Sterrenagte in die Klein-Karoo se skoot

Berluda Farmhouse (Foto: Lekkeslaap)

As daar nou één streek is wat reg deur die jaar in die LekkeSlaap-kantoor pronk, is dit die Klein-Karoo. En wie sal nou teen ’n wegbreek in dié mooie streek kan stry? Asemrowende semi-woestynvlaktes wat kilometers ver in elke windrigting strek met klipformasies en sukkulente plantegroei wat dié unieke stukkie aarde bedek, klink tog soos ’n idilliese bestemming vir ’n rustige vakansie. Ten spyte van dié streek se gewildheid kon ek myself egter nog nooit as ’n Klein-Karoo-kenner uitgee nie en toe die geleentheid vir ’n besoek aan Oudtshoorn homself voordoen, was ek heel voor in die koor.

Dis ’n snikhete September-middag in die Grootvoëlparadys en nes ek met my stofbedekte motor deur Bakenskraal Ostrich Palace se boomlaning ry, sien ek ’n hand van die hoofhuis af waai. Annatjie, die inwonende gasvrou, wag my met ’n breë glimlag en ’n yskoue glasie vrugtesap op dié Victoriaanse herehuis se rooi stoep in. Terwyl ek my aan die grasgroen tuin wat soos ’n oase in die middel van die dorre Klein-Karoo pronk verkyk, wys Annatjie my linksom die stoep na my tuiste vir die aand ─ die Supreme Suite. Aandete is om 19:00 en ek span vir die res van die middag met ’n boek in die hand en ’n Karoo-lied in my hart op ’n sonstoel langs die koningsblou swembad aan die onderpunt van die tuin uit.

Bakenskraal Ostrich Palace (LekkeSlaap)

Binne ’n oogwink is dit tyd om vir ’n feesmaal op die stoep aan te sit en die heerlike aromas van ’n vyfster-ete is reeds van die voordeur af opmerklik. Ek maak my tuis aan ’n tafel wat spierwit gedek is skuins oorkant ’n Duitse paartjie wat, nés ek, uit hul nate bars vir die driegangmaal wat kom. Annatjie lei my met ’n voorgereg van Griekse slaai en tuisgebakte brood met egte plaasbotter in en gooi self die volstruisfillet wat vir my hoofgangbord beskore is oor die kole. Sy bedien dit met baba-aartappels, geroosterde groente en ’n heerlike rooiwynsous, waarna die ete met ’n bakkie vanieljeroomys en warm sjokoladesous afgerond word. Ek eet in stilte, want die kriekekoor en die Karoonag doen die praatwerk. Die twee Duitsers se gefluister is soos agtergrondmusiek vir die krieke se voordrag en die “Don’t cry for me Argentina”-klavierstuk wat saggies vanuit die eetkamer weerklink dien as ’n elegante toevoeging tot ’n perfekte aand onder die Klein-Karoo se sterrehemel.

Aandete by Bakenskraal Ostrich Palace (Gerriline Fouché)

Vrydagoggend is ek vroeg uit die vere om vir ’n stewige ontbyt aan te sit voor ek die pad na een van Oudtshoorn se vooraanstaande volstruisproduksie en -skouplase, Highgate Ostrich Show Farm vat. Highgate is ’n ware instelling vir besoekers aan Oudtshoorn wat meer oor volstruisboerdery wil leer. Ná die voëlgriep-epidemie van 2010, wat elke volstruis by Highgate geëis het, het dié plaas onder erge druk gebuk gegaan, maar Highgate se eienaar, Johan Keller, het beslis nie daar en dan handdoek ingegooi nie. Hy verskuif toe sy fokus na agritoerisme ─ tóé nog ’n nuwe vorm van toerisme wat ’n meer opvoedkundige benadering tot plaastoere behels. Vandag is ’n besoek aan Highgate ’n ware leerskool vir toeriste. Jean, een van die gidse, vertel my van elke aspek van volstruisproduksie ─ van die lê van die massiewe eiers, tot die verestoffers en eierdoplampskerms wat ons vandag in kuriowinkels teëkom. Ek kry selfs die geleentheid om die volstruise met ’n emmer mieliepitte te voer! ’n Besoek aan Highgate is beslis ’n móét vir oud en jonk wat dié geweste besoek.

Highgate Ostrich Show Farm (Gerriline Fouché)

Met ’n kop vol volstruiskennis en hernude respek vir Oudsthoorn se landbouvernuf is ek na my volgende bestemming ─ Berluda Farmhouse & Cottages. Dié volstruisboerdery en gasteplaas skuil in die Schoemansvallei in die Swartberge se voorheuwels en staan as een van die grootste kommersiële volstruisboerderye in Suid-Afrika bekend. As jy eers jou oë op dié eiendom slaan, besef jy onmiddellik dat Laura, die eienaar, geen moeite ontsien het om Berluda in ’n ware Klein-Karoo-toevlugsoord te omskep nie. Daar is verblyf te kus en te keur ─ van luukse suites in die plaashuis, tot bekoorlike selfsorgkothuise wat ideaal vir ’n gesin is. Die sesde groendakkothuis is my tuiste vir die volgende twee nagte en soos ek die steil paadjie na dié kothuis in tweede rat uitry, laat die uitsig oor Berluda se Karoo-vlaktes my weereens in vervoering.

Berluda Farmhouse & Cottages (LekkeSlaap)

My kothuis is aan die bopunt van die perseel en bied ’n onoortreflike uitsig oor die swembad en die res van die plaas. Hier en daar sien ek volstruisvlerke klap, maar verder is dit net Karoo-vlaktes en die plaas se rustige atmosfeer wat my vergesel. Daar is twee borde met heerlike versnaperings wat in die kothuis wag om my leë maag stil te maak. Die kothuis spog met twee slaapkamers met en suite-badkamers, ’n kombuisie wat vir selfsorg toegerus is en ’n leefarea met ’n platskerm-TV met sekere DStv-kanale. Ek span vir die res van die middag op die stoep uit en teug aan ’n glasie Karusa Sauvignon Blanc, ’n plaaslike witwyn wat by Berluda te koop is.

Teen laat-skemer is dit tyd om by De Oude Meul Game Farm se restaurant, Old Mill, aan te klop waar André, die bestuurder, my vir aandete onthaal. Dié gasteplaas en restaurant is teen die hange van die Swartberge in die pragtige Schoemanspoort tussen Oudtshoorn en die wêreldbekende Kangogrotte op die R328 geleë. Smullekker wildspastei met pampoenpoffers en aartappelskyfies is op die spyskaart en André se egte Klein-Karoo-gasvryheid bring ’n kleurvolle einde aan nog ’n onvergeetlike dag in Oudsthoorn.

Aandete by Old Mill Restaurant (Gerriline Fouché)

Dis ’n koel Saterdagoggend in Oudtshoorn en douvoordag staan ek met groot opgewondenheid voor Berluda se ontvangsarea om saam met Leon en Ryno, Berluda se gidse, in ’n bussie te spring. Ons is inderhaas op pad om Berluda se eie meerkatfamilie met sonsopkoms te aanskou. Leon is aan die stuur en neem ons tot op ’n koppie waar ons elkeen ’n blikbeker boeretroos met tuisgebakte beskuit geniet en wag op die sonsopkoms. Sodra die brandwag-meerkat sy verskyning maak, beweeg ons stadig nader om te kyk hoe dié diertjies een vir een hul kop uitsteek om penorent luilekker in die son te bak voor hulle hul soektog na kos vir die dag afskop. Berluda se meerkattoer is beslis nie ’n verskynsel wat jy tydens ’n besoek aan Oudtshoorn kan misloop nie!

Berluda Meerkattoer (bo: LekkeSlaap; onder: Gerriline Fouché)

Ná ’n heerlike plaasontbyt, is dit tyd vir een van Berluda se bekende plaastoere. Leon en Ryno neem my na die volstruisbroeikaste om te kyk of daar al ’n paar kuikens is wat uitbroei. Wonderbaarlik vind Leon ’n eier wat stadig besig is om oop te breek en ek kyk met groot verwondering hoe ’n nuwe volstruislewe sy verskyning maak. Daarna neem hulle my stap vir stap deur die plaas se bedrywighede. ’n Mens kan byna nie glo hoe kompleks dié langnekdier is nie en ná afloop van die toer is dit duidelik dat Berluda met hul moderne metodes een van die toonaangewende boerderye in dié geweste is.

Berluda Plaastoer (Gerriline Fouché)

Voormiddag is dit tyd vir ’n adrenalien-inspuiting en Cango Caves Estate & Zipline is nét die plek om die bloed in jou are te laat bruis. Dié landgoed is in die Swartberge se voorheuwels net duskant die Kangogrotte geleë. Die hoogtevrees lê vlak in my keelgat, maar ek besluit die lewe is te kort om ’n kans op ’n Zipline-ervaring in dié klowe deur my vingers te laat glip. Ná ’n kort rit teen die berg op is dit net ’n Karoo-kloof en ’n koue lyfsweet wat tussen my en die roete se eindpunt staan. Met toe oë gly ek teen ’n stinkspoed al langs die Zipline-draad afwaarts na die stopplek, waarna ek met swikkende enkels sowat vyfhonderd meter na die volgende punt stap om die laaste end oor ’n dam tot by die landgoed se restaurant af te snel. Ná die Zipline-ervaring gaan sit ek aan vir ’n heerlike pizza en ’n koue bier by die restaurant op die perseel terwyl ek wag dat die ergste bewe in my broek bedaar. Só ’n ervaring is dalk nie vir ’n hoogtevreeslyer soos ek beskore nie, maar vir die avontuurtiere in ons midde is Cango Caves Zipline voorwaar ’n ervaring wat nie misgeloop moet word nie!

My laaste bestemming vir die dag is Buffelsdrift Game Lodge, ’n wild-lodge net buite Oudtshoorn waar besoekers luukse tentverblyf aan die oewer van ’n watergat kan geniet. Wild soos olifante, renosters, buffels, kameelperde, leeus, meer as tweehonderd voëlspesies, en seekoeie kom suip hul trommeldik aan dié oewer ten aanskoue van gaste wat op die lodge se groot dek ontspan. Ek kom lê besoek by Buffelsdrift af om hul bekende olifant-ervaring en ’n bossafari te geniet.

Olifant-ervaring by Buffelsdrift Game Lodge (Gerriline Fouché)

Buffelsdrift het drie olifante ─ Jabari, Malaika en Bulelo ─ wat deur die lodge ingeneem is nadat elkeen weens stropery wees gelaat is. Buffelsdrift het hul nuwe tuiste geword en gaste kan dié drie rustige reuse kom voer, saam met hulle stap of hulle aanskou wanneer hulle by die watergat baljaar. Ek kry die geleentheid om Jabari, Malaika en Bulelo se middagete te bedien voordat ek ’n laatmiddag-bossafari by Buffelsdrift geniet. Dié bossafari duur sowat twee uur en sluit ’n breuk op een van die plaas se koppies in waar ek ’n drankie en ’n panoramiese uitsig oor die area geniet. Die njalas, koedoes, sebras, elande en kameelperde is volop, en ek sien selfs ’n meerkatgesin wat die dag se laaste bietjie sonskyn geniet voor hulle huiswaarts keer.

Bossafari by Buffelsdrift Game Lodge (Gerriline Fouché)

Ek sluit my laaste aand in die hartjie van die Klein-Karoo met ’n heerlike aandete by Berluda af. ’n Sappige volstruisfillet, hoendersosatie, oondgeroosterde groente en aartappels kleur my bord in en ’n klassieke malvapoeding met vanieljeroomys dien as die spreekwoordelike kersie op die koek.

Ná ’n salige nagrus is dit tyd om die land van vaalklip en volstruisvleis vaarwel te roep. Drie dae gelede was ek en die Klein-Karoo vreemd vir mekaar, maar vandag verlaat ek dié Grootvoëlparadys ’n vriend ryker.

Hierdie artikel is verskaf deur Lekkeslaap.co.za en is opgestel deur Gerriline Fouché.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.