Survivor Wittebrood – Deel 2

sorrento_praslin-183 Deur Marianne Styan

Dag twee het net so pragtig aangebreek soos dag een.

Ons het vroeg ontbyt gaan eet, want ons het besluit om die pragtige eiland, La Digue, te besoek.

Hiervoor het ons ʼn huurmotor bespreek om ons die oggend vroeg by die hotel te kom oplaai en na die hawe te neem, vanwaar bote na die ander eilande  vertrek.

By die hawe aangekom, het Manlief die huurmotor betaal, wat effens meer was as wat ons verwag het en het toe by die kaartjiekantoor ons veerbootkaartjies gaan koop, terwyl ek buite gestaan het en foto’s neem het.

Daar is net elke paar uur ‘n boot na die eiland en ons wou graag op die vroeë een wees sodat ons soveel moontlik tyd op daar kon deurbring. Ons bondel saam met die res van die toeriste op die veerboot en geniet die vreeslike stamperige rit tot halfpad. (Hoekom gebeur al hierdie situasies die hele tyd in die middel van die Indiese oseaan?)

Manlief het seker hier eers genoeg moed bymekaar geskraap om die nuus te breek. Hy wou my nie ontstel nie, sê hy, maar ons het nie meer baie geld oor om enigiets te kan doen op La Digue nie. Hy het sy bankkaarte en die res van ons kontant in die hotelkamer se kluis gelos en nie gedink die huurmotor gaan so duur wees nie en ons het die prys van die veerboot verkeerd gehad.

Dis ʼn probleem en ek is nie baie gelukkig nie. Daar is twee dinge wat ek baie graag op La Digue wil doen en albei kos geld. Een van die mooiste strande in die wêreld,  Anse Source d’Argent, is hier. Om daar te kom, wou ek ʼn fiets huur (behalwe as jy  ʼn paar kilometer wil stap) en deur ʼn nasionale reservaat ry en albei kos geld.

Tweedens wil ek ʼn mengeldrankie geniet by die swembadkroeg by die bekende  Le Domaine de L’Orangerie hotel. Natuurlik kos dit ook geld.

Hoeveel het ons?

Manlief sê hy het 3 Euro’s en 350 Rupees.

sorrento_praslin-070

Anse Source d’Argent.

Ons weet dit kos 100 Rupees elk om in die reservaat in te gaan en dus het ons ʼn wonderlike totaal van 3 Euro’s en 150 Rupees oor vir die huur van twee fietse, middagete, ʼn mengeldrankie by die hotel en om terug te kom by die hotel wanneer ons vasmeer terug op Praslin eiland. Ons sou die plaaslike bus neem, aangesien dit net vyf Rupees kos.

By La Digue se hawe aangekom, bondel almal weer af en pyl reguit op die uitgestalde fietse af, wat verleidelik in rye staan, asof hulle ons wil tart en uitdaag om te kom hoor hoeveel hulle kos.

Ons doen dit. Die vriendelike fietsverhuurder sê met ʼn breë glimlag dit kos 200 Rupees. Per fiets.

Ek dink hy het gou uit ons gesigsuitdrukkings afgelei dis nie wat ons wou hoor nie.

Jammer, sê Manlief, ons het nie soveel geld nie. Ons stap toe maar aan na die toeristekantoortjie om vas te stel of daar enige ander manier is waarop ons by Anse Source d’Argent kan uitkom.

Daar is groot waens wat deur arme osse, met ringe in hul neuse, getrek word. La Digue is bekend vir min voertuie.

Uit beginsel (en ons het in elkgeval nie genoeg geld daarvoor gehad nie) het ek geweier om die osse te oorweeg, want ek glo dis dieremishandeling.

Maar wat nou? As ons stap gaan ons nooit betyds wees om die strand behoorlik te geniet  nie en ons gaan die veerboot terug verpas. En dis warm…

Manlief beduie in ʼn ander gelukkige paartjie se rigting. Ek dink hulle is ook van ons hotel, sê hy. Kom ons vra hulle of ons kan geld leen vir fietse?

My gesigsuitdrukking het reeds die vraag gevra maar ek het besluit om dit wel in woorde om te sit: Sou jy dit doen vir twee totale vreemdelinge wat sê hulle is ook in jou hotel?

Seker nie, stem Manlief saam. Ek dink hy was heel desperaat op hierdie punt.

Teen hierdie tyd is ek moeg en dors want my water, wat ek vanoggend ingepak het, is al op. Maar ons het nie geld vir water nie, want netnou kan ons nie terugkom by die hotel nie…  Hierdie dag loop sover nie goed af nie.

Hier is ons nou op ʼn pragtige eiland en ons kan basies niks doen nie. Ek wil huil.

Ek dink op hierdie punt hoef die fietsverhuurders nie eens Afrikaans te verstaan om te weet hierdie jong huwelik gaan dalk nie die einde van hierdie wittebrood sien nie.

Een siel het vir Manlief rêrig jammer gekry, want hy staan nader en sê ons moenie bekommerd wees nie,  hy sal vir ons twee fietse vir die 150 Rupees gee.

Die keer wou ek nie huil nie, ek hét gehuil, want hierdie totale vreemdeling  het nou net my huwelik gered.

Na al die trane afgedroog is en die fietsverhuurder omhels, het ons die pad gevat en onsself terdeë geniet.

By Anse Source d’Argent aangekom, het ons heerlik gaan ontspan op die wit sand, terwyl ons met verlange in ons oë na die mengeldrankies en versnapperinge wat op die strand verkoop word, gestaar het. Maar dis oukei, ons het dit darem albei met ʼn fiets gemaak tot hier en ek gaan nie kla nie.

sorrento_praslin-105Na  twee ure se onstpan, moes ons ongelukkig weer terugkeer, aangesien ons begin honger word het en het nou besef die enigste plek waar ons wel kos kan bekostig, is terug by ons hotel op die ander eiland.

Dus het ons rustig teruggetrap hawe se kant toe.

Die veerboot sou eers oor ʼn uur daar wees en daarom het ons besluit om tog te gaan probeer om ietsie kry by die pragtige Le Domaine de L’Orangerie hotel.

Daar aangekom besef ons ons sal letterlik net water kan bestel by die swembadkroeg, want alles anders sou ons van ons laaste busgeld beroof.

En dit is toe maar wat ek doen. Maar ten minste het ek my wens gekry, al was dit nie presies soos wat ek gedroom het nie.

Na ons darem uiteindelik ʼn voggie oor ons lippe kon kry, het ons die fietse gaan teruggee aan ons lewensredder en die veerboot teruggeneem.

Ons moet nou nog net die laaste hindernis oor en dit is om by ons hotel te kom. Al wat ons oorhet, is omtrent 3 euro in munte. Net om by die busstop vas te stel ons kan nie Euro’s op die bus gebruik nie.

Manlief besluit om terug te loop hawe toe om te kyk of hy die oorblywende Euro’s kan omruil vir Rupees.

Intussen maak ek vriende met ʼn vriendelike dokter van Ierland en maak my hart oop oor al ons wederervaringe tot op hede vir ʼn wittebrood wat veronderstel was om net ontspannend en romanties te wees.

Teen die tyd wat Manlief daar aankom met geen Rupees nie, want die winkels ruil nie Euro’s nie, het sy ʼn baie simpatieke kyk in haar oë vir hom.

Soos dit maar gaan op ʼn eiland, waar niks niemand jaag nie, is die busse ook laat en het ons vir ʼn uur gewag vir die bus om uiteindelik op te daag.

Manlief het besluit hy gaan maar probeer sy pad in die bus in praat.

Ons nuutgevonde vriendin klim voor ons in die bus en ons wag dat al die ander toeriste inklim sodat ons nie ander mense ophou nie as ons die lang relaas begin oor hoekom ons niks ander kontant het nie.

Toe ons inklim, roep ons vriendin egter vanuit die ander hoek van die stampvol bus: “Don’t worry! I paid for you guys!”

Ek dink ek het weer gehuil.

Manlief belowe net daar om ons eersgeborene na die Ierse dokter te vernoem.

Na dié wittebrood se manewales sou ons maar moes sien…

Lees Deel 1 hier

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae