Swakopmund se rustigheid

Sonsondergang by die jetty in Swakopmund Foto: Marianne Styan

Sonsondergang by die jetty in Swakopmund Foto: Marianne Styan

“Hier wil ek kom aftree!” is die gedagte wat deur my kop gegaan het die oomblik toe ek vir die eerste keer Swakopmund binnegery en begroet is deur die wye, breë strate, belyn met die outydse argitektuur. Net daar raak ek halsoorkop verlief op hierdie pikante dorpie aan die Weskus van Namibië.

Swakopmund lê 35 km noord van Walvisbaai teen die Weskus. ʼn Mooi teerpad verbind die twee dorpe en jy ry die afstand binne 25 minute, sonder die gewone stampery van die grondpaaie (waaraan jy nou al teen hierdie tyd gewoond is).

Tydens sonsondergang vergaap jy jou aan die asemrowende uitsig oor die see aan die een kant en terselfdertyd probeer jy verstaan hoe iets só droog en bar soos die sandduine van die Namib-woestyn so mooi kan wees, aan die anderkant.

Dis egter Swakopmund self wat die kersie op die koek is. Die dorpie kan van ʼn stil, statige dame op ʼn Sondagmiddag verander in ʼn behoorlike miernes van aktiwiteit op ʼn weeksdag. Wat dit egter wonderlik maak, is dat die aktiwiteite nooit so chaoties raak soos ‘n stad s’n nie. Spitsverkeer in die dorp is gewoonlik as jy agter drie motors in plaas van twee, moet inval by die stopstraat.

Om doodeerlik te wees, kom ek nie na ʼn land soos Namibië om in museums rond te hang nie. Soos menige toeris is ek meer ʼn gevoelsmens en daarom wil ek die plek “voel” in plaas daarvan om dit te besigtig. Natuurlik is dit vir my lekker om in ʼn museum of twee soos die Woermannhause en Swakopmund-museum my geskiedenis te gaan opknap, maar uiteindelik is dit die besonderse atmosfeer van ʼn plek soos dié wat hom spesiaal maak en my sal laat terugverlang.

Vir die avontuurlustiges onder ons is daar tussen Swakopmund en Walvisbaai baie om te doen. Perdry tussen die duine, vierwielmotorfiets of sandbordry, valskermspring en vir die rustiger wederhelftes is daar dolfyn-en robbesigtigingsbootvaarte. Duin 7, by Walvisbaai, een van die hoogste duine in die kusgedeelte van die woestyn, kan jy ook (gratis) uitklouter as jy lus het. (Waarskuwing: dit is hoër en vat meer moeite om te klim as wat dit van onder af lyk.) Die uitsig van bo is egter verseker die moeite werd!

Terug in Swakop sal die pragtige ou argitektuur uit die laat 19de en vroeë 20e eeu jou in ekstase hê en jou laat foto’s neem dat dit by jou ore uitkom.

Net soos in Windhoek is hier restaurante en koffiewinkels om van te kies en te keur! Vir ʼn lekker ontbyt stem ek vir die Village Cafe. Die interieur is so eie aan die naam dat dit my na my ouma se plaas laat verlang (die hoender wat elke kwartier kraai maak dit nie makliker nie en is veral ‘n gunsteling.) Hulle diens is goed en warm en daar is genoeg sitplek vir twee toerbusse vol toeriste. Hulle bedien natuurlik ook heerlike middagetes. Ander plekke wat ʼn lekker middag- of aandete bedien, is The Lighthouse Pub and Restaurant met sy mooi uitsig oor die see. (Hou ingedagte dat dit soms lyk of die mense in die dorp nog siesta hou en van die plekke net toesluit om te gaan rus.)

Kücki’s Pub is ʼn wenner om die eg Duitse gevoel te ervaar waar jy lekker om die kroeg kan staan en kuier met die plaaslike inwoners. Hulle het ook heerlike kos. Die Swakopmund Brauhaus is altyd ʼn kuier werd en laat jou wonder of Duitsland dalk van kontinent verskuif het.

Die pragtige ou jetty, gebou in 1905, was egter vir my ʼn klein stukkie juweel vir kos en foto’s neem! Die sonsondergange hier is legendaries en maak dat jy letterlik elke dag jou dag só beplan dat jy met sonsondergang daar sal wees om te kan foto’s neem.

Hier is twee van my gunstelingrestaurante sommer reg langs mekaar!

In 2010 het ʼn baie innoverende entrepreneur die geleentheid raakgesien om die jetty te herskep en ʼn restaurant aan die punt daarvan te bou – jy sit letterlik bo-op die see! Dit word nou genoem Jetty 1905 en het ongelooflike smaaklike sushi en visgeregte. Die Chocolate Volcano Cake het my drie keer laat teruggaan om seker te maak dit is regtig so lekker. Hierdie restaurant en uitkykpunt is verseker ʼn móét as jy daar is.

Net aan die beginpunt van die jetty, terug op vaste aarde, is daar nog ʼn restaurant wat jy nie moet misloop nie (maak maar ʼn bespreking, hulle is ver vooruit bespreek, net soos Jetty 1905)—the Tug Restaurant. Ek dink hierdie twee restaurante gee mekaar goeie kompetisie wat seekos betref en dis moeilik om te sê watter een die lekkerste is… jy moet maar self die regter wees!

Die opregte gasvryheid van die Namibiërs is werklik nie net ʼn mite nie. Hulle openhartigheid en vrygewigheid is aansteeklik en laat my dink aan die fliek Pay it Forward terwyl ek ‘n laaste happie galjoen met ʼn slukkie rooiwyn afspoel.

En ewe skielik wil ek nie meer kom aftree in hierdie plekkie nie… ek wil nóú al hier kom bly, want ek het my hart verloor in Swakopmund en ek weet ek gaan nooit weer dieselfde wees nie…

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johan Badenhorst ·

Net om te sê ek stem saam met wat in hierdie artikel geskryf is. Swakopmund en sy omgewing is ‘anderste’ wêreld.
Ek gaan jaarliks ten minste twee keer soontoe (vanuit Gauteng) en elke keer word daar nuwe plekke ontdek! Hetsy binne of buite die dorp.
Reis gerus soontoe. Hetsy met ‘n eie voertuig of saam op ‘n treintoer. Deur met laasgenoemde saam te reis is dit nie nodig om al die ontdekwerk self te doen nie.
Geniet Namibië!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.