gemeenskaplike kuierplek het swembaddens, ʼn buitelug-skaakstel en speelparkie. Die staproete na die rivier is ʼn avontuur. Skakel eienares Tarryn Maitland: 044 356 2868. Vonkpos: [email protected] Webwerf: http://teniquatreetops.co.za/

Totties Farm Kitchen is een van daardie werklike unieke ervarings wat jy nie kan wag om met jou vriende en familie te deel nie! Die atmosfeer is nostalgies en vol verrassings en die kos is besonder wonderlik. Dit is uit op die Rheenendal-pad. Oop van Woensdae tot Saterdae 08:00 tot 16:00. Sondag-buffet is 12:00 tot 15:00. Skakel: 044 389 0092. Marian van Reenen: 071 683 0929. Vonkpos: [email protected] Webwerf: http://www.tottiesfarmkitchen.co.za/

Die Kringe-in-’n-Bos-staproete begin by Krisjan-se-Nek. Dit kronkel vanaf Dalene Matthee se gedenksteen deur ʼn betowerende oerbos en is werklik een van die lieflikste dagstaproetes in ons land. Jy kan kies tussen ʼn 3 km- of 9 km-sirkelroete. Kry ʼn permit by die Goudveld-bosboustasie naby die beginpunt. Skakel: 044 389 0129. GPS Koördinate: S33 55.001 E22 57.467

Die Drupkelders is ʼn staproete wat jy nooit sal vergeet nie! Piekniek en baljaar in die versteekte poele van die Homtinirivier. Dit ʼn uitdagende maar belonende 3,6 km. Permit by die Goudveld-stasie: 044 356 9021. GPS Koördinate: S33 55.721 E22 56.406

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Charlotte Marais ·

Sjoe, so mooi geskryf voel of mens saam deur die bos loop. !! Sommer lus vir so lekker wegbreek waar dit net jy en die natuur is!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.