Verbruikersake: Tyddeelverslag nou eers in Maart

vakansietyd

Foto: Nubia Navarro (nubikini)/Pexels.com

Verbruikers was vroeër vanjaar baie opgewonde toe die Nasionale Verbruikerskommissie reg oor die land verhore gehou het om te luister na hul klagtes oor vakansieklubs en tyddeelskemas nadat hulle al dekades lank kla oor vakansiepunte wat baie kos, maar niks werd is nie. Hulle kry nie plek bespreek op die tye wat hulle wil vakansie hou nie en jaarlikse premies is so hoog dat hulle dit nie kan bekostig nie. Die paneel, wat die verhore gehou het, se verslag sou einde vanjaar voltooi wees, maar verskeie maatskappye wat vakansieklubs en tyddeelskemas bedryf, het die proses vertraag. Ina Opperman vertel wat gebeur het.

Volgens Trevor Hattingh, woordvoerder van die kommissie, sal die verslag nou eers in Maart voltooi wees, hoofsaaklik weens vertragings wat veroorsaak is deur die maatskappye self en die Vacation Ownership Association of Southern Africa (Voasa) wat daarop aangedring het om as verteenwoordiger van sy lede op te tree, ten spyte daarvan dat die maatskappye versoek is om individuele voorleggings te doen.

“Die maatskappye moes ook spesifieke vrae oor hul sakepraktyke beantwoord wat die paneel opgestel het nadat hulle verbruikers se klagtes oor die maatskappye aangehoor het. Die meeste van hulle het egter nie voorberei nie en Voasa sou net generies op vrae kon antwoord in sy voorlegging,” het Hattingh gesê.

Die paneel was nie geneë daarmee dat Voasa die voorlegging doen nie, maar het dit later toegelaat. “Soos ons gedink het, kon Voasa nie antwoorde verskaf op bepaalde vrae nie en die paneel het die maatskappye opdrag gegee om te gaan voorberei en later terug te kom. Ander maatskappye wou weer nie in die openbaar vrae beantwoord nie en het agter geslote deure met die paneel vergader,” het hy gesê.

Die paneel het drie lede: Diane Terblanche, ʼn verbruikersprokureur, lei die paneel en Aubrey Ngcobo, ʼn eiendomsregprokureur en Zandile Mpungose, ʼn prokureur met uitgebreide ondervinding in kontrakbestuur, beleidsontwikkeling en strategie, is die ander twee lede. Hulle word bygestaan deur die kommissie se tegniese taakspan.

Ondersoek word ingestel na die aard, kenmerke en soorte vakansieklubs, tyddeelskemas en soortgelyke produkte en dienste en die grondslag waarop die bedryf se produkte en dienste bemark word, sowel as hoe en waardeur die bemarking, verhuring, verkoop, ruilings en alle ander bedryfsprodukte en dienste beskikbaar gestel word.

Die paneel moet ook bepaal wie die verskaffers in die bedryf is en wat hul onderlinge verhoudings is en ʼn inventaris saamstel van punte waarvoor produkte en dienste verskaf word. Hulle moet ook ʼn waardebepaling doen van die openbaarmakings wat verbruikers kry voordat hulle ʼn kontrak teken en ondersoek instel na die ooreenkomste wat verbruikers gewoonlik teken, deur te kyk na wie die partye in die kontrakte is, wat die onderskeie partye se regte en verpligtinge is en die toepaslike kontrakvoorwaardes.

Verder moet die paneel vasstel wat die grondslag is vir die bepaling van pryse, fooie en heffings en of voorsiening gemaak word vir konsultasie met verbruikers oor die algemene onderhoud van eiendomme in die geval van langtermynkontrakte. Die grondslag vir eienaarskap en aandeelhouerstrukture van eiendomme sal ook bepaal word.

Verbruikersklagtes oor die bemarking, verhuring, verkoop, herverkoop, omruiling en bewoning en alle ander maniere om plek te bespreek sal ook oorweeg word en die wetgewing, regulasies, beleid en gedragskodes wat regulering van die bedryf moontlik kan beïnvloed, sal geïdentifiseer word om te kyk of huidige maatreëls voldoende beskerming vir verbruikers bied.

Die paneel moet dan aanbevelings doen om die skuiwergate, ontoereikenheid en oneffektiwiteit van wetgewing, regulasies, beleid en gedragskodes te hanteer en verbruikersbeskerming te verbeter. Die kenmerke van vakansie-eienaarskap wat moontlik gereguleer moet word deur bestaande regulasies sal ook bepaal word.

Die verslag sal die grondslag vorm vir ʼn aanbeveling aan die minister van handel en nywerheid om wetgewing aan te pas.

Moenie ophou kla nie

Ten spyte van die vertragings word verbruikers steeds aangemoedig om te kla oor vakansieklubs of tyddeelskemas, het Hattingh gesê. Al is die geleentheid verby om jou klagte aan die paneel voor te lê, sal jou klagte steeds aandag geniet.

Volgens Hattingh is die kommissie bewus van die klasaksie wat oorweeg word.

Kla hier

Stuur jou klagte oor vakansieklubs of tyddeelskemas na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Punteskema houer ·

Dankie klasaksie klink na regte ding. Sal my besonderhede aan bg email stuur.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.