Top-10 buitebaddens vir ’n bobaas-bederf

Ant’s Hill (Foto: LekkeSlaap)

Daar is ’n rede waarom die woord “lang” in pamperlang voorkom: Ná ’n lang jaar is dit tyd om jouself so ’n bietjie te bederf! Boonop het jy heel waarskynlik te veel tyd in die kantoor of voor die rekenaar deurgebring en is dit wys om jou bederfsessie na buite te skuif.

LekkeSlaap het nét die ding om jou jou kragte te help herwin: 10 bobaas-buitebaddens! Wil jy tussen die borrels in Magoesbaskloof wegsak, jouself lawe terwyl ’n leeu in die verte brul, of tussen olyfbome in die Klein-Karoo agteroor lê? Rol dan af en soek waar die jaar en al sy bekommernisse kan afwas.

Vir familie en vriende

Magoebaskloof Birders’ Cottage
Magoebaskloof in Limpopo

Magoebaskloof Birders’ Cottages (Foto: LekkeSlaap)

Hoog teen die Drakensberg-platorand, omring deur die digte inheemse woud, skuil Magoesbaskloof Birder’s Cottages ─ ’n paradys vir buitelugliefhebbers, voëlkykentoesiaste en diegene wat net so ’n bietjie wil ontsnap. Bring die gesin saam en kom kuier in die Robin-kothuis met slaapplek vir ses, of nooi nét jou maat vir ’n romantiese wegbreek in die Trogon-kothuis. Elke eenheid bied totale privaatheid en ’n braaiplek, én die oulike kunsvlytdorpie, Haenertsburg, is net om die draai.
*Daar is ’n twee kilometer-grondpad na die kothuise. ’n Voertuig met ’n hoë-grondvryhoote is ’n vereiste.

Magoebaskloof Birders’ Cottages (Foto: LekkeSlaap)

 

The Farmstead
Tussen Stellenbosch en Franschhoek in die Wes-Kaap

The Farmstead (Foto: LekkeSlaap)

Is jy lus vir ’n wegbreek op ’n plaas in die Kaapse Wynlande? Dan is The Farmstead, tussen Stellenbosch en Franschhoek, perfek vir ’n wegbreeknaweek saam met vriende of familie. Kuier om die braaivleisvuur of geniet ’n bottel wyn wat jy by ’n spogwynplaas in die omtrek gekoop het. Daar is ses selfsorg-eenhede op dié gasteplaas met slaapplek vir vier of agt gaste elk. Een van die eenhede spog met ’n lekker, lugtige badkamer ─ dis pure plaasbederf!

The Farmstead (Foto: LekkeSlaap)

 

Ricky’s Drift
Vanwyksdorp in die Klein-Karoo, Wes-Kaap

Ricky’s Drift (Foto: LekkeSlaap)

Ricky’s Drift is in die Olyvenriviervallei buite Vanwyksdorp geleë ─ varser lug sal jy nie sommer elders kry nie! Daar is drie selfsorgkothuise met slaapplek vir twee tot vier gaste op dié organiese olyfplaas, maar kyk mooi: dis Die Boshuis wat met ’n bederf-buitebad spog! Kom lees jou boek op die stoep, hou piekniek in die olyfboord, stap of ry in die omliggende klowe fiets en kry die kwaliteit-rustyd wat jy nodig het.

Ricky’s Drift (Foto: LekkeSlaap)

’n Bederf vir verliefdes

Jonkmanshof
Montagu in die Wes-Kaap

Jonkmanshof (Foto: LekkeSlaap)

Dié pragtige bad is nie régtig buite nie, maar ons gee nie om dat dit agter oulike luike wegkruip nie! Gooi jy dié turkoois hortjies oop, sal jy sweer jy is in ’n binnehoftuin in die 1800’s! Jonkmanshof is ’n Kaaps-Hollandse plaashuis in Montagu. Die gastehuis se twee en suite-kamers kyk oor dammetjies in die keurige tuin uit en is met die grootste sorg versier en opgeknap om ’n ware oudwêreldse ervaring te bied. Kom loop deur die eienaar se “Room of Curiosities”, of eet by die ontwerpersrestaurant, Hemelhuijs, op die perseel vir ’n luukse Klein-Karoo-bederf.
*Kinders onder agt jaar word ongelukkig nie toegelaat nie.

Jonkmanshof (Foto: LekkeSlaap)

 

Kosi Forest Lodge
Aan die Olifantkus in KwaZulu-Natal

Kosi Forest Lodge (Foto: LekkeSlaap)

Kosi Forest Lodge skuil in die kuswoud van die Kosibaai Natuurreservaat. Kom maak jou tuis in een van die drie luukse grasdak-bossuites, elkeen met sy eie asemrowende en suite-buitebadkamer. Bedags kan gaste die unieke eksosisteem van die iSimangaliso Vleilandpark verken deur ’n begeleide kanovaart, Raffia-wouduitstappies, of ’n daguitstappie na strande in die omtrek onderneem en saans word romantiese etes op die houtdek in die skadu van ’n Zoeloepeulbessieboom bedien. Dis die perfekte bederf vir jou en jou geliefde!

Kosi Forest Lodge (Foto: LekkeSlaap)

 

Nambiti Plains
Ladysmith in KwaZulu-Natal

Nambiti Plains (Foto: LekkeSlaap)

Hierdie vyfster-lodge in Ladysmith word deur ’n 22 000 hektaar-wildreservaat omring waar jy die Groot Vyf en ander wildspesies kan gewaar. Die kamers is ontwerp om ’n 180°-uitsig oor die vlaktes te bied en die deure skuif heeltemal oop om die gevoel van ’n buitebad te skep. Alle etes is ingesluit en sommige kamers het lugversorging en buite-storte in die bos. Gaste kan op ’n uitstappie na ’n pragtige waterval by die Sondagsrivier gaan, visvang op die perseel of in die versteekte swembad afkoel waar olifante gereeld kom water drink! Vir ’n ware Afrika-bosveldbederf, móét hierdie luukse lodge op jou lysie wees.

Nambiti Plains (Foto: LekkeSlaap)

 

Tshukudu
Pilanesberg Nasionale Park in Noordwes

Tshukudu (Foto: LekkeSlaap)

Waar Tshukudu staan was daar destyds ’n vulkaan! Dié lodge skuil teen ’n skuinste in die bekende Pilanesberg Nasionale Park. Gaste kan in die bad lê en ’n uitsig oor die grasveld en watergat geniet, terwyl hulle kyk hoe die Groot Vyf en ander wild op die vlaktes wei. Die lodge het al naam gemaak vir sy smullekker Afrika-kookkuns en wildritte vind twee maal per dag plaas en word deur hoogs ervare gidse gelei. So maak jou volgende wegbreek sommer wild by Tshukudu!
*Kinders onder twaalf jaar word ongelukkig nie toegelaat nie.

Tshukudu (Foto: LekkeSlaap)

 

Angala
Buite die Paarl in die Wes-Kaap

Angala (Foto: LekkeSlaap)

Angala skuil in die hart van die Kaapse Wynlande en word deur skouspelagtige berge omring. Dié toevlugsoord het ’n restaurant en wynproesessies op die perseel en bied bederfies met ’n holistiese benadering, soos ’n spa met ’n ekoswembad, infrarooi-sauna, stoomkamer en ’n sonverhitte swembad. Gaste kan verskeie professionele spa-behandelings en -masserings in die gerief van hulle eie privaat suite geniet. Rivierkothuis spog met ’n luukse buitebad, ’n privaat swembad én ’n uitsig oor die dam en op die Simonsberge.
*Kinders onder agt jaar word ongelukkig nie toegelaat nie.

Angala (Foto: LekkeSlaap)

 

Ant’s Hill
In die Waterberge in Limpopo

Ant’s Hill (Foto: LekkeSlaap)

By Ant’s Hill kry jy en jou geliefde ’n bederf uit die boeke! Alles is by hierdie weelderige privaat lodge ingesluit: van ontbyt, al jou drankies en lipleklekker, tuisgemaakte maaltye tot doendinge soos begeleide staproetes in die bos, wildritte en perdry. Jy kan maar weet, ál jou ervarings by Ant’s Hill word met ’n asemrowende uitsig vergesel. Of jy in die kristalhelder swembad afkoel of sjampanje in die buitebad teug ná ’n lang dag se wildkyk ─ dis net sonsondergange en sielsrus tot anderkant die horison!

Ant’s Hill (Foto: LekkeSlaap)

 

Mhondoro Lodge
In die Waterberge in Limpopo

Mhondoro Lodge (Foto: LekkeSlaap)

Het jy al ooit ’n leeu hoor brul terwyl jy in die bad sit? Wel, by Mhondoro, ’n weelderige wild-lodge in die Welgevonden Wildreservaat, is dit ’n groot moontlikheid ─ hiér kry jy die Groot Vyf én vyfster-behandeling. Mhondoro is bekend vir sy ondergrondse wildskuiling wat oor die watergat uitkyk en met ’n tonnel aan die hooflodge verbind is. Só kan jy op ’n veilige afstand tussen die diere by die watergat wees. As jy eerder die rustiger kant van Mhondoro wil ervaar, is daar ook ’n spa met gekwalifiseerde skoonheidsterapeute, ’n swembad, ’n sauna en ’n kroeg vir romantiese skemerkelkies.

Mhondoro Lodge (Foto: LekkeSlaap)

Ná ’n jaar se swoeg en sweet is hierdie baddens nét die ding om jou batterye te herlaai! Watter een is jou gunsteling?

Hierdie artikel is verskaf deur Lekkeslaap.co.za en is opgestel deur Adriëtte le Roux.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.