Verken Switserland per trein, boot en bus

Argieffoto (Foto: hpgruesen, Pixabay)

Daar is baie goed waarvoor Switserland bekend is. Sjokolade, horlosies, kaas, die Alpe, kwaliteit messe. Noem dit maar op.

Hulle vermoë om jou van punt A tot punt B te kry, kan egter gerus by die lysie gevoeg word.

Die treinspoornetwerk bestaan uit 24 500 kilometer spoorlyn en sluit 2 600 stasies in. Volgens Eurorail is daar elke dag ongeveer 9 000 treine onderweg êrens heen en 291 000 sitplekke (soveel mense soos die hele populasie van Ysland) is beskikbaar om op te reis enige gegewe oomblik in Switserland.

Een van die gewildste roetes is natuurlik tussen Suid- en Noord-Europa waar mens oor die asemrowende Alpe ry.

Meeste Europeërs besef die waarde om eerder per trein te reis, of dit nou vir werk of plesier is. Die tyd spandeer om vanaf een plek na die ander te kom, kan benut word in produktiwiteit deur te werk of selfs op te vang op leeswerk en kuier. Die gemiddelde Switser onderneem sowat 47 treinritte per jaar, wat gelykstaande is aan 2 103 kilometers (ʼn wêreldrekord).

Een van die grootste voordele van die goeie treinstelsel van die Switsers is dat hulle basies altyd tot op die minuut betyds is en daarom kan jy jou vakansieplanne amper volgens die minuut beplan as jy sou wou.

Die ekstra tye wat geïnkorporeer moet word vir vlugtye, indien mens eerder van ʼn vliegtuig gebruik wil maak, kan uiteindelik ʼn groot deel van jou kosbare vakansietyd steel. Treinstasies is gewoonlik sentraal geleë en daar is geen inboektyd daaraan verbonde nie.

Argieffoto (Foto: fxxu, Pixabay)

Nog ʼn voordeel van ʼn treinrit is dat jy nie vasgekluister is aan jou sitplek soos meestal in ʼn vliegtuig die geval is nie. Daar is restaurantwaens waar jy ʼn drankie kan gaan geniet of selfs middag- en/of aandete. Die beenspasie is natuurlik ook baie meer of jy jou in ʼn kompartement of in een van die passasierswaens bevind. Die kersie op die koek is die asemrowende natuurskoon van die land wat mens kan geniet te midde van hierdie gemak.

Eurorail en Switserland het nou koppe bymekaar gesit deur ʼn spesiale treinpas te skep wat jou toegang gee tot treinritte, sekere boot- en busritte met net een kaartjie. Die Switserse-reispas (Swiss Travel Pass) gee mens die geleentheid om enige van die treinroetes in Switserland te geniet – verniet of teen afslagpryse. Jou keuse sal wees tussen 3, 4, 8 of 15 dae (aaneenlopend).

ʼn Bonus vir gesinne is dat kinders onder 16 jaar verniet reis saam met elke ouer wat ʼn pas gekoop het.

Hoekom moet jy as reisiger die spesifieke pas kies?

Switserse-reispas

Dit gee jou toegang tot enige publieke vervoer in 90 stede of dorpe – trein, bus en boot. Ook tot enige panoramiese treinritte; 50% afslag op vele spesiale treinekskursies in die land, onder andere die skokolade- of kaastreine, Glacier Express, Tops of Switzerland en nog vele meer; gratis toegang tot bergekskursies soos Pilatus, Rigi en Schynige Platte en as jy dit reeds bespreek het in Suid-Afrika, gratis toegang tot meer as 500 museums.

Dit kan selfs ʼn geleentheid wees om meer skidorpies te gaan ontdek, indien jy lus is vir ʼn skivakansie in die Switserse Alpe. Om mense met skis in die hand te sien op die treine tussen die dorpies is nie iets vreemds nie en gee jou soveel meer vryheid om nuwe ski-hange te gaan verken.

Gaan reis gerus soos die plaaslike mense wanneer jy in Switserland gaan kuier met hierdie nuwe slim idee waarmee die Switsers weereens die res van die wêreld voorgespring het.

* Vra gerus jou reisagent vir meer inligting oor die Swiss Travel Pass.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Denise ·

Dit klink baie opwindend ek soek nou net iemand wat kan betaal vir die vakansie want Switserland is nie goedkoop nie en ek kan doen met n wegbreek!!!! Intussen sal ek maar net droom en my verlustig aan die mooi plekke waar mens kan reis!!!!

Theresa ·

Droommooi! Betyds, skoon, gerieflik, hoor nie eens van misdaad nie, fantastiese natuurskoon – ‘n moetdoen al vat dit hoe lank om die geldjie te spaar.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.