Verbruikerskommissie begin vakansieklubs ondersoek

tyddeel

Argieffoto

Vakansieklubs of tyddeel, het sedert sy ontstaan verbruikers warm onder die kraag omdat vakansiehou dit dikwels  nie makliker of geriefliker maak nie. Verbruikers kla dat hulle nie waarde vir hul geld kry nie en nie plek kan bespreek by plekke op tye wat hulle daar wil gaan uitspan nie. Die Nasionale Verbruikerskommissie het nou bekend gemaak dat hy ‘n onafhanklike paneel saamgestel het, wat ‘n openbare ondersoek gaan doen na die vakansieklubbedryf en voorstelle gaan maak om die kommissie te help om verbruikers se uitdagings en probleme rondom vakansieklubs op te los. Ina Opperman vertel meer.

Volgens Ebrahim Mohamed, die nasionale verbruikerskommissaris, het die kommissie nog altyd verbruikers se klagtes oor tyddeel in ‘n ernstige lig beskou na aanleiding van duisende individuele klagtes teen vakansieklubs wat oor die afgelope byna twee dekades ingedien is sedert hy by die kantoor van verbruikersbeskerming in die departement van handel en nywerheid aangestel is.

Mohamed het gesê hy dink die ergste van alles is dat die bedryf baie min of niks gedoen het om sake in die bedryf reg te stel nie, wat ’n mens sou verwag van elke bedryf wanneer mense kla oor die rolspelers se gedrag, produkte en dienste.  “Ek dink dit is walglik dat die leiers van hierdie bedryf hulle vir so lank kan blind hou vir die onophoudelike pyn en lyding van verbruikers.

“Tallose bewerings is gemaak teen rolspelers in die tyddeelbedryf, waarvan sommige baie ernstig is en lynreg bots met die bepalings van die Wet op Verbruikersbeskerming, aangesien die Wet ingestel is om by die Grondwet aan te sluit om die sosiale en ekonomiese welstand van burgers in die handelsomgewing  te waarborg en beskerm.”

Die paneel

Die paneel sal uit drie lede bestaan, met Diane Terblanche, ‘n prokureur wat uitgebreide ondervinding het in verbruikersbeskerming, aan die spits. Die ander twee lede is Aubrey Ngcobo, ook ‘n prokureur met meer as 22 jaar se ondervinding in eiendomsreg en Zandile Mpungose, ‘n prokureur met uitgebreide ondervinding in kontrakbestuur, beleidsontwikkeling en strategie.

Die kommissie se tegniese taakspan sal saam met die paneel werk om oor die volgende ses maande reg oor die land ondersoek in te stel in gesprekke met verbruikers, rolspelers in die bedryf, reguleerders, akademici, howe, tribunale en ander belanghebbendes om feite te versamel om hul verslag saam te stel.  Hulle sal vraelyste en dokumente gebruik, verhore bywoon, ondersoeke ter plaatse doen en ander aktiwiteite, indien nodig, ondersoek.

Die ondersoek

Die paneel sal ondersoek instel na die aard, kenmerke en soorte vakansieklubs, tyddeel en soortgelyke produkte en dienste wat daarmee verband hou. Hulle sal ook die grondslag bepaal waarop die bedryf se produkte en dienste bemark word en hoe en waardeur die bemarking, verhuring, verkoop, ruilings en alle ander bedryfsprodukte en dienste beskikbaar gestel word.

Verder sal die paneel ook bepaal wie die verskaffers in die bedryf is en wat hul onderlinge verhoudings is en ‘n inventaris saamstel van punte waarvoor produkte en dienste verskaf word. Hulle sal ook ‘n waardebepaling doen van die openbaarmakings wat verbruikers kry voordat hulle ‘n kontrak teken en ondersoek instel na die ooreenkomste wat verbruikers gewoonlik teken. Dit beteken hulle sal kyk na wie die partye in die kontrakte is, wat die onderskeie partye se regte en verpligtinge is en die toepaslike kontrakvoorwaardes.

Die paneel sal verder vasstel wat die grondslag is vir die bepaling van pryse, fooie en heffings en of voorsiening gemaak word vir konsultasie met verbruikers oor die algemene onderhoud van eiendomme in die geval van langtermynkontrakte. Die grondslag vir eienaarskap en aandeelhouerstrukture van eiendomme sal ook bepaal word.

Verbruikersklagtes oor die bemarking, verhuring, verkoop, herverkoop, omruiling, bewoning en alle ander maniere om plek te bespreek sal ook oorweeg word en die wetgewing, regulasies, beleid en gedragskodes wat regulering van die bedryf moontlik kan beïnvloed, sal geïdentifiseer word om te kyk of huidige maatreëls voldoende beskerming vir verbruikers bied.

Aanbevelings

Die paneel sal dan aanbevelings maak oor die verskillende opsies wat beskikbaar is om die skuiwergate, ontoereikendheid en oneffektiwiteit van wetgewing, regulasies, beleid en gedragskodes te hanteer en hoe verbruikers beter beskerm kan word. Hulle sal ook aanbeveel watter bepaalde kenmerke van vakansie-eienaarskap gereguleer moet word of oorweeg moet word vir regulering deur bestaande regulasies.

Die verslag sal, indien nodig, die grondslag vorm vir ‘n aanbeveling aan die minister van handel en nywerheid om wetgewing aan te pas.

Verbruikersklagtes

Verbruikers het onder meer gekla hulle is mislei om kontrakte vir ‘n leeftyd te teken wat dus nooit gekanselleer kan word nie, dat maatskappye verblyf oorbespreek en oorverkoop en dat die maatskappye hulle met regstappe dreig as hulle nie die heffings betaal vir plekke waar hulle nooit kan bly nie omdat dit altyd vol bespreek is.

Waar het dit begin?

Die kommissie het in 2015 ‘n aansoek gebring by die Nasionale Verbruikerstribunaal na ‘n ondersoek na drie van die groot vakansieklubs, maar dit later teruggetrek weens tegniese redes wat die saak kon benadeel. Die klubs het die kommissie met regstappe gedreig en die kommissie het besef dat dit baie duur kon raak vir belastingbetalers om voort te gaan met ‘n saak oor die uitdagings in die bedryf.

Nadat die kommissie verskeie moontlike opsies ondersoek het om verbruikers te help en beskerm, het die kommissie besluit om ‘n openbare ondersoek na die vakansie-eienaarskapbedryf te loods in terme van artikel 88(3) van die Wet binne die raamwerk van Suid-Afrikaanse en internasionale verbruikersbeskerming, wetgewing, ekonomie en struktuur van die bedryf.

Die ondersoek sal die kernoorsake van die kwessies wat verbruikers ervaar, identifiseer en bevindings maak op grond van die feite en bewyse in verbruikersklagtes wat aan die ondersoekpaneel beskikbaar gemaak word, sodat die paneel aanbevelings kan maak oor hoe om die kwessies aan te pak.

Die VF Plus het gesê die party is verheug dat die Nasionale Verbruikerskommissie nou formeel ʼn landwye ondersoek gaan doen na ongerymdhede in die vakansieklub-bedryf.

Volgens adv. Anton Alberts, die VF Plus se voorsitter en parlementêre woordvoerder oor handel en nywerheid, het die party die saak oor jare deurlopend en met groot ywer namens alle vakansieklublede voortgedryf en nooit moed opgegee nie, selfs nie in tye toe dit gelyk het of daar niks van die ondersoek gaan kom nie.

Alberts het self die aangeleentheid na parlementêre vlak gevoer en daarin geslaag om die parlementêre portefeuljekomitee oor handel en nywerheid te oortuig om daaraan aandag te skenk. Op hierdie wyse is die saak eindelik verwys na die Nasionale Verbruikerskommissie.

“Dit is belangrik dat mense wat daardeur geraak word, hul klagtes formeel by die kommissie aanmeld om te verhinder dat regstappe teen hulle ingestel word oor agterstallige geld en heffings. Tans word mense werklik geteister met regsaksies en skuldinvorderaars.

“Dit kan gedoen word deur mnr. Neels Hattingh van die VF Plus te bel by 012 772 4410, of aan hom ʼn e-pos te stuur na [email protected].

“Die VF Plus ondersoek tans, in samewerking met die Verbruikerskommissie, die moontlikheid om deur ʼn hofaansoek of met ingryping van die verbruikerstribunaal alle bestaande kontrakte ongeldig te laat verklaar terwyl die huidige ondersoek aan die gang is,” het Alberts gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Ekke ·

TE MIN – TE LAAT. Ons moes later deur ‘n prokureur werk wat R4000 gevra net om uit dit te kom. Konnie meer jaarlikse heffings bekostig nie. Behalwe nog die R20 000 wat ons verloor het van die aankoopprys destyds. Ek hoop hulle kry nou al hul hel vir eens en vir altyd!

Kiepie ·

Ek hoop hulle ondersoek ook die gebruik dat die klubs weier om die punte namens die eienaar te verkoop maar dit dan onmiddelik weer in hulle poel opneem en bemark as die eienaar uit desperaatheid maar tou opgooi en die verlies vat net om uit die ding uit te kom.

Johan Lourens ·

Voer ondersoek enduit sodat klarigheid gekry word. Ewigdurende kontrak moet onwettig verklaar word sodat ‘n persoon kan kanselleer sonder kostes/boetes. Heffings styg onbeheersd.

Piet Pompies ·

Ons het ook amper in die strik getrap, gelukkig het ons regsadvies ingewin gedurende die afkoel tydperk en kon die kontrak stop. Familie lid het wel 20 punte kontatnt gekoop teen R1000 per punt en ervaar dat hulle omtrent nooit ‘n plek kry as daar ‘n bespreking gedoen wil word. Die instansie is bereid om terug te koop teen R100 per punt.
Dit is tyd dat die instansies in die bek geruk word!

Rina Pretorius ·

ek moes my vakansiepakket waarvoor ek R30000 betaal het vir n skamele R3000 verkoop want ek kon nie meer die levies betaal het nie. As n mens die levies oor ‘n jaar bereken kon jy deur net daai geld te kon spaar ‘n lekker vakansie gehou het. Hierdie hele vakansie plan is wat my aanbetref n hele klug spul. My suster het ook so pakket waarvoor sy ook R30000 betaal het en sy kon dit nog nooit gebruik het nie. Sy sukkel nou om dit van die hand te sit want sy kan ook nie die hoe levies bekostig meer nie want sy is nou ‘n pensioenaris en die plek waar sy dit gekoop het se sy moet maar self sien ek kom klaar om dit te verkoop sy moet net sorg dat hulle daai levy geld kry dis al.

A ·

Nou kan ons maar net hoop. Ek kan nie glo ek daarvoor geval nie. Die levies is onbetaalbaar duur en dan wil hulle nie eens hulle eie punte terughê nie. En jy kry nooit, ooit plek waar en wanneer jy wil nie.

Linda Coetser ·

Dankie tog …. en hoogtyd ! Betaal elke maand R1000 en kon nog net EEN keer plek kry in al die tyd wat ek die rubbish gekoop het :( Altyd vol en … en … en ….

Desire ·

Ek kan agterkom dat almal basies dieselfde probleme het met tyddeel. Baie beloftes as jy dit koop maar geen beloeftes word deur hulle uitgeoefen nie. Levies gaan elke jaar met ‘n baie hoe bedrag op, kan teen helfte die prys vakansie gaan hou iewers anders. Het ook nooit plek as jy aanvra nie of die punte wat jy het is skielik te min. Ek hoop regtig dat daar namens ons iets gedoen gaan word aan die probleem. Baie dankie.

Kobus van Rensburg ·

Ek het n 10 jaar kontrak gekoop vir R18000 van TVG klub. Ek het nie n probleem met besprekings ens. nie maar ek voel net dat die leve is te hoog en word met teveel vehoog elke jaar

Henry ·

Stop my in die parkeerarea van n winkelsentrum. Het defnitief n prys gewen, ek moet net n sekere tyd n aanbieding bywoon. Toe die aanbieding verby is en ons nie belang stel nie toe is dit weer n ander storie, Dankie tog ek het nie gebyt nie……………..

Anton ·

…hou op kla…ons almal het willens en wetens die punte gekoop…die heffings is hoog…die punte se waarde word minder…ons het ook gesukkel om plek te kry…maar ons oplossing was: om lank voor die tyd te bespreek…gewag vir hul midweek of week “specials”…hier het ons goeie waarde vir ons punte gekry…ons sien dit as n spaarplan vir n vakansie…die “specials” midweke en weke wat ons al vir min punte gekry het was meer werd as die punte wat ons gekry het…n voorstel bestuur jou punte…moenie dat jou punte jou bestuur nie…kyk na die “specials” daar is baie…nie noodwendig waar jy wil wees nie…glo my jy sal partykeer wil terug gaan daar waar jy nie wou gewees het nie…ons geniet ons punte en gaan tot 3-4 keer per jaar op midweek “specials” sommer naby aan ons…dit moet jou nie duisende rande aan brandstof kos nie…

Clary Naude ·

Die meeste van ons is nie so gelukkig om van die spesiale aanbiedinge gebruik te maak nie weens werkverpligtinge asook skoolkwartale.

Om byna ‘n jaar vooruit te bespreek is ook nie wenslik nie as jy bv. ‘n boerdery het met ongelooflik baie veranderlikes wat jou vakansietyd in ‘n oomblik kan verander. Onmoontlik om ‘n jaar vooruit jou vakansie te bespreek.

Antoinette ·

Ons het ook in dieselfde gat getrap. My man is werkloos en ons kan ook nie meer die heffing bekostig nie. Ons gebruik nie meer die punte nie en wil dit net vir hulle teruggee en van die heffing ontslae raak – Ons sukkel al ‘n jaar daarmee. Elke nou en dan vra hulle addisionele dokumente en Affidavits – net om tyd te mors. By wie kan ons ons saak voorlê om finaliteit te kry? Hulp sal waardeer word.

Ice ·

Skelm besigheid – ons het 18 jaar terug R6 000 betaal vir so iets – net om op die einde van dei dag nooit te gaan nie en ‘n paar maande na ons die bedrag betaal het, het hulle kamstig bankrot gespeel en toe wysig die reels ewe skielik en daar is bybetalings – een groot loss

Ben ·

Stem saam, Super Skelms, Moes destyds R 20.000 deposito betaal want ons koop kamstig eiendom. Sou dit later kon verkoop het. ‘n “Investment”. Na 20 jaar en al die paaiemente met “Levys” en al to verkoop hulle die Vakansie Plaas. Ons het nie ‘n Sent gekry nie. Het Probeer om dit te verkoop toe ons agterkom wat aan die gang is, kon toe nie. Het probeer om kontrak te laat kanseleer kon toe ook nie. Hierdie mense is erger as die Zuma en Guptas saam…

Gert ·

Ek het ook punte gekoop jare gelede en nog nooit n dag spyt gewees nie. Ja, die jaarlikse heffings word nou nogal baie maar ons het regtig al op plekke vakansie gehou waar ons dit nooit sou kon bekostig nie. Ek bespreek reeds hierdie jaar my vakansie vir ‘n vol week vir die volgende jaar en die res van die jaar kyk waar is plek naby ons vir naweek wegbreke en spesiale aanbieding. Al moet ek myne nou verniet weggee het ek al meer waarde daaruit gehad as wat ek bataal het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.