Switserland se merkwaardige geskiedenis

WEF-in-Davos-2018

Die Suid-Afrikaanse vlag wapper in Davos, Switserland voor die 48ste Wêreld Ekonomiese Forum se vergadering in Januarie vanjaar. Foto: Elmond Jiyane/GCIS.

Almal weet van Switserland as gewilde vakansiebestemming, as land wat bekend is vir gehalte produkte soos kaas, sjokolade en horlosies en sy internasionaal gerekende (soms omstrede) banksektor en natuurlik as die plek waar Heidi vandaan kom, ʼn storie waarmee omtrent elke Afrikanerkind grootword.

Min ken egter die merkwaardige geskiedenis en die feit dat Switserland altyd die uitsondering in Europa was: ʼn homogene ministaat te midde van groot multi-etniese ryke, ʼn sterk federale demokrasie in tye van sentralistiese absolutisme en vandag feitlik die enigste land binne Europa wat hardnekkig weier om deur die Europese Unie ingetrek te word. Daar is nogal parallelle met die Afrikaners in die geskiedenis as ʼn volk wat klein en arm, maar trots, dwars en vryheidsliewend was (en hopelik nog is) en teen alle logika in oorloë teen veel magtiger vyande gewen het, nie om self ʼn moondheid te word nie, maar om sy grondgebied en vryheid te verdedig.

Switserland se oorsprong was in sy geografiese hart, rondom die Vierwaldstätter Meer. Ek was daar vir ʼn paar dae as gas by ʼn vriend, in die kanton Nidwalden. Nidwalden was saam met die kantons Uri en Schwyz, een van die drie stigtergebiede wie se verteenwoordigers met die legendariese eed by die heuwel Rütli in 1291 (ander bronne praat van 1307) aan mekaar trou belowe het en om mekaar by te staan teen tiranniese vorste wat binne die Heilige Romeinse Ryk van die Duitse Nasie toenemend die gesag van die keiser, waaraan die drie gebiede eintlik onderdanig was, oorgeneem het.

Die drie stigtergebiede het voortaan bekend gestaan as die Eedgenote. Die mitiese figuur Willem Tell (eweneens uit talle stories bekend as die een wat met ʼn kruisboog ʼn appel van sy seun se kop geskiet het) was die aanvoerder in die stryd teen die vors Gessler. In die daaropvolgende oorlog teen die vors Leopold van Habsburg kon die Eedgenote met die beslissende veldslag by Morgarten in 1315 hulle onafhanklikheid teen ʼn oormag verdedig. Sowat 1 500 Switserse boere het sowat 9 000 professionele soldate, daaronder 2 000 ruiters, verslaan. Die slag was ’n wonderwerk soortgelyk aan Bloedrivier wat die getalle slagoffers aan beide kante betref: 2 000 gesneuwelde Habsburgse soldate teenoor 12 aan die kant van die Switsers. ʼn Goeie verdedigingsstrategie en slim terreinkeuse het die Eedgenote die militêr veel magtiger aanvallers laat oorwin. Omdat dit egter al so lank terug lê, het die grens tussen legende en historiese feite vervaag. Ná die oorwinning van Morgarten het nog stede en kantons soos Luzern en Zürich hulle by die losse federasie van die Eedgenote aangesluit.

Die stryd teen Habsburg was egter nog lank nie verby nie. Nog ’n epiese en beslissende slag was die een van Sempach van 1386. Leopold III van Habsburg (ʼn nakomeling van die een van Morgarten) wou die gebiede in Switserland wat aan Habsburg behoort het, weer terugwen en veral Luzern, wat ná die drie stigterslede deel van die Eedgenootskap geword het, vir sy opstandigheid straf. By Sempach het sy leer (bestaande uit adellike ridders en voetsoldate) en die volksleër van Uri, Nidwalden, Schwyz en Luzern op mekaar getref. Die Habsburgers het die magtige wapen van die lang lanse gehad en in gelid soos ʼn vesting met die lanse aan alle kante gestaan, wat enige bestorming deur die Switsers bloedig laat misluk het. Volgens die legende het een van Nidwalden se soldate, Arnold Winkelried, homself opgeoffer deur in die lanse te loop en hulle vas te gryp om sodoende ʼn bres te slaan waardeur sy makkers letterlik oor sy rug binne in die mensevesting kon indring. Die Switsers was bedrewe in die man tot man geveg op kort afstand en het verwoed geveg en sodoende die oorwinning behaal. Arnold Winkelried se bekende uitroep was: “ ʼn Pad vir die vryheid! Sorg vir my vrou en my kind!” terwyl hy as martelaar gesterf het.

Die Eedgenootskap het in die volgende twee eeue uitgebrei, sowel deur verowerings van gebiede van vorste en van kloosters, asook deur aansluitings van nog stede en kantons (almal Duitssprekend. Die Franse en Italiaanse kantons het eers heelwat later bygekom).

Teen die begin van die 16de eeu moes die Eedgenote egter erken dat die opkomende moondheid Frankryk geen territoriale uitbreiding sou duld nie en het sedertdien ʼn beleid van neutraliteit en verdediging eerder as verowering toegepas. Switserland is natuurlik ook geraak deur groot en ontwrigtende gebeurtenisse soos die Hervorming en die godsdiensoorloë, die Franse Revolusie, die verowerings van Napoleon, die Restourasie en die stryd teen die ou orde, maar kon sy onafhanklikheid behou en het in die 19de eeu reeds in ʼn voorbeeldige federale staat met direkte demokrasie ontwikkel, iets wat redelik uniek was in daardie tyd. Daardie stewige grondslag (neutraliteit, direkte demokrasie, federalisme) het meegebring dat Switserland in die onstuimige 20ste eeu ʼn eiland van vrede en stabiliteit te midde van woelinge, oorloë, diktatorskappe en revolusies gebly het, tot vandag toe.

Sebastiaan Biehl

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk as navorser, argivaris en toergids vir die Orania Beweging in Orania, is ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling en skryf is veral politiek, geskiedenis, reis.

Deel van: Reis, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

8 Kommentare

Rasper ·

Dankie vir sulke skrywes. Switserland en Singapoer is vir my sulke goeie voorbeelde van klein landjies wat relevant bly, en nog bestaan. Daar is niks mee verkeerd om Afrikaner onafhanklikheid na te streef, solank dit nie ten koste van die res van ons mede landgenote is nie. Ek herhaal Steve Hofmeyer se twiet: “Ons sal na die maan vlieg vir ons mede burgers, solank ons net aanvaar word.” Mag ek nog in my lewe ‘n onafhanklike Afrikaner staat sien in Suid-Afrika. Mag ek nog sien hoe ons as Afrikaners erken word as die wit stam van Afrika, en dat ons deel is van Afrika. Die res van Afrika sal ‘n vriend kry wat hulle nooit sal hê in Amerika, China of enige ander land nie. Dit is omdat ons nie kuiergaste is nie, maar inwoners van Afrika. Wat, groot genoeg is vir almal.

DewaldS ·

Die parallele tussen die volke het natuurlik opgehou waar ons ons land uit vrye wil weggegee het….

nico k ·

Ironies dat Switserland juis deur politieke ontleders in die 1980’s as ‘n voorbeeld vir die nuwe SA gehou is om te wys hoe volke in een land vreedsaam kan saamleef. Maar daar is voorwaardes vir ‘n land om verskillende volke vreedsaam met mekaar te laat saamleef, en SA het nie in die 1980’s daaraan voldoen nie.

Leopold Scholtz ·

Beste Sebastiaan, so homogeen is Switserland nie. Daar is vier etniese groepe, Duitssprekend, Franssprekend, Italiaanssprekend en ‘n inheemse taal, Romansch. En tog leef hulle vreedsaam saam. Andersins ‘n interessante artikel, dankie.

sebastiaan ·

Beste Leopold, jy is reg en ek is wel bewus daarvan dat Switserland uit 4 taalgroepe bestaan. Ek het my seker onduidelik uitgedruk, ek het verwys na die eerste Eedgennotskap in die 14 tot 16de eeu, toe Switserland net uit die Duitse gebiede bestaan het en omring was deur multi-etniese dinastiese state. Switserland was altyd anders as die res, al het die land ook verander deur die geskiedenis.

Valknot ·

Baie dankie – baie interresant, Switserland is die beste land in die wêreld. Lees gerus ‘The Swiss in Southern Africa 1652-1970’ deur Adolphe Linder. Die geskiedenis het teen ons gedraai, maar ons moet nie vergeet dat ons deel is van ‘n groter familie nie. Dus moet Afrikaners ‘n groot poging aanwend om bande met ons stamlande op alle vlakke te vernuwe, te bou en te versterk.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.