‘Survivor-wittebrood’ – deel 1

seychellesDeur Marianne Styan

Romantiese wandelinge op die spierwit strande, asemrowende sonsondergange, skemerkelkies teen skemer, geen bekommernisse in die lewe nie.

Dis wat ʼn wittebrood is, korrek?

Verkeerd … Wel, nie ons s’n nie.

Kom ons sê net my en my man se wittebrood het nie heeltemal so begin nie.

As ek nou terugdink, kan ek nie my nuwe manlief al die skuld gee nie.

Maar kom ons begin by die begin.

Ons wou graag net gaan ontspan op ʼn tropiese eiland soos die meeste mense met hulle wittebrood wil doen.

Ons keuse het geval op die pragtige Praslin-eiland van die Seychelle-eilandgroep.

Die eerste dag het wonderlik begin – sonskyn en ʼn heerlike ontbyt op die strand.

Hoewel ek en my man albei hou van oefen, is ons nie oefen-fanatici nie en dus was ons volgende keuse van aktiwiteit ʼn klein bietjie ongewoon. Ons het besluit ons gaan roei. Nie een van ons roei nie … behalwe op ʼn roeimasjien tydens ʼn gimsessie. Die oord waar ons tuisgaan, het kajakke beskikbaar vir die gaste se gebruik.

Dit was seker die tropiese atmosfeer wat ons geïnspireer het.

Ons het ons swemklere gaan aantrek en toe ʼn kajak en snorkeltoerusting gehuur van die vriendelike vermaaklikheidsbestuurder van die oord, Johnny.

Nie baie ver van die strand waar ons tuisgegaan het nie, was daar ʼn klein eilandjie (die Seychelle-eilandgroep bestaan uit omtrent 1 500 eilandjies, wat partykeer nie groter is as ʼn klein hopie klippe  met een huis nie). Ons het besluit ons roei soontoe. Dit was nie ver nie – seker so ʼn halwe kilometer.

Sommer gou is ons daar.

Wow! Dit was maklik! Kom ons roei sommer na daardie eiland toe!” sê ek vir manlief.

Die eiland waarna ek verwys, is Curieuse. Die liefde het seker iets aan my onderskeidingsvermoë gedoen, want dit het naby gelyk …

Dit was toe nie …

Ons het later uitgevind dit was seker so drie en ʼn half kilometer van waar ons begin roei het.

Ek kan nie die presiese oomblik vasvang wat ons albei besef het dit was ʼn stupid besluit nie. Ek dink dit was toe ek links kyk en net turkoois see sien en regs kyk en ook net turkoois see sien … en Curieuse het nog net so ver gelyk soos vroeër… En nou Praslin ook …

En dis halftwaalf. Ons het geen water saamgebring nie, want ons sou mos nie ver roei nie … en ook nie ekstra sonbrandolie nie, buiten dié wat reeds op ons vel was van die oggend af.

Daar in die middel van die Indiese Oseaan besef jy hoe klein jy is …

Die enigste mense wat jy kan blameer, is jouself of jou nuwe man. Dus is dit manlief se skuld … Hoewel ek voor my siel weet dit was ʼn gesamentlike  besluit. Hier het die realiteit van ʼn huwelik en gesamentlike besluite my vir die eerste keer in ons kort huwelik getref. Maar nou moet jy hier deur.

Oukei, so ons is in die middel … of so het ons besluit. So we might as well power through. En dus begin ons maar weer roei.

Op daardie oomblik hoor ons die gedreun van ʼn motorboot wat in volle vaart op ons afpyl.

Ek is vas oortuig dis seerowers … Net nou die dag was daar in die nuus ʼn storie van seerowers wat hierdie waters bevaar.

Manlief sê ek’s belaglik …

Dit is toe natuurbewaarders wat op Curieuse werk … Hulle wil weet wat doen ons hier. Gelukkig heel vriendelik.

Ons sê ons roei Curieuse toe.

Hulle vra of ons weet dis ʼn natuurreservaat en ons moet 200 roepees betaal?

Ons sê nee … en ons het nie ons beursies by ons nie. Hulle sê ons moet na die kantoortjie (die enigste gebou op die eiland) kom as ons daar aankom, dan kan ons dit op ons hotelkamer se rekening sit.

Dis goed, sê ons … en begin weer roei.

ʼn Halfuur later is ons uiteindelik daar!

Dis soos ʼn oase! Met massiewe bedreigde skilpaaie en al! Pragtig …

Waar kan ons water koop, vra ons die bewaarder wat ons “rekening vereffen”.

Daar is nie ʼn plek nie, sê hy … Ook nie ʼn kraan met lopende water nie.

Op hierdie punt wou ek huil … Dis 12:00 in die middag en ek is honger en dors. Hierdie sewe sakke sout saam opeet in ʼn huwelik lyk nie meer so lekker nie.

Maar moenie julle bekommer nie, sê die vriendelike natuurbewaarder en daar, so rats soos ʼn apie, klouter hy een van die palmbome uit en kap vir ons twee vars kokosneute af met ʼn panga.

Terug op moederaarde, kap hy dit vir ons oop en nog nooit het iets so lekker soet geproe nie. Ons het ons vergryp aan die een en alles opgedrink. Die ander een het ons gehou vir die terugpad …

Terwyl ons nou hier is, kon ons dit net sowel geniet en ons het na die koddige en oulike reuseskilpaaie wat op die eiland broei, gaan kyk en ook vir ʼn rukkie gesnorkel.

Maar heeltyd in my agterkop lê die gedagte dat ons nog moet terugroei …

So teen eenuur klim ons en ons kokosneut weer terug in ons gehuurde kajak en begin weer roei.

Die wind het intussen effens opgekom en dis nie meer so smooth sailing soos die oorspronklike “ontdekkingstog” nie en ons is honger en moeg. Die water spat met elke roeibeweging teen die kajak op. Gelukkig hou dit ons eintlik koel in die proses wat ʼn lafenis is.

In die middel van niks en nêrens van die turkoois water stop ons weer. Hierdie keer darem nie om te baklei nie, maar om ʼn kokosneut te deel. Die huwelik begin weer rooskleurig lyk, want wat kan nou meer romanties wees. Dis soos ʼn oomblik uit Blue Lagoon. En ek begin dink ons maak ʼn baie goeie span. Miskien moet ons inskryf vir die volgende Olimpiese Spele … Manlief deel nie my sentiment nie.

Ons begin weer roei.

Soos wat ons egter die strand nader, sien ek iemand soos ʼn ingehokte leeu op die spierwit sand heen en weer hardloop. Toe ons voet aan wal sit, sien ons die nie-meer-so-vriendelike vermaaklikheidsbestuurder van die oord, Johnny. In ʼn totale paniek verduidelik hy dat ons meer as drie uur weg was en hy is verantwoordelik vir ons veiligheid as ons die kajakke leen.

Waar wás ons?

Curieuse, sê ons.

Johnny se oë rek.

Nie een van die gaste het al ooit soontoe geroei met ʼn kajak nie. Hulle vat gewoonlik die motorboot wat hulle binne 15 minute daar aflaai!

Lees  Donderdag deel 2.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Leon ·

In Suid-Afrika het ons baie meer hiervan nodig. Geen moord, kaping of bedrog nie! Baie dankie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.