Strandgangers teen haaie gewaarsku

Argieffoto: https://pixabay.com

Die Stad Kaapstad het strandgangers gewaarsku om op die uitkyk vir haaie te wees wat in die somermaande meer gereeld langs kusgebiede voorkom.

Die stad het in ʼn verklaring gesê groot skole geelstert is die afgelope naweek in die see by Valsbaai opgemerk. “Die teenwoordigheid van witdoodshaaie verhoog met die aankoms van skole geelstert langs die kus en hoër watertemperature,” lui die verklaring.

Haaie word gewoonlik vanaf laat Augustus tot April langs die kus opgemerk, maar veral gedurende die somermaande. Brett Herron, burgemeesterskomiteelid vir vervoer en stedelike ontwikkeling, doen met die oog op die komende Desembervakansie ʼn beroep op Kapenaars en vakansiegangers om ekstra versigtig te wees wanneer daar in die see geswem word.

“Haaikykers en die Vishoek-uitsluitingsnet is belangrike veiligheidsmaatreëls wat toegepas word, maar die beste voorsorgmaatreël is om paraat en waaksaam in die water te wees,” het Herron gesê.

Branderplankryers moet veral paraat wees in die gebiede tussen Sunrise- en Macassar-strand, aangesien navorsing getoon het die teenwoordigheid van haaie in die water is hiér baie algemeen dié tyd van die jaar.

Haaikykers is onder meer by die Muizenberg Surfers Corner-, St James/Kalkbaai-, Vishoek-, Kogelbaai-, Noordhoek-, Clovelly-, Glencairn- en Monwabisi-strand ontplooi.

Strandgangers word versoek om van die volgende veiligheidswenke bewus te wees:

  • Gebruik strande waar haaikykers aan diens is.
  • Doen die moeite om met die haaikykers te praat wanneer jy die strand besoek.
  • Vergewis jouself van die vlagstelsel om die waarneming van haaie aan te dui – ʼn wit vlag met ʼn swart haai dui byvoorbeeld daarop dat ʼn haai opgemerk is en almal onmiddellik uit die water moet kom.
  • Moenie swem of branderplank ry waar voëls, dolfyne of robbe voed nie.
  • Moenie swem of branderplank ry wanneer jy bloei nie.
  • Moenie naby riviermonde of in die donker swem of branderplank ry nie.
  • Gee gehoor aan die opdragte van strandbeamptes, lewensredders en haaikykers indien jy aangesê word om uit die water te kom.

Die haaikykers se inligtingsentrum by Muizenberg Surfers Corner is daagliks vanaf 08:00 tot 18:00 oop vir die publiek. Strandgangers kan hier die jongste inligting oor haaie en mariene ekologie bekom, asook basiese noodhulp, hulp met noodgevalle, die berging van waardevolle items en aanmelding van verlore eiendom.

Vir meer inligting kan Shark Spotters op Twitter en Facebook gevolg word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.