Verbruikersake: Maak só seker jou vakansie verloop vlot

vakansie-bankie-see

Foto: Stevepb/Pixabay.com

Die meeste verbruikers wat in Desember êrens gaan uitspan, het reeds hul plekke bespreek en begin al amper slapies tel voordat hulle in die pad kan val vir ʼn verdiende wegbreekkans. Diegene wat weer na dieselfde plek toe gaan, kan hulself gerusstel oor wat hulle kan verwag en dat hulle waarde vir geld sal kry. Maar hoe maak ʼn mens seker jou vakansie verloop vlot, veral as jy die eerste keer na ʼn plek toe gaan? Ina Opperman verduidelik wat jou regte as verbruiker is en hoe om hierdie regte, wat in die Wet op Verbruikersbeskerming ingesluit is, te gebruik.

Baie mense kan ʼn storie van ʼn nagmerrie-vakansie vertel en dit wissel van vertraagde vlugte tot vakansieblyplek wat nie bestaan nie, al het jy reeds ten volle vir jou verblyf betaal. Dis egter nie nodig om jou hare uit te trek en slange te vang nog voordat jy vertrek nie. Daar is baie dinge wat jy kan doen om seker te maak jou vakansieplanne word nie in die wiele gery nie.

Die Wet op Verbruikersbeskerming

Die volgende artikels in dié wet is belangrik om jou vakansieplanne te beskerm:

  • Artikel 17 van die Wet op Verbruikersbeskerming bepaal dat verbruikers die reg het om besprekings of bestellings vir goedere en dienste te kanselleer, maar bepaal ook wat jou regte is wanneer jy plek bespreek op ʼn bus of vliegtuig of vir blyplek. Dit is aanvaarbaar vir die verskaffer om te vereis dat jy ’n redelike deposito betaal, maar hy moet ook aandui hoeveel van die deposito jy sal kwyt wees indien jy kanselleer.
  • Artikel 19 bepaal jou regte in terme van die lewering van goedere of verskaffing van ʼn Dit is ʼn versweë voorwaarde vir elke transaksie dat die verskaffer verantwoordelik is om die goedere te lewer of die dienste te verrig op die vasgestelde datum en tyd, op die vasgestelde plek. ʼn Hotel kan byvoorbeeld nie aanvoer dat jou bespreking nie geldig is nie.
  • Volgens artikel 29 mag ’n diensverskaffer nie valse of misleidende voorstellings maak oor die aard, eienskappe, voordele of gebruike, verskaffing, pryse of enige ander wesenlike aspekte nie. As jy ʼn kamer met ʼn see-uitsig bespreek het, is dit wat jy moet kry en dit moenie nodig wees om op ʼn stoel te staan om die see te sien nie.
  • Artikel 41 bepaal verskaffers mag nie valse, misleidende of bedrieglike voorstellings maak nie. Verskaffers mag ook nie direk of indirek oor ’n wesenlike feit iets impliseer nie en ook nie oordryf of dubbelsinnige aansprake maak nie. Inligting mag ook nie verswyg word nie en as dit duidelik is dat jy nie mooi verstaan nie, moet jou wanbegrip reggestel word. Die verskaffer moet ook die waarheid praat oor die kenmerke, nut, voordele en gehalte van jou blyplek en die standaard, gehalte, graad en styl daarvan. Dit geld ook die geriewe en enige heffings. As jy ʼn vyfster-kamer bespreek, kan jy nie na ʼn vierster-kamer geskuif word sonder dat jy daartoe instem en jou betaling aangepas word nie.
  • Artikel 47, wat handel oor oorverkoping en oorbespreking, is veral belangrik vir vakansiegangers. Verskaffers mag nie jou bespreking aanvaar as hy nie van plan is om die plek te lewer nie of indien die blyplek wesenlik verskil van die blyplek wat jy dink jy bespreek nie. As iets onvoorsiens gebeur en die plek is nie meer beskikbaar nie, kan die verskaffer ʼn ander plek vir jou kry van dieselfde of beter gehalte, klas of aard, of jou geld teruggee. Jy kan kies of jy die alternatiewe blyplek sal aanvaar. As die hotel dus verspoel of afbrand, kan hulle vir jou ander blyplek kry en jy kan dan kies of jy dit aanvaar.
  • Artikel 48 bepaal dat verskaffers nie onbillike, onredelike en onregverdige kontrakvoorwaardes mag gebruik nie en nie van jou mag verwag om enige regte prys te gee nie. Kontrakvoorwaardes is onbillik, onredelik en onregverdig wanneer dit uitsonderlik eensydig is tot die verskaffer se voordeel of so ongunstig teenoor jou dat dit onbillik is. ʼn Deposito van byvoorbeeld 50% wat jy verbeur, al kanselleer jy lank voor die tyd, of ʼn voorwaarde dat jy self iemand moet kry om jou kaartjie oor te neem as jy nie meer kan gaan nie, is voorbeelde van onbillike voorwaardes.
  • Artikel 49 bepaal die kennistydperk wat vereis word vir sekere voorwaardes en bepaal spesifiek enige kennisgewing of voorwaarde wat die verskaffer se risiko of aanspreeklikheid verminder, moet duidelik onder jou aandag gebring word.

Wenke

  • Maak seker alle besprekings word skriftelik gedoen. Hou alle bewyse van betaling, bevestiging van vlugte, buskaartjies en blyplek.
  • Maak ook notas van alles wat belowe word vir jou vakansie.
  • Dring aan op ʼn skriftelike kwitansie wanneer jy jou deposito betaal.
  • Die kwitansie moet ook die tye waarvoor jy bespreek het, aandui.
  • As jy twyfel oor enige beloftes wat die verskaffer maak, doen bietjie huiswerk om seker te maak daardie wonderlike uitsig of hoe naby die blyplek aan die strand is, is waar.
  • Oppas vir ʼn ooreenkoms wat jou regte as verbruiker verminder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.